Henning-beeldmateriaal “geloofwaardig”

Chanelle Henning

Die Pretoriase hooggeregshof het Maandag tydens die Chanelle Henning-moordsaak gehoor dat beeldmateriaal van kringtelevisiekameras geloofwaardig is.

“Ek het glad nie aan die beeldmateriaal gepeuter nie,” het Francois le Roux, inwoner in Faerie Glen, gesê.

Henning (26) is op 8 November 2011 in Faerie Glen, Pretoria, deur twee mans op ‘n motorfiets doodgeskiet pas nadat sy haar seun by die kleuterskool afgelaai het. André Gouws en Ambrose Monye het onskuldig gepleit op vyf aanklagte wat verband hou met ‘n beweerde komplot om Henning te vermoor.

Le Roux het gesê hy het inwoners van Nevadastraat, waar Henning gebly het, gehelp om ‘n kringtelevisiekamerastelsel aan te skaf en te monitor. Hy het glo deur die media gehoor dat Henning voor haar moord agtervolg is, en hy het besluit om die beeldmateriaal te hersien. “Op die beeldmateriaal van 7 November kan jy sien hoe ‘n persoon op ‘n donker motorfiets van Manitobastraat se rigting af kom,” het hy gesê. Hy sê ‘n wit Hyundai, dieselfde motor as wat Chanelle gery het, het ‘n kompleks in Nevadastraat verlaat en in die rigting van ‘n nabygeleë kleuterskool gery. “Die motorfiets het die motor na die kleuterskool agtervolg.”

Hy sê hy het gedink dit is belangrike inligting, en die beeldmateriaal is op 12 November 2011 aan die polisie oorhandig.

Daan Mostert, Gouws se prokureur, het Maandag kapt. Heinrich Viljoen uitgevra oor die besonderhede van sy kliënt se inhegtenisneming. Hy is dae ná die moord aangekeer. Viljoen het getuig dat Gouws nooit deur die polisie aangerand is nie. Hy sê die polisie het slegs die nodige beheer uitgeoefen, aangesien hulle gewaarsku is dat Gouws gewapen en gevaarlik kan wees. “Die nodige mag is gebruik om die veiligheid van my mense en die beskuldigde in daardie stadium te verseker.”

Mostert wou verder weet waarom ‘n beperking geplaas is op wie Gouws en sy vriendin, Estelle Hepburn, kon kontak toe sy huis deursoek is. Volgens Viljoen het Gouws glo aan Hepburn gesê: “Sê vir Nico [Henning] ek sal nie praat nie.” Hepburn is glo aangesê dat sy nie met Chanelle se vervreemde man, Nico, in verbinding kon tree nie, maar dat sy wel ‘n prokureur mag skakel. Viljoen het ontken dat hy Hepburn gedreig het met inhegtenisneming indien sy enigiemand bel.

Matthew Klein, prokureur vir Monye, het Viljoen uitgevra oor ‘n stres-stemtoets wat Nico glo die dag ná sy vrou se moord afgelê het. Viljoen het getuig dat hy aan Nico gesê het dit het “nie te sleg gegaan nie”. Hy sê Nico het geglimlag toe hy aan sy suster gesê het dat hy die toets geslaag het. Klein wou weet of Nico wel die stres-stemtoets geslaag het en of die amptelike uitslag beskikbaar is. Viljoen het beaam dat ‘n amptelike uitslag beskikbaar is, maar aangedui die inligting is deel van ‘n ondersoek en dat hy nie seker is of hy die inligting bekend kan maak nie.

Die staat sal na verwagting Dinsdag sy saak in die Chanelle Henning-moordverhoor afsluit en sal slegs twee verdere getuies roep, het aanklaer Gerrie Nel Maandag gesê.

Chanelle se ouers en Gouws se ma, Lenie, was Maandag in die hof.

Gerhardus du Plessis en Willem “Pike” Pieterse dien tans 18 jaar tronkstraf uit nadat hulle skuld erken het op hul aandeel in die moord.

Die saak duur voort.

Lees alle berigte wat met die Henning-moordsaak verband hou, op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.