Henri van Breda: ‘Ek het nie my gesin vermoor nie’

Henri van Breda. Foto: ANA

Henri van Breda het Dinsdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof getuig hy het nie sy ouers en ouer boer vermoor nie en ook nie gepoog om sy jonger suster, Marli, te vermoor nie.

Van Breda beweer ʼn aanvaller met ʼn byl, geklee in ʼn balaklawa en handskoene, het sy gesin in Januarie 2015 in hul huis in die De Zalze-landgoed in Stellenbosch aangeval. Hy voer aan hy het nie sy gesin vermoor nie.

Van Breda se getuienis, op dag 54 van die verhoor, is regstreeks uitgesaai nadat regter Siraj Desai besluit het hy “is huiwerig om uitsonderings te maak wat die media se grondwetlike reg op vryheid van spraak” sal beïnvloed. Die verdediging het vroeër aangevoer Van Breda sukkel met hakkel en regstreekse uitsending van sy getuienis kan dus ʼn negatiewe invloed op hom hê.

Van Breda, wat Woensdag 23 jaar oud word, het baie ongemaklik gelyk toe sy getuienis begin en kort-kort sweet van sy voorkop gevee. Daar was egter geen teken van hakkel nie en ná ʼn kort verdaging het hy teruggekom en kalmer gelyk gedurende die res van sy getuienis.

Van Breda het aan die hof gesê hulle was ʼn hegte gesin wat dit geniet het om tyd saam deur te bring, veral gedurende vakansies. Hy het in sy getuienis metodiese stellings wat in sy pleitverduideliking gemaak is, herhaal.

Toe Van Breda se regsverteenwoordiger hom gevra het hoekom hy nie sy pa, ma en broer probeer help het nie, het hy gesê: “Ek was net bang. Ek kan nie onthou wat deur my kop gegaan het nie. Ek het beslis nie helder gedink nie. Ek was net baie bang.”

Soms kon hy nie sekere besonderhede onthou nie, maar hy kon wel die presiese posisies van sy hande aandui toe hy met die aanvaller gestoei het. Sy geheue oor die struweling met die aanvaller was presies.

Van Breda het beweer hy kon “nogal maklik” die byl by die aanvaller afneem waarna hulle oor die mes gestoei het wat tot die beserings aan sy arms en bolyf gelei het. Die staat voer aan hierdie wonde is self toegedien.

Susan Galloway, senior staatsaanklaer, het haar kruisondervraging begin deur aan Van Breda uit te wys dat hy nie hakkel nie. “Ek het daarop gefokus om nie te hakkel nie. Ek het gesweet,” het hy aan die hof gesê.

Sy het hom gevra hoekom hy nie die eerste getuie vir die verdediging is wat getuig nie, soos normaalweg gedoen word en geïmpliseer hy pas sy getuienis aan by dit wat hy in die hof gehoor het. Van Breda het gesê hy volg sy regsverteenwoordiger se advies.

Galloway het toe aangevoer Van Breda het nie ʼn probleem gehad om regdeur die verhoor na foto’s van die misdaadtoneel te kyk nie. “Ek stem nie saam nie. Ek het na die foto’s gekyk en dit nie geniet nie,” het Van Breda geantwoord.

Galloway het verskeie kwessies geopper wat sy aanvoer nie sin maak nie, waaronder hoekom die familie se hond, Sasha, nie daardie aand geblaf het nie. Van Breda het gesê Sasha het “ʼn toeval soortgelyk aan ʼn beroerte” gehad kort nadat hulle vanaf Australië na Suid-Afrika teruggekeer het. Die moontlikheid bestaan dat medikasie haar “swak” gemaak het.

Galloway het ook bevraagteken hoekom sy ma en suster op hul gemak daarmee sou wees om net in moulose hempies en onderklere te gaan ondersoek instel het. Van Breda het geantwoord hy sou nie van hulle verwag om in die middel van die somer japonne aan te trek nie.

Galloway het daarna deur die verskillende vlakke van veiligheid by die landgoed gegaan en bevraagteken hoe inbrekers heeltemal ongesiens by die huis, geleë in ʼn sentrale gebied, ingekom het. “Hulle het daarin geslaag om ʼn huis in die landgoed te kies waarvan die agterdeur oopgelaat is. So, daar is maklike toegang tot die huis en dan verander alles. Hulle verwyder nie waardevolle eiendom wat baie duidelik [in die huis] sigbaar is nie. Een mens gaan by die trappies op en val die gesin aan.”

