Helpende Hand wil armoede met finansiële vernuf verbreek

hh-verbreek-armoede-paneel

Die paneel van Vrydag se #VerbreekArmoede-veldtog is van links: Lucas Coetsee, Hannes Noëth, Ronel Jooste en Ernst Vorster. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Solidariteit Helpende Hand het Vrydag sy #VerbreekArmoede-veldtog bekendgestel om armoede met finansiële kundigheid hok te slaan.

Hannes Noëth, besturende direkteur van Helpende Hand, het tydens ’n mediakonferensie in Centurion gesê dié welsynsorganisasie se hoofdoel is om armoede te verlig, te verbreek en te voorkom.

“Die rentevrye studielenings wat Helpende Hand se studiefonds jaarliks verskaf aan behoeftige studente wat verder wil studeer maar nie finansieel daartoe in staat is nie, beloop tans R38 miljoen en dra by tot die voorkoming van armoede.”

Volgens Noëth bestuur Helpende Hand se nagenoeg 160 takke landwyd deurlopend verskeie projekte om armoede te verlig. “Tog is dit noodsaaklik dat Helpende Hand ook die kwessie van verbreking van armoede daadwerklik takel. Vir dié rede het Helpende Hand hande gevat met twee finansiële ghoeroes, Ronel Jooste en Lukas Coetsee, om met die hulp van hul kennis armoede te verbreek,” het hy gesê.

Jooste is ’n CA(SA), finansiële konsultant, spreker en outeur. Sy gaan mense onder meer touwys maak oor finansies en hulle ook help om behoorlik te begroot.

“Ons almal probeer om armoede te verlig deur kos, klere en verblyf te verskaf, maar die vraag is doen ons regtig iets aan die onderliggende probleem. Ons maak daardie persoon se situasie ʼn bietjie beter, maar ons moet soms dieper delf en vra hoe kry ons daardie persoon heeltemal uit daardie situasie. Hoe help ons daardie persoon om self ’n bord kos te kan bekostig?”

Jooste meen een van die grootste oorsake van armoede ’n gebrek aan finansiële kennis.

“Ons leer nie van finansies op skool, universiteit of by ons ouers nie. Dit is waaraan ons met dié veldtog vanjaar wil aandag gee. Ons wil mense toerus met die nodige kennis om hul geld beter te bestuur en om beter finansiële besluite te neem.”

“My boek Financially Fit and Wealthy is pas gepubliseer. Saam met Helpende Hand gaan ons vanjaar ’n Geldfiks-gids, wat op my boek geskoei is, aan gemeenskappe landwyd versprei. Ons wil mense toerus met iets tasbaars wat hulle huis toe kan vat en gereeld na kan terugverwys wanneer hulle finansiële besluite moet maak. Ek tree gereeld op as spreker en met behulp van opleiding, die geldgids en aanlyn kursusse wil ons ’n daadwerklike verskil maak in arm gemeenskappe en só ook die middelklas bemagtig,” het sy bygevoeg.

Coetsee is die besturende direkteur van Entrepreneurs Wizard wat entrepreneurskap in Suid-Afrika bevorder en aanmoedig. Hy help opkomende entrepreneurs met die ontwikkeling van idees, die implementering daarvan en ondersteuning.

“Entrepreneurs Wizard gaan in samewerking met Helpende Hand twee kursusse aanbied vir opkomende entrepreneurs, wat hulle aanlyn kan voltooi. Die een kursus is gemik op toetreders tot die mark wat ’n klein onderneming wil begin met beperkte kapitaal, en die ander ’n meer gevorderde kursus vir die bou van ’n intensiewe besigheid – hopelik iets wat in ’n latere stadium op die aandelebeurs gelys kan word, plaaslik en in ander lande. Laasgenoemde is ideaal vir ’n jong mens wat onseker is wat om te studeer of ’n afgestudeerde persoon met blink planne vir sake,” het Coetsee gesê.

Coetsee het verduidelik die klem van hierdie kursusse is op die praktiese en unieke Suid-Afrikaanse konteks. Vir Helpende Hand studente word die kursus ook in Afrikaans aangebied. Die kort kursus duur 14 weke en die omvattende kursus 34 weke. Die kort kursus kos R3 000 en die lang kursus kos R20 000.

Noëth het gesê Helpende Hand gaan eersdaags ’n Entrepreneursfonds van stapel stuur, om soortgelyk soos Helpende Hand se Studiefonds, aspirant entrepreneurs met geld by te staan sou hulle die kursusse wou doen, maar nie finansieel daartoe in staat is nie.

Borge wat dié poging wil ondersteun kan meer inligting op www.helpendehand.co.za kry. ’n Kompetisie word ook eersdaags gehou om nege entrepreneurs te kies wat die kursusse gratis kan voltooi.

Ná afloop van die studies word ’n student ook bygestaan met die vestiging van ’n sakeonderneming en die begeleiding wat daarvoor nodig is.

