Hennenman-plaasmoord: Twee dán weer in hof

Die kruis wat vir Eddie en Pieter opgerig is (Foto: Vrystaat Landbou, Twitter)

Die twee verdagtes wat tereg staan vir die moord op Pieter Hills (56) en sy seun Eddie (26) het Maandag in die Hennenman-landdroshof in die Vrystaat verskyn.

Tshidiso Patrick Bochedi (36) en Mojalefa Modise (38) het besluit om nie om borgtog aansoek te doen nie.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat hulle in aanhouding sal bly tot en met hul volgende hofverskyning op 9 Desember. Bochedi en Modise word van moord, sameswering om te moor, roof en roof met verswarende omstandighede aangekla.

“Hulle word ook aan ’n afsonderlike saak van veediefstal verbind waarvoor hulle weer op 20 November in die hof sal verskyn,” sê Makhele.

Sowat 500 boere en lede van die gemeenskap het Maandagoggend in ’n oop stuk veld ongeveer 500 meter van die landdroshof byeengekom. Die Goudveld-distrik in die Vrystaat het die afgelope paar weke onder ’n aantal plaasaanvalle en -moorde deurgeloop.

Die saamtrek, onder leiding van Vrystaat Landbou (VL), is gereël met die doel om medelye aan Pieter en Eddie se familie te betoon en om ook te eis dat borgtog nie aan die verdagtes toegestaan word nie.

Daar is ’n kranslegging gehou waar gemeenskapslede, familie, medeboere en vriende van die oorledenes blomme kon neerlê. ’n Wit kruis met ’n foto van Pieter en Eddie is opgerig waar die skare byeengekom het.

Eddie (links) saam met sy ouers, Pieter en Antionette (Foto: Verskaf)

Die Onse Vader is aan die einde van die verrigtinge gesing. “Ons het vanoggend byeengekom nie om politiek te praat, dreigemente te maak, of oproer te veroorsaak nie. Ons is vandag hier om saam met die Hills-familie te treur,” het Tommie Esterhuyse, die vise-voorsitter van die VL, tydens die saamtrek gesê.

“Elke boer en elke plaaswerker weet dat hulle mekaar nodig het. Die stad het die plaasboer en die plaaswerker nodig. Ons kan nie een sonder die ander in hierdie land oorleef nie. Daarom sê ons vandag, genoeg is genoeg. Al voel ons soms vuisvoos, laat ons nie mismoedig raak nie. Laat ons opstaan en voort baklei vir ’n regmatige plek in hierdie land vir elke boer, elke plaaswerker en elke landsburger.”

Esterhuyse het na die saamtrek aan Maroela Media gesê dat die optog vreedsaam verloop het. Hy sê hierdie vreedsame bewusmakingsveldtog moet dien as ʼn voorbeeld van samewerking vir die res van die land.

“Ons is nie hier om te plunder nie, maar om saam te staan en ons medelye te betoon en terselfde tyd ook om uiting te gee aan ons hartseer en woede. Ons is kwaad oor al die boere wat al gesneuwel het.”

Tommie Esterhuyse aan die woord (Foto: Vrystaat Landbou, Twitter)

Hy sê hulle wil met hierdie tipe optogte volhard in die toekoms totdat die regering gehoor aan hul oproepe gee.

Esterhuyse sê die VL staan op gereedheidsbasis om getuienis aan die hof beskikbaar te stel dat wanneer die beskuldigdes dalk in ʼn latere stadium om borgtog aansoek wil doen, hulle dit gaan opponeer.

“Al het hulle nie nou om borgtog aansoek gedoen nie, verwag ons dat hulle dalk in ʼn latere stadium gaan, maar dan is ons gereed om dit teen te staan.”

Dié vereniging het statistieke en ʼn versoekskrif, onderteken deur die VL, gereed om aan die hof te oorhandig indien die beskuldigdes besluit het om wel om borgtog aansoek te doen.

Aanvanklik is vier verdagtes in verband met dié plaasmoord in hegtenis geneem. Een verdagte is verlede week vrygelaat nadat sy nie positief met die misdaad verbind kon word nie.

’n Ander verdagte is verlede Saterdag vroegoggend dood in ʼn polisiesel gevind nadat hy homself gehang het. “Die ondersoek duur voort en nog inhegtenisnemings kan verwag word.”

Pieter is op 6 November op hul plaas by Hennenman op teregstellingswyse doodgeskiet en Eddie (26) is in die nek geskiet nadat hulle in hul plaashuis aangeval is. Eddie is die Woensdag daarna oorlede nadat hy die Maandag in die Milpark-hospitaal in Johannesburg breindood verklaar is.

Maroela Media het vroeër berig ʼn werker van die Hills-gesin het op 6 November omstreeks 05:00 op Pieter en Eddie in die plaashuis afgekom nadat Pieter se vrou, Antionette, haar gebel en gevra het om ondersoek in te stel. Sy was nie tuis ten tyde van die aanval nie en kon hulle nie in die hande kry nie waarna sy die werker genader het.

Eddie het glo op die aanval afgekom toe hy by die huis op hul plaas Zwartpan aangekom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Phil ·

Dankie vir die mooi vreedsame byeenkoms, ek dink die VL is reg met die troefkaart as hul wil aansoek doen vir borgtog.

Maggies ·

Hulle beter nie aansoek doen vir borg nie. VL julle is staatmakers.

Dollatjie ·

Genoeg is genoeg? Regtig.? Dit is al jaaaaaaaaaaaaare lank GENOEG! Wie gaan dit gestop kry en hoe as alles “vreedsaam” moet geskied en die regstelsel te korrup is om moordenaars tot verantwoording te bring? Hoeveel keer is die woorde GENOEG al gesien op plakate wanneer vreedsaam byeengekom word….lyk nie asof dit enigsens n effek het of help nie. Hulle lag vir ons. Sal moet n daadwerklike manier vind om impak te maak. So jammer vir die familie. Ons harte is saam met julle seer.

katerinadiekat ·

Soos iemand anders ook al hier op Maroela voorgestel het, boere moet weier om mieliemeel te verskaf. Wanneer dit onverkrygbaar word, sal sekere mense miskien wakker skrik.

Regverdigheid ·

Boere se lewe maak saak wie voorsien kos aan land ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.