Herbal Blend is terug

Die Herbal Blend wat nou weer in Pretoria verkoop word se verpakking lyk anders as verlede jaar s’n. Foto: Verskaf

Herbal Blend, die omstrede middel wat einde verlede jaar opspraak verwek het toe talle gebruikers psigotiese episodes beleef het nadat hulle dit gerook het, is terug op die mark.

Die middel, ook bekend as “Herbal”, “Puff” of “Blazing” is deur die owerhede van die rakke verwyder nadat video’s op sosiale media die ronde gedoen het van gebruikers wat erge fisieke simptome beleef nadat hulle dit gerook het.

ʼn Onafhanklike laboratoriumtoets het later getoon die middel bevat sintetiese dagga, asook Methylendioxy-metamfetamien, beter bekend as “crystal meth”. Dit blyk egter dat die middel intussen weer sy pad na die verbruiker gevind het.

ʼn Gebruiker wat op voorwaarde van anonimiteit met Maroela Media gepraat het, vertel hy het Woensdagmiddag Herbal op ʼn vlooimark in Montana gekoop. Die verpakking van die middel lyk egter nou anders as dié wat op die talle tonele gevind is waar mense mediese behandeling moes ontvang nadat hulle dit gerook het.

Die pakkie is steeds swart, maar kleiner as die vorige pakkies met die woord Herbal in geel daarop geskryf. In die hoek van die pakkie is ʼn plakker wat die geur van die inhoud aandui.

“Dit is glad nie so erg soos daardie pakkies waarvan die mense so siek geword het nie,” sê die gebruiker. “Hierdie voel weer soos die heel eerste Herbal, die Puff wat ons gerook het. Dit is bietjie erger as dagga, maar glad nie so erg soos jy op daardie video’s sien nie. En dit hou net omtrent so 15 minute, dan is die effek daarvan weg.”

Hy sê hy het nooit self van die Herbal Blend gerook wat in die pakkies verkoop is wat talle mense so siek gemaak het nie.

“Herbal Blend” is einde verlede jaar in ongemerkte swart pakkies verkoop met net die geur van die inhoud wat op die pakkie aangedui is. Foto: Maroela Media

Die gebruiker sê hy moes gistermiddag R150 vir die pakkie Herbal opdok, ʼn aansienlike verhoging in die prys van tussen R45 en R60 wat Herbal Blend verlede jaar gekos het. Volgens die gebruiker lyk die inhoud van die pakkie ook effe anders as voorheen. “Dit lyk sagter, amper asof daar katoen ingemeng is,” verduidelik hy.

Xander Loubser, paramedikus en woordvoerder van Best Care-ambulansdienste wat verlede jaar op talle tonele was waar gebruikers van Herbal Blend behandel moes word, het aan Maroela Media bevestig hy is bewus daarvan dat die middel terug op die mark is. Hy sê hy is seker dat die middel verlede jaar deur die polisie van die rakke verwyder is en dat dit tot nou nie meer beskikbaar was nie.

Volgens Loubser was Best Care ook nog nie weer na tonele ontbied waar iemand behandel moes word omdat hulle Herbal gerook het nie. “Die feit dat ons nou weet dit is terug op die mark, is kommerwekkend. Ons is beslis op gereedheidgrondslag om weer mense te behandel wat moontlik negatiewe simptome van die middel kan ervaar,” sê hy.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale woordvoerder van die polisie, sê hy is nie bewus daarvan dat Herbal terug op die mark is nie. Hy waarsku egter dat daar nie net aangeneem moet word dat dié Herbal Blend dieselfde middel is as die middel wat verlede jaar opslae gemaak het nie.

“Dikwels word ‘nuwe’ dwelmmiddels ontwikkel, maar hulle het presies dieselfde basisbestanddele as bestaande dwelmmiddels. Dan gee die dwelmvervaardigers die middel ʼn nuwe naam, maar eintlik is dit dieselfde dwelm wat al lankal bestaan en het dit dieselfde effek.”

Hy sê dit is dus moontlik dat die bestanddele van die “nuwe” Herbal kan verskil van die bestanddele van die middel wat verlede jaar psigotiese aanvalle by gebruikers veroorsaak het.

Op ʼn vraag wat die polisie se laboratoriumtoetse opgelewer het nadat Herbal Blend verlede jaar getoets is, sê Naidoo hy weet nie wat die uitslae van dié toetse was nie. “Ek sal navraag doen, maar ek sal ook eers moet uitvind of ek hierdie uitslae mag bekendmaak,” het hy gesê.

Die middel soos dit verlede jaar gelyk het. Dit lyk baie dieselfde as dagga, maar het ‘n heel ander effek op gebruikers gehad. Foto: Best Care-ambulansdienste

Kapt. Augustinah Selepe, ʼn polisiewoordvoerder in Pretoria, het Donderdagoggend aan Maroela Media gesê sy is ook nie bewus daarvan dat Herbal terug op die mark is nie. Op verdere vrae oor die polisie se ondersoek na die saak het sy versoek dat die vrae per e-pos aan haar gerig word. Sy het nog nie op die skriftelike navrae gereageer nie.

