Henning-moord: Twee weer in hof

Chanelle Henning

Chanelle Henning se moordsaak gaan na verwagting Maandag in die Pretoria-hooggeregshof hervat word. Ambrose Monye, ‘n voormalige Olimpiese atleet van Nigerië, en ‘n voormalige veiligheidswag, André Gouws, word aangekla van die moord.

Twee mans op ‘n motorfiets het Henning (26) op 8 November 2011 doodgeskiet net nadat sy haar seuntjie by ‘n kleuterskool in Faerie Glen, oos van Pretoria, afgelaai het.

Wilhelm Pieterse en Gerhardus du Plessis het vroeër skuld erken dat hulle by die moord betrokke was, en dien reeds hul tronkstraf van 18 jaar elk uit.

Pieterse en Du Plessis is staatsgetuies, terwyl Monye en Gouws verhoor word op aanklagte van die moord op Henning, sameswering tot moord, sameswering om ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie te bekom, en die besit van ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie. Hulle het destyds onskuldig gepleit.

Du Plessis het tydens ʼn vorige hofsaak getuig dat verskeie vergaderings met Monye en Gouws gehou is om Henning se moord te beplan. Pieterse het vroeër in die hof gesê dat Henning se eksman, Nico, haar laat agtervolg het.  Pieterse en Du Plessis beweer dat Monye hulle gehuur het om Henning vir R10 000 dood te skiet.

Lees alle berigte wat met die Henning-moordsaak verband hou, op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.