Hengelaar glo van rotse geslaan

Argieffoto: https://pixabay.com

ʼn Hengelaar word vermis nadat hy vermoedelik Saterdag van die rotse af geslaan is by ʼn afgeleë visvangplek naby Wildernis aan die Suid-Kaapse kus.

Mike Vonk van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het gesê die NSRI se Wildernis-bemanning, die Wes-Kaapse nooddienste en die polisie is Saterdag omstreeks 18:20 na die toneel ontbied. Daar is aangemeld dat ʼn hengelaar gesien is waar hy in die water dryf by ʼn afgeleë plek oos van die Gwaing-riviermond.

“Ander hengelaars vermoed die 49-jarige man het vanaf die rotse op die kuslyn visgevang toe hy deur golwe van die rotse af geslaan is. Niemand het gesien dat die man van die rotse af geslaan word nie, maar hy is gesien waar hy in die water dryf,” het Vonk gesê.

Met owerhede se aankoms op die toneel het hulle na die man begin soek, maar die soektog is deur die donker, steil hellings en ʼn moeilik toeganklike ligging belemmer. Die soektog het niks opgelewer nie.

Volgens Vonk het die soektog vanoggend met sonsopkoms hervat en word daar al langs die kuslyn ook gesoek. ʼn NSRI-seereddingsboot is ook besig om die see in die gebied te fynkam, terwyl die polisie se duikeenheid ook aan die soektog deelneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.