“Die waarde van hierdie soort kennis en kundigheid is onskatbaar en word as ewigheidsleer gesien. As ons een persoon kan help, help ons inderwaarheid ’n hele gemeenskap,” het Coetsee bygevoeg.

Volgens Noëth is Helpende Hand se bedoeling met hierdie veldtog om mense te leer werk met wat hulle het en om hulle te leer om wat hulle het, te ontwikkel.

“Eenvoudiger gestel wil ons ons mense leer om rentmeesters (bestuurders) te wees van wat ons het en wat ons kan bereik. Ons hoop is dat hierdie veldtog, wat deur al ons takke in al die streke uitgevoer gaan word, stukkie vir stukkie ’n wesenlike verskil in die land kan maak,” het Noëth afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Riena ·

Ja, ek stem hiermee saam! Ons is in so `n penarie van mense wat nie meer kinders kan of wil kry nie dat ons binnekort te min gaan wees vir `n ekonomiese eenheid. En vir wie gaan ons ons volksgeskiedenis en kultuur oordra? Ons laerskole het reeds kritiese lae getalle.
Beleggingsadvies moet altyd die belegging in kinders insluit

Nettie ·

@AW – ek stem saam. Doeriejare, toe ek gaan studeer het, moes my ouers maar uitvurk en sien, kom klaar. Daar was nie hulpfondse soos hierdie en NSFAS nie. As jy nie kon betaal nie, kon jy nie gaan “swot” het nie – dan moes jy maar uitspring en jou eie potjie loop krap het.

Vandag kry kinders kinders. Reguit gesê: om staatstoelae vir daai kind te kry. Tot hulle 18 is, kry “behoeftiges” se kinders staatstoelae en dan kan hulle nog met studie-hulp gaan verder swot ook? Lyk my SA het ‘n “free for all” land geraak.

Thinus Erasmus ·

In ons klein dorpie het ‘n groot besigheid wat baie jare al bestaan, sopas bankrot gegaan.
Wat ons nou nodig het, is ‘n organisie wat weer soos na die ABO die Afrikaner se belange bevorder en beskerm.
Dit is nie goed vir die samelewing as elke suksesvolle besigheid net een of paar mense ryk maak en die res verarm nie. Die rykdom moet help om die man op straat te bemagtig, nie aalmoese uitdeel nie.
Daar moet in opleiding EN finasiering, asook koopkrag bele word. So ‘n organisasie moet daadwerklik idees in besigheid omskakel – inisiatief met kennis aanvul en help voorkom dat besighede toemaak, of deur die regering of ander geboelie word.
As ek na die bg. pryse kyk, lyk dit of bestaande (nuwe) organisasies vir of deur die Afrikaner net op winsbejag gebaseer is. Ek neem bv. die kostes van ‘n kuses van minder as een jaar by Soltek, dit is meer as universiteitskurses van paar jaar.
Dis een ding om te beweer jy het die oplossing vir armoede en werkloosheid, maar dan vra jy ‘n onbesonne prys daarvoor?

Fanie (Sol-Tech oudstudent) ·

Thinus, Sol-Tech is ‘n Maatskappy sonder winsoogmerk. Hul kry geen staatsinkomste nie, en tegniese opleiding kos sowat 3 keer meer as teoretiese opleiding. Maar, jy verdien jou studiegeld binne 6 maande terug in vorm van salaris, en die res van jou lewe kry jy dus die opbrengs op jou (ou jou ouers) belegging in jouself! Daarby moet jy onthou dat Solidariteit boonop die kapitaalkostes betaal, ons studente betaal net die bedryfskostes. Jy kan Soltech nie vergelyk met gesubsidueerde Staatsuniversiteite nie. Ons Ambagsmanne begin buitendien met hoër salarisse, en kry gouer werk as hulle.

jaco ·

Ten minste laat Soltech nog wit studente toe. Universiteite wat aan die staat behoort, keur wit aansoekers af NET omdat hulle wit is en dus die “verkeerde” velkleur het.

Sophia ·

Kan julle nie asseblief vir ons ‘n kursus aanbied oor hoe presies mens te werk gaan om tot die Forex mark toe te tree nie, of dan te wel aanlyn te ‘trade’ nie. Die kursusse wat mens wel kry word teen ‘n groot koste aangebied en mense het nie die kapitaal om dit dan eerstens by te woon nie, en tweedens te begin met ‘n baie klein bedraggie.