“Dit is wat ek gesien het,” het Van Breda geantwoord. “Uit die bewyse is daar ʼn redelike moontlikheid dat iemand toegang gehad het tot ʼn ingangskaart om by die landgoed in te kom.”

Galloway het Van Breda gevra of hy die verskil verstaan tussen ʼn “moontlikheid” en ʼn “redelike moontlikheid”.

“Redelike,” het hy met ʼn effens grynslag geantwoord.

Lees alle vorige berigte oor Henri van Breda op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Landie ·

Jonge mnr van Breda, ek dink nie ek glo ‘n woord wat jy kwytraak nie. Jou stories maak nie sin vir my nie, dan is ek doodseker dit sal vir ‘n regter ook nie sin maak nie.

Liezl ·

En hoekom het hy dan nooit vir berading gegaan toe al die dinge gebeur het nie? Hy moes tog sekerlik hulp gekry het as hy nou sê dit is nie hy nie. Hy toon geen emosie nie

Genieve ·

Ek is so jammer vir die kind,hoekom hou die hof so op hy is van dag1 af skuldig.Het hy nog geld om aan te gaan met die hofverrigtinge?

Ekkes ·

Ja nee! Soos ek verstaan het was hy net in sokkies, geen skoene. Maar gister het hy getuig hy het sy sigarette uit sy skoene gehaal en gerook. WAAR? was die skoene dan as dit nie aan sy voete was nie. Maw hy het weer dalk boontoe gegaan, by die liggame verby. Nee wat Regter Desai hoop jy sien dwarsdeur hierdie mannetjie.

Verlepte botterblom ·

Geen moordenaars, maak nie saak van kleur, ras, geloofoortuiging of wat ook al nie, moet vry kom nie. Ek voel so erg daaroor, dat ek voel hulle moet in die openbaar gehang word, na ‘n kilometer stap na die tou… Was hy dalk my broer, ja ek sal huil… oor sy dade, skande en sy hardseer wat hy oor baie en sy familie gebring het… Maar hy het ander se vryheid om te leef weggevat… Ek my kind geleer dat jou besluite en handeling het gevolge en jy moet self die gevolge dra… Nogal inters dat hy uitgegaan het en kalm teruggekom het… Die grynslag getuig van iets wat hy in het sou ek sê…. maar dit my opinies…

CORRIE ·

Moet dit nie broer wees in die tweede lyn van die berig wees nie.
Mooi dag

Dalk is hy onskuldig ·

Die een ding wat vir my uitstaan is die toilet: hy het gesê hy was op die toilet toe die goed gebeur het, hy het nie die toilet getrek of afgevee nie, dit sal net ‘n persoon in skok doen. Ek glo hy het gevries en soos hy sê hy was doodbang. Al die angs kan ‘n angsaanval ook veroorsaak wat ook soms jou kan laat blackout. Ek glo in die kind se onskuld.

MissDemeanor ·

As daar n skelm in my huis is dan sal ek ook nie die toilet trek en so hul aandag op my vestig nie.

Cor ·

Die jongman het seker maar n rook breuk gevat die wat hy kalm voorgekom het na die verdaging. Miskien het hy Starwars se mense in die vertrek gesien toe hy wakker word en geveg teen een van hulle die wat hy die wapens so maklik kon af vat. Die fiksie storie smokkel soms met n mens se kop.

Christelle ·

‘n Belangrike vraag: In ‘n ryk woonbuurt waar die Van Breda’s in die middle bly kom ‘n skelm wat kan kies en keur tussen die rykes en kies ‘n huis in middle? Hoe ver moes hy hardloop om weg te kom? Sou hy dan nie eerder ‘n huis so na as moontlik aan die omheining kies nie om vining en ongesiens weg te kom nie?

Vryhand ·

Wys ook geen emosies terwyl hy in hof wys hoe het aanvaller byl vasgehou nie
Staan openlik en lieg ook…die saak moet nou na einde toe gaan..

Vryhand ·

Hy toon absoluut geen emosies terwyl hy in hof wys hoe het aanvaller byl vasgehou nie Staan openlik en lieg

MissDemeanor ·

Na n ruk raak mens afgestomp. Mens kan nie elke keer in wanhoop verval as jy so n gebeurtenis herleef nie. Om afgestopm te raak is normaal.

MissDemeanor ·

Die Galoway se vrae ook noe. Hel as iemand by my huis inbreek/ of as n familielid die ander aanval, dan gaan ek ook noe eers my tyd neem om n trui aan te trek nie. Sal net so in my slaapklere uitgaan. Julle weet daar is klomp aanvalle in Stellenbosch. Die “number gangs” hul loop daar rond en saai chaos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.