Hengelaar kom op lyk in plaasdam af

Argieffoto: Phillip Bruwer

ʼn Inwoner van Kruitfontein in die Magaliesburg-omgewing aan die Wes-Rand het op ʼn liggaam afgekom toe hy gaan visvang het.

Kapt. Appel Ernst, polisiewoordvoerder, het gesê beamptes van die Magaliesburg-polisie is Sondag omstreeks 15:00 na ʼn plaasdam in die omgewing ontbied.

“ʼn Plaaslike inwoner het by die dam stilgehou om daar vis te vang toe hy opgemerk het iets dryf in die water. Hy het nader gegaan om ondersoek in te stel en vasgestel dit is ʼn liggaam,” het Ernst gesê.

Polisieduikers en beamptes van die polisie se soek-en-reddingseenheid is ook na die toneel ontbied om die liggaam uit die water te haal.

“Die liggaam is dié van ʼn vrou tussen die ouderdom van 25 en 40 jaar. Sy is donker van gelaat en het geen identifikasie aan haar gehad nie. Bewyse wat op die toneel gevind is dui daarop dat sy wreed vermoor is.”

Die Magaliesburg-polisie ondersoek ʼn saak van moord.

Die polisie het ʼn beroep gedoen op enigiemand wat weet wie die vrou dalk mag wees om hulle by 014 577 5106/5115 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.