Maroela Media het vroeër berig minstens 14 mense in Pretoria moes verlede jaar mediese behandeling ontvang nadat hulle Herbal Blend gerook het. Die gebruikers het verskillende reaksies getoon, waaronder psigotiese aanvalle, hallusinasies, braking, diarree, lomerigheid en hartkloppings.

Die polisie het daarna op talle tabakwinkels, drankwinkels en snoepwinkels in die Pretoria-Wes toegeslaan om opdrag te gee dat dié produk van die rakke verwyder word hangende die uitslae van laboratoriumtoetse. In sommige gevalle is daar ook op van die produkte beslag gelê.

Mediese kenners het vroeër aan Maroela Media verduidelik dat die bestanddele van die middel lewensgevaarlik kan wees, veral aangesien daar geen beheer daaroor is en dit nie wettig gekontroleer word nie.

Lees alle vorige berigte oor Herbal Blend op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Katerina ·

Nee ek sou maar liewer wegbly van die goed. Ek kan nie sien dat daar enige voordeel aan die gebruik van hierdie tipe ding is nie. Vir die wat desperaat is om te rook, koop dan maar liewer behoorlike dagga sonder enige weird bygevoegde middels. Waarom die kans vat met produkte soos hierdie Herbal Blend gemors?

LD ·

Want die gewone dagga gee nie meer die “lekker” kick waarna die gebruikers soek nie! Wil altyd nog bietjie “higher” word! Wens die mense wat die goed maak en verkoop kan uit die samelewing verwyder word. Ons kinders se lewens word verwoes met die gemors! Ek sidder om te dink as my 2 kindertjies die ouderdom haal wat hulle die tipe goed wil toets! Nee man, kry liewer iets produktiefs om te doen as om die goed wat net 15min duur te wil sit en rook!

Andre ·

Hoe sal die Polisie nou weet dat die gemors weer beskikbaar is ? Die pers het hulle nou eers in kennis gestel.

Kreef ·

@LD, ek rook dagga nou al vir n hele klompie jare, en soek nie n “higher high” nie, onkunde oor dagga is die ondergang van baie, dis nie n “gateway” drug nie, nie eens n drug nie, ek gebruik die olies ook, en sal dit aanbeveel, as jou kids hoër wil word met ander drugs, dan is daar n gat in hul opvoeding, as jy hoër wil word, is dit self disipline. Peace out 420!

Sê maar net 1 ·

Kreef, dwelms is dwelms. Al is dit nou wettig, dis nog steeds dwelms. En ja, ongelukkig soek meeste dwelmgebruikers na ‘n higher high.
Ons verstaan ook dat meeste dwelms medisinale waarde het. Baie dwelms was eers as medisyne aangewend voordat dit misbruik was.
Maar selfs sigarette is dwelms. Dit os verslawend. Call a spade a spade. En noem dwelms dwelms.

Theresa ·

Het almal nou mal geword om die goed te verkoop. Julle besef nie wat vang julle aan nie. Hemel, maak oop julle oë!!!

Anni ·

En na di skrikwekkende uitwerking van gemors verlede jaar, sal Jy mense Kry Wat dit weer sal probeer.

Blaarman ·

Weereens word dit bewys dat dit nie effektief is om dwelmmiddels bloot onwettig te verklaar nie – dit skep eenvoudig ‘n mark vir kriminele waar hulle teen ‘n premie hulle gif kan verkoop, sonder enige kwaliteitsbeheer en deursigtigheid tov hulle produkte.

KL ·

Soos dronkbestuur. Of bestuur oor die limiet. 2 biere max stop maar bitter min om na dit te ry.

willem Botha ·

Wanneer laas is misdaad voorkoming inisiatiewe gehou deur die polisie by die vlooimark en die pakestaniers se winkels wat op elke hoek opskiet in Pretoria ,hulle word gereeld gesien by die winkels maar duidelik nie om misdaad te bekamp nie.

Riouna Martin ·

Nou dat almal weet waar dit is maak aan die plekke toe. Gooi die skurke in tronk daar is baie skole in die Moot en kinders hang altyd rond by vlooimark. Ek vra ouers om te help om aandag te gee aan die plekke waar die goed te koop is maak dinge warm vir die gemors van die lewe wat ander se lewens verwoes!

SpK5 ·

Mense wat die goed dan nou wil goedpraat en wil rook moet dit dan nou maar doen. Die videos van laasjaar was baie duidelik en om dit te probeer regverdig deur te sê dis “nie so erg soos op die video” nie en “dit hou net 15 minute”…dit beteken jy het ‘n probleem ou, soek eerder hulp, moenie probeer om jou keuse om dit te rook te regverdig nie.

Palement ·

En wat gaan die polisie daar omtrent doen? Niks nie want daar het nog nie kinders in die moeilik beland nie. Maar Boeta sodra die pawpaw die fan strike en die koerante is op die toneel staan hulle daar

Eish ·

Dan kla mense oor swaarkry..om daremsoveel geld te betaal om te “rook”!

Gemaskerde Sopbeen ·

Eskom se bestuur rook hierdie al laaaaankal….Die nagevolge hou NIE net 15 minute nie…

Edd ·

Met al die vry publisiteit is dit geen wonder dit verkoop so goed nie.

MC ·

Nee regtig waar? Mense moenie gehelp word as hulle dit rook en dan slegte newe effekte ervaar nie. As jy nie wil hoor nie dan moet jy mos maar voel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.