Henning-moordsaak uitgestel

Nico Henning (regs) tydens sy vorige verskyning by die Pretoria-streekhof. Foto: Werner Beukes / SAPA

Nico Henning (regs) tydens sy vorige verskyning by die Pretoria-streekhof. Foto: Werner Beukes / SAPA

Nico Henning, die vermoorde Chanelle Henning se vervreemde man, het Donderdag vlugtig in die Pretoria-streekshof verskyn in verband met haar moord.

Staatsaanklaer Gerrie Nel het gevra dat die verrigtinge om die aanklag amptelik te bedien uitgestel word, aangesien die staat nie gereed was nie.

Die saak is tot 15 Januarie 2015 uitgestel wanneer die aanklag bedien sal word. Die saak sal dan ook na die Pretoria-hooggeregshof oorgeplaas word. Die verhoordatum is voorlopig vir 8 tot 12 Julie 2015 bepaal.

Henning, die beweerde meesterbrein agter Chanelle se huurmoord, is in Desember 2013 onder streng voorwaardes op borgtog van R10 miljoen vrygelaat.

Chanelle (26) is in November 2011 in Faerie Glen, Pretoria, doodgeskiet nadat sy haar seuntjie by die kleuterskool afgelaai het.

Henning het homself op 6 Desember 2013 aan die polisie in Villieria, Pretoria, oorgegee. Sy borgtogvoorwaardes behels dat hy Maandae en Vrydae by die Hartbeespoortdam-polisiestasie moet aanmeld en nie nader as 1 km aan ’n internasionale vertrekpunt mag kom nie. Hy moet ook toestemming van die ondersoekbeampte, kapt. Petrus van der Spuy, bekom indien hy enige van sy privaat vliegtuie wil nader. Henning mag nie Gauteng of Noordwes verlaat sonder om vooraf toestemming van die ondersoekbeampte te kry nie. Hy mag ook nie enige kontak hê met ʼn lys van staatsgetuies nie, waaronder Andre Gouws, Ambrose Monye, verskeie van Chanelle se familielede, en werknemers van die Avis-motorhuuragentskap.

Lees alle berigte wat met Chanelle Henning verband hou, op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Theresa ·

Sy regspan het mos geweet hulle verskyn vandag in die Hof. Waar kom die “nie voorbereid” vandaan. En nou trek hulle al in middel 2015.

Willa ·

Nico Henning, ek glo jy besef wat op jou wag met die staatsaanklaer. Eerder jy as ek!! Pop nou al senuwee pille!!! Dalk tref jy hom meer besadig. Dis mos nou nie vir hom nodig om af te “show” ten einde die wêreld te beïndruk nie.

pop ·

Willa jou kommentaar is rerig nie mooi nie. Ek hoop vir jou part uit my hart dat jy nooit n aanklaer gaan nodig he om n ongeregtigheid wat jou oorkom te moet verdedig nie. Passop!!!!Die blinde sambok kom jou dalk by

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.