Henri van Breda hoor oor appèlaansoek

Henri van Breda. Foto: AP Photo/Nasief Manie

Die appèlhof in Bloemfontein het die veroordeelde moordenaar Henri van Breda se aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys.

Van Breda se regspan het bevestig die aansoek om teen sy skuldigbevinding en vonnis te appelleer was onsuksesvol. Dit is nog nie duidelik of Van Breda sal poog om hom na die konstitusionele hof te wend nie.

Van Breda het in September die aansoek ingedien nadat die Wes-Kaapse hooggeregshof in Augustus ook sy appèlaansoek van die hand gewys het.

Van Breda se regspan het aangevoer dat die hof ʼn fout gemaak het deur die “omstandigheidsgetuienis” wat deur die staat voorgelê is te aanvaar en die beskuldigde bo enige redelike twyfel skuldig bevind het. Hul argumente fokus op verskeie aspekte waaronder veiligheid by die landgoed waar die Van Breda’s gewoon het.

“Daar was 191 voorvalle van misdaad voor dié een wat by die polisie aangemeld is sonder enige verduideliking oor hoe die misdadigers die landgoed betree en weer verlaat het.”

Regter Siraj Desai het nadat hy Van Breda se appèlaansoek in die Wes-Kaapse hooggeregshof van die hand gewys het, gesê hy het lanklaas ʼn saak aangehoor waarin die bewyse teen die beskuldigde so sterk is soos in hierdie een. “Hierdie saak pas soos ʼn mosaïek, soos stukke van ʼn legkaart. Alles pas inmekaar.”

Desai het gesê nadat hy Van Breda se regspan se argumente aangehoor het, is hy oortuig dat daar geen oortuigende redes bestaan waarom ʼn appèlaansoek aangehoor moet word nie. Hy het gesê die staat het “onweerlegbaar” bewys dat Van Breda vir die misdade verantwoordelik is.

“Die sleutelpilare van die staat se saak gee onweerlegbare bewyse van sy skuld en is in effek onaanvegbaar.”

Desai het Van Breda in Mei skuldig bevind vir die moord op sy ouers en broer, poging tot moord op sy suster en dwarsboming van die gereg.

Hy het Van Breda drie lewenslange vonnisse opgelê, 15 jaar vir poging tot moord en een jaar vir dwarsboming van die gereg. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Van Breda het dwarsdeur die verhoor volgehou dat hy onskuldig is en beweer een, of moontlik twee, oortreders sit agter die moorde.

In sy uitspraak het Desai Van Breda as ʼn “koelbloedige moordenaar” bestempel en gesê die aanvalle op die gesin is uitgevoer met die doel om hulle dood te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Mary ·

Sit gaan jy sit Henri, aanvaar nou maar jou lot wat jy verdien…

ano ·

Absoluut GEEN simpatie met jou nie mannetjie. Hoop nie jy sien ooit weer die buitekant van die tronk nie

Oeps Nee! ·

Sit sal jy sit boet! Ek hoop jou baard val van ouderdom uit!

Penelope ·

Genade, wat het in jou lewe verkeerd geloop. Ek is bly ek hoef nie met al hierdie bagasie rond te loop nie. Koelbloedig!

Tammy ·

Hierdie mannetjie het wragtig al alles moontlik probeer om uit die tronk te kom. Het iemand al daaraan gedink hoe desperaat die gesin was om aan die lewe vas te klou? Hy het hulle nie n kans gegun nie, daarom die skuldigbevinding. Hoop hy sien nooit weer die buitekant van die tronkheining nie, nooit weer nie. Dit was n modelgesin wat bitter hard gewerk het om vir hulle kinders te voorsien. Hy dink net aan homself………..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.