Henri van Breda se vonnisoplegging begin

Henri Van Breda ná sy skuldigbevinding (Foto: AP Photo/Nasief Manie)

Henri van Breda, wat skuldig bevind is aan die brutale moord op sy ouers, Martin en Theresa, en sy ouer broer, Rudi, asook poging tot moord op sy suster, Marli, se vonnisoplegging begin na verwagting Dinsdag in die Kaapstad-hooggeregshof.

Van Breda (23) is ook skuldig bevind op ʼn vyfde aanklag van dwarsboming van die gereg.

Regter Siraj Desai het op 21 Mei beslis Van Breda het sy gesin in Januarie 2015 in hul huis op die De Zalze-landgoed in Stellenbosch met ʼn byl aangeval. Martin, Theresa en Rudi het op die toneel gesterf, terwyl Marli kritieke beserings opgedoen het.

Marli het die aanval wonderbaarlik oorleef, maar ly sedertdien aan geheueverlies en kan glad nie die gebeure van dié tragiese aand onthou nie.

Van Breda het gedurende die verhoor beweer ʼn aanvaller, gewapen met ʼn byl en ʼn mes, het die gesin aangeval, maar Desai het bevind die staat het bewys dat dié weergawe van die gebeure nie moontlik waar kan wees nie.

Desai het gesê Van Breda het tydens sy getuienis “ongemaklik” voorgekom, maar soms vol selfvertroue en in ʼn stadium selfs sarkasties. “Hy het nie baie emosie getoon nie, selfs toe hy die aanval op sy broer Rudi en pa gedemonstreer het en die bakleiery wat hy met die aanvaller gehad het.”

Van Breda is sedert sy skuldigbevinding in aanhouding by die hospitaalvleuel van die Pollsmoor-gevangenis aangesien hy chroniese medikasie vir epilepsie en depressie moet ontvang.

Volgens mediaberigte is Van Breda glo verlede week in aanhouding aangeval en het hy geringe beserings opgedoen.

Volgens die Daily Mail het die voorval gebeur toe Van Breda van die besoekerslokaal op pad terug was na die hospitaaleenheid waar hy aangehou word. ʼn Groep van vyf gevangenes het hom glo aangeval, maar ʼn medegevangene het ʼn kondoomhouer van die muur afgeruk en dit as ʼn skild gebruik om Van Breda kans te gee om weg te hardloop.

Die groep was glo agter die kospakkie aan wat Van Breda van sy oom, Andre du Toit, en meisie, Danielle Janse van Rensburg, ontvang het wat hom in die gevangenis besoek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

TLC ·

20×3 plus 15×1 plus 10 vir lieg en hoop op nog n paar pluse by Sorry maar hy moet uit samelewing uit verwyder word

kas ·

Die vonisse sal gelyktydig uitgedien word so hy sal 25 jaar sit.As hy daaruit kom kaqn hy sy trustgeld kry.

Linda ·

Kas, sover my kennis strek mag hy geen erfgeld kry nie aangesien hy die erflaters vermoor het, volgens wet.

bolla ·

Hang af watter tipe trust dit is. As dit ‘n testamentêre trust is, kan hy nie erf nie. Enige ander trust soos inter vivos, besigheids, ens. word nie deur die gemeenregtelike beginsel geraak nie so hy sal sy geld daar kry (tensy daar een of ander uitsluitingsklousule ingebou is).

CAROL ·

1 life is equal to 25 years. Daar was 3 lewens!! So dus 75 jare wat hy gaan sit. uhm en nee vir erf geld. Bloed op die hande erf niks!!!

kas ·

Carol,dit is ongelukkig nie hoe dit werk nie.Drie keer lewenslank.Die vonnisse word gelyktydig uitgedien dit beteken 25 jaar.Die 15 jaar vir poging tot moord word ook saam met die 25 jaar uitgedien en dan 10 jaar vir regsverydeling.Hy sal dus net25 jaar sit voor hy kan in aanmerking kom vir parool

leser ·

ek voel jammer vir die jong man, maar moord het nog nooit uitgewerk nie

in die hospitaal vir CHRONIESE meds vir epilepsie en depressie, dis iets nuuts
mede gevangenisse sal sorg dat hy nie sy erfgeld gaan sien nie

Des ·

Snaaks hoe hy NIKS beserings het in die hof vandag nie. Die laaitjie lieg so baie hy glo homself.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.