Hengelaar sterf toe hy van rotse val

Argieffoto: https://pixabay.com

ʼn Hengelaar van Port Elizabeth is dood nadat hy Saterdag in ʼn sloep beland het terwyl hy besig was om van die rotse naby Noordhoek vis te vang.

Die Nasionale Seereddingsinstituut sê in ʼn verklaring sy bemanning in Port Elizabeth het omstreeks 11:00 ʼn noodoproep ontvang dat ʼn visserman by Lookout naby Noordhoek in die water tussen die rotse beland het.

Ian Gray, die plaaslike NSRI-stasiebevelvoerder, sê die NSRI, provinsiale nooddienste en die Nelson Mandelabaai-waterreddingsnetwerk het na die toneel gehaas. “Twee mans was besig om vanaf die rotse vis te vang toe een van hulle in die water tussen die rotse ingeval het. Daar word vermoed hy het geval weens mediese redes,” sê Gray.

“Die NSRI-beamptes het by hul aankoms die man uit ʼn rotspoel uitgehaal en mond-tot-mond-asemhaling toegepas totdat paramedici arriveer en gevorderde resussitasiepogings kon aanwend. Die man kon ongelukkig nie weer bygebring word nie en hy is dood verklaar.”

Gray sê die man was glo 55 jaar oud.

ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Medehengelaar ·

Dis tragies.
Dis ons pasie.
Dis ons weg breek en ontspanning.

Sterkte aan die geliefdes en vriende.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.