Henri van Breda vandag gevonnis

Henri van Breda. Foto: AP Photo/Nasief Manie

Henri van Breda sal na verwagting Donderdag in die Kaapstad-hooggeregshof gevonnis word vir die brutale moord op sy ouers, Martin en Theresa, en sy ouer broer, Rudi, asook poging tot moord op sy suster, Marli.

Regter Siraj Desai het op 21 Mei beslis Van Breda het sy gesin in Januarie 2015 in hul huis op die De Zalze-landgoed in Stellenbosch met ʼn byl aangeval. Martin, Theresa en Rudi het op die toneel gesterf terwyl Marli kritieke beserings opgedoen het. Van Breda (23) is ook skuldig bevind op ʼn vyfde aanklag van dwarsboming van die gereg.

Marli het die aanval wonderbaarlik oorleef, maar ly sedertdien aan geheueverlies en kan glad nie die gebeure van dié tragiese aand onthou nie.

Van Breda het gedurende die verhoor beweer ʼn aanvaller, gewapen met ʼn byl en ʼn mes, het die gesin aangeval, maar Desai het bevind die staat het bewys dat dié weergawe van die gebeure nie moontlik waar kan wees nie.

Sy vonnisoplegging het Dinsdag begin.

Die staat het ter verswaring van sy vonnis aangevoer dat Marli sal moet leef met die wete dat haar broer hul gesin uitgewis het.

Adv. Susan Galloway, vir die staat, het aangevoer dat Marli die aanval oorleef het weens “’n wonderwerk” en nie omdat haar broer haar genadig was nie. Sy het gesê Van Breda se lang gesprek met die nooddienste wys daarop dat hy nie haastig was om mediese hulp te kry nie ondanks die feit dat sy erg beseerde suster steeds geleef het. Volgens Galloway wys dit op die koelbloedige aard van die aanval.

“Daar is geen berou nie. Hy toon nie simpatie vir sy suster nie. Sy het alles verloor en niks sal ooit weer vir haar dieselfde wees nie. Ondanks haar [jong] ouderdom het sy met al haar krag probeer om haar aanvaller af te weer.”

Adv. Pieter Botha, vir Van Breda, het ʼn verslag van die Nasionale Instituut insake Misdaadvoorkoming en Rehabilitasie van Oortreders (Nimro), waarin Van Breda se persoonlike omstandighede grondig geëvalueer is, by die hof ingehandig. Botha het gedeeltes van die verslag aan die hof voorgelees.

Daar is onder meer bevind dat Van Breda ʼn goeie verhouding met sy ouers, broer en suster gehad het en dat hy onlangs met depressie en angs gediagnoseer is. Volgens die verslag het Van Breda met hoë agting van sy ma, die “versorger”, gepraat. Hy was ook na aan sy pa, maar het gesê sy pa was nie “goed met sy emosies nie”. Van Breda het ook dikwels raad van sy broer gevra en het ʼn normale verhouding met sy suster gehad.

Botha het die hof versoek om in ag te neem dat Van Breda 20 jaar oud was toe die moorde gepleeg is en dat hy ʼn eerste oortreder is.

Galloway het egter versoek dat Van Breda lewenslank tronk toe gestuur word. “Die beskuldigde het self aangevoer dat hy deel was van ʼn hegte gesin wat nie finansiële probleme ervaar het nie en wat almal ʼn blink toekoms voor hulle gehad het. Hy het die aanval uitgevoer terwyl sy gesin op hul kwesbaarste was nadat hulle bed toe is.”

Desai wou by Botha weet of daar ʼn rede is waarom sy kliënt die moorde gepleeg het en of daar ʼn menslike faktor is wat hy in ag kan neem. “Daar is niks wat uitstaan nie. Het hy dan uit blote goddeloosheid opgetree? Help my om die beskuldigde te vonnis,” het Desai gesê.

Desai wou spesifiek by Botha weet of hy insae het of hy sy kliënt een, twee of drie lewenslange vonnisse moet oplê. “Dit het ʼn invloed wanneer hy eendag in aanmerking sal kom vir parool. Hy is nou ʼn jong man, so hy gaan dalk in sy 40’s wees as hy in aanmerking kom vir parool. Dit het dus ʼn invloed op die vonnisoplegging.”

Botha het egter gesê hy het geen verdere argumente nie en dat hy die saak so ver as wat hy in staat was, geneem het.

Lees die vorige berigte oor Henri van Breda op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

kas ·

Daar word soveel navorsing op die brein gedoen en tog weet navorsers nie alles nie.Kan Marli die aand se gebeure nie onthou nie of is daar nog ander insidente wat sy nie kan onthou nie.Weet sy byvoorbeeld haar broer het die moorde gepleeg?Weet sy hy het haar aangeval?Weet sy van die boedel wat sy gaan erf?Kan sy regtig niks onthou nie.Wie kan my help met hierdie vrae.

'n Antwoord ·

Ek het gehoor dat dit nie net ‘n geval is van trauma wat haar nie laat ontnou nie.Haar brein beserings was van so ernstige aard (byl wat dele van brein beskadig het wat juis vir geheu verantwoordelik is) dat dit werklik ‘n wonderwerk is dat sy lewe, of enigsins okay is.Die dokters het nie gedink sy gaan leef nie.

Wollie ·

Jy kry ook “repressed memories”, ervarings wat so emosioneel en tramaties was dat jy dit in jou onderbewusyn gebere het en nie kan onthou nie.. kan dalk dit ook wees, maar die hou wat sy gekry het is enige iets moontlik

Des ·

Sonder omself na die toetse en mris ens te kyk kan mens nie se nie, net dat in n geval van trauma, baaaie mense dit uitsit en helemal vergeet. Baie voorbeelde van mense wat aangehou was of in n hijacking ens wat die gebeure helemal uitsny.

antwoord opvolg ·

Sy is wel nou bewus van wat geberu het gebasseer op wat so hoor en wat aan haar vertel word.Sy weet haar ouers en broer is oorlede en wie verantwoordelik was daarvoor en die aanval op haar-en dat sy gaan erf.Sy kan nie daardie spesifieke gebeure onthou om dit te vertel nie.Soos die res van ons gaan sy maar op getuienis en feite wat in hof uitgekom het.

Kerneels ·

Dankie vir die antwoorde. Ek wonder self oor dit. So, sy onthou nie van DAARDIE aand nie, maar kan sy darem nog haar ouers voor die insident onthou? En na sy herstel het, kan sy van daar af weer alles onthou (na haar herstel)? Of sal sy altyd nou korttermyn geheueverlied hê?

Jo ·

As jou eie regsverteenwoordiger (wie jy baie geld betaal om jou te verdedig) in die hof se dat hy niks meer het om te bied nie, dan weet ek nie.
Adv. Botha – jy het jou bes gedoen.
Sterkte aan Marli. Hierdie hele storie is verskriklik.

JJ ·

Hoe ironies – hy het nie eers ‘n vuurwapen gebruik in die aanval nie.

Penelope ·

Ja-nee, ek is bly ek is nie sy regsverteenwoordiger nie. Ek hoop dat Henri lank gaan dink oor sy dade en dalk eendag berou sal toon. Baie sterkte vir Marli en die res van die familie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.