SjN ·

Sophia, vergeet daarvan, daar is nie n vinnige manier om geld te maak nie, as dit so was het almal dit gedoen, onthou as jy trade en R10 wins maak moet iemand anders dit verloor. Hoe groter die opbrengs hoe groter die risiko.

wet ·

Sjn. Dit klink reg om te se iemand moet verloor om wins te maak maar ek dink dis nie regtig die geval nie. Ek’t ook altyd so gedink. Dis baie meer kompleks as een sinnetjie wat iemand uitgedink het om die mark dinamieka te verduidelik.

lewies ·

Prysenswaardige poging, dankie vir julle organisasie. As ‘n mens die ouens so langs die strate sien staan, wonder jy of daar nie ook ‘n behoefte is aan geestelike rehabilitasie nie. Om mense se selfwaarde te herstel is ‘n noodsaaklike fase in die herstel van die wat hoop verloor het. Ons het meer rehabilitasiesentrums nodig vir die brugfase in die opheffing en herstel. Moontlik is daar reeds so iets. Dit lyk of hierdie ouens elke dag net meer word.

Hannes noeth ·

Heeltemal reg, geestelikke armoede is net so n groot uitdaging, ook kulturele armoede, ook fisiese armoede

Jerry ·

Dit lyk of julle nou die regte pad begin loop. As dit die geval gaan wees dan behoort minder kospakkies uitgedeel te word. Ons sal maar duim vashou!

John ·

Ons wil ‘n ernstige beroep op Afrikaners doen om nie die ellende en angs van Afrikaners te gebruik om daaruit ryk te word nie. As iemand niks het nie, hoe op aarde gaan hy sy kosgeld uithaal vir ‘n lesing/kursus of boek. Nee mense… of help ons net ons verstes verniet?

Hannes noeth ·

Baie goeie punt John, juis daarom n geloofwaardige fonds wat bestuuur en reguleer word sodat n besigheid nie net begin nie maar ook ondersteun word. Seker te maak met kennis word vaardighede en kennis verbeter. Die punt is, ook in entrepeneursvaardighede moet ons verantwoordelikheid neem vir mekaar. Dankie vir n goeie punt

Juffrou ·

Ek dink dis n briljante idee! Baie dankie by voorbaat hiervoor. Ek bemerk egter ook n ander “mark” , naamlik om kinders (So 12 jaar en ouer) met n meer kindgerigte kursus te bemagtig. Ja, ek het self al EBW aangebied. Dis eenvoudig net nie voldoende nie. Dit is een van my drome om ons jong kinders te help om hul entrepreneursvaardighede te ontdek en te ontwikkel.

Hannes noeth ·

Baie goeie voorstel! Baie dankie! Gaan werk maar hiervan

Alida ·

Uitekende voorstel. Dit sal harde dinkwerk en vernuf kos om n begroting met R1750 te laat klop synde die staatspensioen.

Digitale besigheid ·

Dankie vir die goeie inisiatief. Ek hoop die kursus le veral ook klem op digitale besigheid want dit kan ons bevry van die ingeperkte SA ekonomie en onderdrukkende regulasies.

marco polo ·

Uitstekende geldmaak idee, bied kursusse aan oor hoe om geld te maak en te spaar! Geen risiko en julle sal baie wanhopiges daarmee vang.

Eddie ·

Goeie idee , maar begin daarmee op alle vlakke van die skool loopbaan !

Wees Wêreldkompeteerbaar Wildevark ·

Leer die mens om self daagliks ‘n vis te kan vang, MAAR leer hom ook om die visdam te vergroot om ook meer vis te kan vang en na die buiteland uit te voer ter verkryging van buitelandse valuta vir ‘n beter toekoms vry van die armoede-slagyster.
Verder: Google en bestudeer die Baldrige Excellence Framework for Performance Excellence om wêreldkompeteerbaar te word.
Laastens: Kom ons leer by vasteland China oor die uiterste belangrikheid om waardetoevoegingkettings vir uitvoere te vestig en daardeur werksgeleenthede te skep.

Yvette Boshoff ·

Dis nie heeltemal waar dat kinders nie op skool van finansies leer nie. Die sillabusse van Wiskundige geletterdheid, Rekeningkunde en Besigheidstudies gee onder andere hieraan aandag. Ek glo Lewensoriëntering ook.

Juffrou ·

Stem saam Yvette, maar “leer van” finansies en praktiese begeleiding tov entrepreneurskap is nie dieselfde nie.

Wonder net ·

Mens kan maar net wonder waarom die skool se kurrikulum nie die verwagte “opbrengs” tov entrepreneurskap lewer nie. Ek wonder hoeveel jong entrepreneurs terugvoer kan gee en sê wat hulle op skool geleer het wat van waarde was?

Driekie ·

Huis Davidtz het dringend kos en hulp nodig. Die berig in die Beeld skep nie die ware prentjie nie. Die oumense het nie meer kos nie en het baie dringend hulp nodig, ASSEBLIEF gaan stel self ondersoek in.

nabetragting ·

Om die fisiese armoede te oorkom moet die geestelike armoede eers beredder word.

Ek is daarvan oortuig dat Helpende Hand hierdie prosesse gelyklopend laat plaasvind.
Om rentmeesters te wees vra integriteit ook wat jou bestuurstyl aanbetref.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.