Helpende Hand gryp in ná likwidasie van myn talle werkloos laat

Argieffoto

Argieffoto

Solidariteit Helpende Hand het hierdie week begin om noodleniging in die omliggende area van die Consolidated Murchison-myn naby Phalaborwa in Limpopo te bied. Talle gesinne is in finansiële nood gedompel nadat die myn onlangs gelikwideer is.

Volgens Quintus Sliep, Solidariteit se organiseerder in Lydenburg, is alle produksie en bedrywighede by die myn gestaak en alle werknemers se dienskontrakte opgeskort. “Die myn kon nie sy finansiële verpligtinge nakom nie en het in Desember 2014 om besigheidsredding aansoek gedoen. Die besigheidsreddingpraktisyn kon egter nie daarin slaag om die myn te red nie en moes noodgedwonge ʼn aansoek om voorlopige likwidasie indien,” het hy gesê.

Sliep het gesê die werknemers van die myn het sedert 10 Februarie geen inkomste verdien nie en dat dit hoogs waarskynlik is dat hul dienskontrakte binne die volgende 45 dae finaal beëindig sal word. Volgens Sliep kan die likwidasieproses tot 24 maande duur.

“Ons sien hier ’n soortgelyke situasie as die rampspoedige platinumstaking verlede jaar in Rustenburg. Onskuldige werkers is aan die myn se produksiestaking uitgelewer,” het Riaan du Plooy, Helpende Hand se adjunk uitvoerende hoof van nasionale strukture, gesê. “Die mense wat in hierdie area woon en afhanklik is van die myn om ’n inkomste te verdien, het geen ekstra spaargeld om ’n paar maande se verlies aan salaris aan te vul nie. Nou dat hulle geen inkomste verdien nie, is daar nie geld vir basiese lewensmiddele soos kos en sanitêre ware nie.”

Helpende Hand het reeds R20 000 bewillig wat dadelik deur die plaaslike tak gebruik sal word om voedsel en ander lewensmiddele vir gesinne in die area aan te koop en te versprei. Verder sal die organisasie persone wat deur die myn se likwidasie werkloos gelaat is, help om hul CV’s op te stel of by te werk en om deur Helpende Hand se aanlyn werksoekportaal werk te soek. Helpende Hand sal ook emosionele en skuldberading fasiliteer vir mense in die area wat dit benodig.

“Ons doen ʼn beroep op die publiek om ons by te staan om hierdie gesinne in dié moeilike tyd te ondersteun,” het Du Plooy gesê. “Enige skenkings en finansiële donasies is welkom. In sulke tye is dit die krag van ʼn hele gemeenskap wat dit vir diegene wat swaarkry moontlik maak om weer op hul voete te kom.”

Vir meer inligting rakende skenkings kan die Helpende Hand-streekorganiseerder in Limpopo, Marianthie van der Walt, by 082 741 7858 geskakel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Allet ·

Ek hoop net hierdie keer word daar meer beheer toegepas en dat dit onder die regte mense versprei word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.