Hennie Smit ernstig siek in hospitaal

Hennie Smit as Dêda. Foto: Verkaf

Hennie Smit as Dêda. Foto: Verkaf

Die geliefde akteur Hennie Smit is ernstig siek en sy vriende en familie versoek sy ondersteuners om vir hom te bid.

Smit, wat onder andere bekend is vir sy rol as Bertie in Egoli en wat tans die rol van Dêda in Lefra Produksies se My Boetie se Sussie se ou vertolk, is twee weke gelede in die hospitaal opgeneem vir dubbele longontsteking, asma en ʼn fraktuur aan sy ribbes. Die gebreekte rib het verlede week sy long geperforeer wat ander komplikasies tot gevolg gehad het. Hy word tans in die hoësorgeenheid van Die Wilgers-hospitaal in Pretoria behandel. Die hospitaal het sy toestand as ernstig, maar stabiel beskryf.

Frans Swart, die regisseur van My boetie se sussie se ou en uitvoerende hoof van Lefra Produksies, het gesê Smit is ongelooflik gewild in dié produksie. “Na ʼn paar moeilike jare nadat Egoli klaar gemaak het, was hierdie groot rol net die ding wat Hennie nodig gehad het,” het hy in ʼn verklaring gesê. “Hy het werklik so geblom die afgelope sewe maande. Hy is ʼn ongelooflike akteur en die rol van Dêda pas hom soos ʼn handskoen. Hy het aand na aand staande toejuigings van die gehore ontvang. Ons mis Hennie vreeslik en hoop en bid vir hom dat hy volkome sal herstel om weer sy plek te kom volstaan.”

Swart moes inderhaas inspring om die rol van Dêda oor te neem by die Staatsteater in Pretoria sowel as by die Nasionale Teater van Namibië in Windhoek. Hy reken hy sal moontlik ook die rol moet vertolk tydens die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees van 7 tot 11 Oktober.  “Maar ons het nog ʼn hele paar speelvakke en Dêda wag vir Hennie – sodra hy uit die hospitaal is.”

Aangesien Smit “volksbesit” is en soveel mense só lief is vir hom, wil mense hom glo graag in die hospitaal besoek. “Dit is egter nie nou prakties nie, aangesien hy in die hoësorgeenheid behandel word,” het Swart verduidelik. Hy het onderneem om daagliks die akteur se vordering bekend te maak.

Die sangeres Arina de Witt, ʼn jarelange vriendin Smit wat hom in die hospitaal bystaan, beskryf hom as ʼn wonderlike mens is.  “Ons het onlangs ʼn nuwe toneelstuk saam geskryf, As drome vlerke kry, wat ons beplan om saam op te voer.  Hennie was so opgewonde oor die produksie en juis daarom glo ons dat hy volkome sal herstel,” het De Witt gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Elsje ·

Ons sal bid vir jou Hennie. Ons het My Boetie gaan kyk en ons het so lekker gelag. Jy moet asseblief gesond word.

Ronel ·

Hennie jy moet gou gesond word, Ons almal bid vir ju. Sterkte..

Alida de Villiers ·

Hennie, jy was nog altyd ‘n groot “fighter”. Ons gebede gaan uit vir jou en jy moet net vashou aan Hom wat die Grootse Geneesheer van alle tye is.

Groete
Alida en Rene
Windhoek
Namibia

Barend en Annalene ·

Liefste Hennie!!! Word gou gesond. Ons moet nog baie saam kuier. Ons bid dat ons Abba Vader jou sal genees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.