Dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, en sy gesin was Vrydagoggend in ’n ernstige motorongeluk betrokke.
Dr. Dirk Hermann, voorsitter van die direksie van Solidariteit Helpende Hand en bestuurshoof van Solidariteit, het namens die Solidariteit Beweging en Solidariteit Helpende Hand meelewing betoon met Brink en sy gesin.
Brink en twee van sy kinders het slegs ligte beserings opgedoen terwyl sy vrou en een seun in die hospitaal op Welkom opgeneem is vir behandeling. Die familie het bevestig dat twee van die egpaar se kinders dood is. Die Brink-gesin was op pad om by hul familie aan te sluit vir hul Kersvakansie en het beplan om op Theunissen oor te slaap.
Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die ongeluk het omstreeks 9:00 buite Theunissen plaasgevind. Die motor het glo die pad verlaat en verskeie kere gerol voordat dit in die veld langs die pad tot stilstand gekom het. Volgens Botha is twee mense op die toneel dood verklaar, twee mense ernstig beseer en drie mense lig beseer in die ongeluk. Dit is nog nie duidelik wat die ongeluk veroorsaak het nie.
“Ons is almal geskok en bid dat die Here die gesin en familie in sy troos sal omvou,” het Hermann gesê.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
54 Kommentare
Dit is ‘n groot skok en tragedie vir ons. Baie sterkte en genade vir julle Danie. Ons almal op Orania bid vir julle.
Sjoe. dis tragies.
So bitter hartseer….en hierdie tyd van die jaar. Bid en dink aan hulle…….
Jammer oor julle groot verlies. Mag die Hoer Hand julle vertroos in julle hartseer en pyn.
Innige meegevoel met julle. Mag die Here jul vertroos, herstel en deur hierdie moeilike tyd dra. Sterkte vir julle.