Henri se regspan gereed met appèlaansoek  

Henri van Breda in Junie 2018 in die hof. Foto: Ayanda Ndamane/ANA Photo

Die bylmoordenaar Henri van Breda se regspan sal teen Maandag ʼn aansoek by die appèlhof indien om teen sy skuldigbevinding en vonnis te appelleer.

Lorinda van Niekerk, wat deel is van Van Breda se regspan, het aan African News Agency gesê die aansoek sal Vrydag of Maandag ingedien word en dat dit binne die 15 dae-spertyd val nadat hul aansoek om verlof tot appèl verlede maand in die Wes-Kaapse hooggeregshof van die hand gewys is.

Van Breda se regspan voer aan dat die hof ʼn fout gemaak het deur die “omstandigheidsgetuienis” wat deur die staat voorgelê is te aanvaar en die beskuldigde bo enige redelike twyfel skuldig bevind het. Hul argumente fokus op verskeie aspekte waaronder veiligheid by die landgoed waar die Van Breda’s gewoon het.

“Daar was 191 voorvalle van misdaad voor dié een wat by die polisie aangemeld is sonder enige verduideliking oor hoe die misdadigers die landgoed betree en weer verlaat het.”

Van Breda se suster, Marli, sal intussen onder die kuratorskap van adv. Louise Buikman bly. Die Wes-Kaapse hooggeregshof het verlede week die kuratorskap tot 29 November 2019 verleng. Marli sal in Oktober volgende jaar 21 word.

Regter Siraj Desai het op 20 Augustus Van Breda se appèlaansoek van die hand gewys. Hy het gesê hy het lanklaas ʼn saak aangehoor waarin die bewyse teen die beskuldigde so sterk is soos in hierdie een. “Hierdie saak pas soos ʼn mosaïek, soos stukke van ʼn legkaart. Alles pas inmekaar.”

Desai het gesê nadat hy Van Breda se regspan se argumente aangehoor het, is hy oortuig dat daar geen oortuigende redes bestaan waarom ʼn appèlaansoek aangehoor moet word nie. Hy het gesê die staat het “onweerlegbaar” bewys dat Van Breda vir die misdade verantwoordelik is.

“Die sleutelpilare van die staat se saak gee onweerlegbare bewyse van sy skuld en is in effek onaanvegbaar.”

Desai het Van Breda in Mei skuldig bevind vir die moorde op sy ouers en broer, poging tot moord op sy suster en dwarsboming van die gereg.

Hy het Van Breda drie lewenslange vonnisse opgelê, 15 jaar vir poging tot moord en een jaar vir dwarsboming van die gereg. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Van Breda het dwarsdeur die verhoor volgehou dat hy onskuldig is en beweer een, of moontlik twee, oortreders sit agter die moorde.

In sy uitspraak het Desai Van Breda as ʼn “koelbloedige moordenaar” bestempel en gesê die aanvalle op die gesin is uitgevoer met die doel om hulle dood te maak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Niklaas ·

Duidelik het hierdie jongman teveel beskikbare fondse vir prokureurs wat natuurlik nie sal onttrek nie. Regter Desai is bevoeg en niemand kan sy uitsprake in twyfel trek nie. Ons wat leke is met regsbeginsels , begryp nie hierdie tyd en geld mors pogings nie.

charles ·

“de bloedige hand erft niet” so nou wonder ek waar kry hy al die geld?

Estelle ·

Wonder ek ook. Seker maar die dat hy so baklei om nie as “bloedige hand” beskuldig te staan nie, aansienlike erfporsie wat dan gaan verdwyn.

christa ·

wat is die regspan so behep met die moordenaar. Wil hulle vir oulaas nog n paar duisend maak?

christa ·

ek het gelees dat die rykdom in trust was, dus was dit nie op die gestorwenes se naam nie, en kan die moordenaar wel erf.

Hansie Slim ·

As jy jou ouers vermoor, of enige iemand, moet jy “betaal”….. maar daarvan het hy blykbaar teveel..

Hennie ·

Regte Oscar Pistoriusindroom! Maak mens eintlik naar! Die wetter moet verrot in die tronk!

Bella ·

Sy advokaat wil nog vir oulaas nog n skeppie neem… Nee ou seun, jy gaan sit vir jou bose dade. Jy het Marli ontneem van n familie. Jy was geweeg Henri en te lig gevind…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.