Henri van Breda hoor dan oor appèlaansoek

Henri van Breda en Piet Botha tydens die verhoor. Foto: Henk Kruger/ANA

“Die saak pas soos mosaïek, soos stukkies van ʼn legkaart inmekaar. Alles pas bymekaar.”

Só het regter Siraj Desai Dinsdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê nadat argumente aangevoer is in die veroordeelde moordenaar Henri van Breda se aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding en vonnis.

“Daar is selde so ʼn sterk saak teen ʼn beskuldigde soos in dié geval,” het Desai aan Piet Botha, Van Breda se regsverteenwoordiger, gesê. Botha het aangevoer Van Breda is skuldig bevind en gevonnis op omstandigheidsgetuienis.

“Ons het ʼn baie jong persoon wat moontlik die res van sy lewe agter tralies gaan deurbring weens net omstandigheidsgetuienis teen hom,” het Botha aangevoer. Volgens hom is daar ʼn redelike vooruitsig dat ʼn ander hof tot ʼn ander beslissing kan kom.

Desai het egter teruggekap en gesê meeste strafverhore maak op omstandigheidsgetuienis staat. Hy het ook daarop gewys dat die verdediging nie op ʼn “onreëlmatigheid” staatmaak nie, maar eerder meen “die onus is nie opgehef nie”.

Henri van Breda in Junie 2018 in die hof. Foto: Ayanda Ndamane/ANA Photo

Botha het aangevoer dat ʼn appèlhof moontlik meer gewig sal plaas op die toegewings wat kapt. Marius Joubert, ʼn kundige op die gebied van bloedspatsels, gemaak het tydens die verhoor. Joubert het tydens die verhoor getuig dit is “onverklaarbaar” dat daar geen van Marli van Breda se DNS op die byl gevind is nie.

Hy het verder aangevoer ʼn ander hof sal moontlik ook meer gewig plaas op die verdediging se deskundige getuie wat getuig het oor die beweerde gebreke in die veiligheid van die De Zalze-landgoed, waar die gesin gewoon het.

Volgens Botha sal daar moontlik ook meer gewig geplaas word op dr. James Butler se getuienis oor en diagnose van epilepsie. Butler het Van Breda met epilepsie gediagnoseer en getuig dit kan die rede wees waarom Van Breda sekere dele van die aand nie onthou nie en glo sy bewussyn verloor het. “My kliënt se getuienis van die oggend van die gebeure tot die einde van sy getuienis was in wese dieselfde,” het Butler getuig.

Desai het toegegee dat die drie lewenslange vonnisse wat Van Breda opgelê is dalk hewig is, maar het bygevoeg daar was geen versagtende faktore om van die minimumvonnis af te wyk nie.

Die Van Breda-gesin: Marli (hier 16) en haar ma Teresa staan voor. Henri (hier 20), Rudi (22) en hul pa, Martin staan agter Foto: Facebook

Volgens Botha kon hy nie aanvoer dat sy kliënt berou het nie aangesien hy onskuldig gepleit het op die aanklagte teen hom. Hy het ook gesê sy kliënt het geen motief gehad nie en dat bewyse daarop gedui het dat die gesin heg was en nie probleme gehad het nie.

Desai het gesê Van Breda se “klassieke” selftoegediende beserings “was ʼn fundamentele pilaar in die saak”.

Staatsaanklaer Susan Galloway het die verdediging se argument dat die staat nie voorbedagte rade bewys het nie van die hand gewys. “Hy moes van die boonste verdieping na die onderste verdieping gaan en die byl en mes gaan haal het. Toe hy sy broer aangeval het, het hy vir sy kop gemik. Daar kan nie ʼn ander afleiding wees as dat dit met voorbedagte rade was nie.”

“Daar is geen meriete in die aansoek vir verlof tot appèl nie en dit moet van die hand gewys word,” het Galloway afgesluit.

Van Breda se vriendin, Danielle Janse van Rensburg, het Dinsdag se hofverrigtinge bygewoon. Van Breda is in aanhouding in die Drakenstein-gevangenis in die Paarl. Desai sal Maandag uitspraak lewer.

Van Breda is in Mei skuldig bevind aan die moord op sy ouers en broer in Januarie 2015. Die 23-jarige is ook skuldig bevind aan ʼn aanklag van poging tot moord op sy suster, Marli, toe 16 jaar oud, wat sedertdien aan geheueverlies ly en dus nie tydens Van Breda se verhoor kon getuig nie.

Van Breda is ook skuldig bevind aan dwarsboming van die gereg nadat hy met die misdaadtoneel gepeuter en vir die polisie vals inligting gegee het. Die aanval in die vroeë oggendure van 27 Januarie 2015 in die gesin se huis op die luukse De Zalze-veiligheidslandgoed buite Stellenbosch het destyds skokgolwe deur die land gestuur. Van Breda beweer een, of moontlik twee indringers het sy gesin vermoor.

Lees alle vorige berigte oor Henri van Breda op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

christa ·

geen apel asb. Hy moes eintlik die straf moes nie tegelyketyd uit gedien word nie. Hy moes 3 keer lewenslank gesit het

Ekke ·

Absoluut belaglik wat die mannetjie nou hier probeer en die verskriklike dink van homself is verstommend! Danielle gaan aub aan met jou lewe, jys jonk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.