Henri van Breda het ‘selektiewe geheueverlies’

Henri van Breda in die hof (7 Augustus 2017). Foto: Catherine Rice/ANA

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het gehoor Henri van Breda het “selektiewe geheueverlies” wanneer dit kom by inkriminerende getuienis.

Staatsaanklaer adv. Susan Galloway het haar kruisondervraging van Van Breda Maandag afgesluit. Sy het gewys op teenstrydighede in Van Breda se aanvanklike polisieverklaring op 27 Januarie 2015 en sy pleitverduideliking. Volgens Galloway het Van Breda tydlyne bygevoeg, “vaag” begin raak wanneer dit hom pas en sy getuienis aangepas aangesien hy “genoeg tyd” gehad het om die polisiedossier te bestudeer.

Van Breda het egter volgehou hy is deur kol. Deon Beneke gedruk om “meer seker te klink” van dinge as wat hy regtig was. Hy het die teenstrydighede in sy verklaring blameer op Beneke se “wanvoorstellings” van sy woorde.

Van Breda het aan die hof gesê hy het die verklaring gelees en geteken ondanks weglatings en onakkuraathede aangesien hy geweet het hy kan huis toe gaan sodra hy dit geteken het. “As ek geweet het die verklaring sal in die hof gebruik word, sou ek dit nie geteken het nie. Ek het nie die situasie waarin ek was verstaan nie.”

Henri van Breda in die hof. Foto: Catherine Rice/ANA

Galloway het daarop gewys dat Van Breda in sy pleitverduideliking melding gemaak het van minstens twee aanvallers, maar dat hy in sy polisieverklaring niks van ʼn tweede aanvaller genoem het nie. Van Breda het egter volgehou dat hy wel vir die polisie van die tweede aanvaller gesê het, maar dat hy nie veel meer inligting kon gee nie.

Volgens Van Breda is hy nie seker hoekom die polisie dit nie in die verklaring gesit het nie. Regter Siraj Desai het aan Van Breda benadruk hoe belangrik dit was om die polisie van die tweede aanvaller te vertel waarna Van Breda gesê het hy is “verras” dat die inligting nie in die verklaring is nie, maar dat hy dit nie destyds agtergekom het nie.

Galloway het gesê Van Breda kon gedetailleerde beskrywings gee van sy struweling met die aanvaller en dit self in die hof demonstreer, maar dat hy tog nie detail van ander gebeurtenisse kon onthou nie.

“Dit blyk dat sommige van die ekstra inligting en verduidelikings wat jy gegee het ʼn poging is om sekere inligting in die polisiedossier te verduidelik,” het Galloway aan Van Breda gesê. Hy het dit egter ontken en gesê: “Nee, wanneer ek nie iets kan onthou nie dan sê ek ek kan dit nie onthou nie.”

Die saak gaan vanoggend voort met adv. Pieter Botha, vir Van Breda, wat sy kliënt sal herondervra.

Lees alle vorige berigte oor Henri van Breda op Maroela Media.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Piet ·

Dis nogal eienaardig dat mens sulke belangrike inligting van die polisie sou weerhou (dat daar meer as een aanvaller was). Mens sou dink dat dit vir Henry van kritieke belang was om die skelms te vang en dus sou hy op die polisie se nekke le met inligting. ….. sy gedrag is nogal baie ongewoon, amper soos die van ‘n koelbloedige moordenaar.

Annie ·

Het ook net gelekteerde geheue verlies wanneer dit hom pas – hy is skuldig en hy weet dit – hoop hy gaan ook vir baie baie lank sit. Wonder hoeveel keer gaan nou huil as adv Botha hom gaan begin vrae vra en watter lieg stories gaan daar uitkom. Hy is ‘n pateet !!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.