Herbal Blend: Laboratorium­ontleding bevestig middel as onwettig

‘Herbal Blend’ word onder verskillende name en in verskillende verpakkings verkoop. Dit staan ook as Blazing bekend. Foto: Verskaf

Die sogenaamde “Herbal Blend”-middel wat onlangs opslae onder inwoners in Pretoria gewek het, bevat nie net sintetiese dagga, oftewel kannabinoïed, nie, maar ook Methylendioxy-metamfetamien, beter bekend as “crystal meth”.

Só sê die spesialisondersoeker Mike Bolhuis nadat ʼn laboratoriumontleding van die middel, ook bekend as “Puff”, “Blazing” of “Spice”, dié werklike bestanddele in dié opspraakwekkende middel aan die lig gebring het.

Maroela Media het vroeër berig dié middel het onlangs onder die publiek se aandag gekom nadat video’s op sosiale media versprei is van jong mans en tieners wat psigotiese episodes beleef nadat hulle Herbal Blend gerook het.

Bolhuis sê hulle het onmiddellik ʼn ondersoek van stapel gestuur om vas te stel wat presies in die middel is en wil nou die publiek waarsku dat dié middel, wat sommer oor die toonbank aan selfs minderjariges verkoop word, lewensgevaarlike gevolge kan inhou.

Volgens Bolhuis het ʼn ontleding van die middel ses aktiewe bestanddele geïdentifiseer. Die meeste hiervan is verskillende vorme van kannabinoïed, ʼn sintetiese vorm van dagga wat ʼn soortgelyke uitwerking op die gebruiker het as natuurlike dagga, maar baie gevaarliker is. 5F-PB-22 is ook in die middel gevind, wat optree as ʼn kannabinoïed-agonis – iets wat ʼn fisiologiese reaksie veroorsaak wanneer dit met ʼn reseptor gekombineer word.

“Herbal Blend” word ook in ongemerkte swart pakkies verkoop met selfs die geur van die inhoud wat op die pakkie aangedui word. Foto: Verskaf

Dr. Jaco van Niekerk, ʼn spesialistraumadokter, het vroeër verduidelik sintetiese kannabinoïed is iets heeltemal anders as cannabis, die natuurlike vorm van dagga. Van Niekerk verduidelik die uitwerking van dagga en sintetiese dagga op reseptore in die liggaam is baie verskillend. “Kannabinoïed werk net op een van die reseptore. Waar natuurlike cannabis of dagga op die CB1- en CB2-reseptore werk, werk sinteties vervaardigde kannabinoïed net op die CB1-reseptor. So, die gebruiker kry baie ander newewerkings – hartkloppings, paranoia, naarheid, braking, duiseligheid. En dan hierdie irrasionele optrede wat hulle agterna nie kan onthou nie.”

Volgens Bolhuis bestaan Herbal Blend (en ander soortgelyke produkte) uit gedroogde plantmateriaal, waaronder kruie en speserye, en word sintetiese dagga dan oor hierdie plantmateriaal gespuit. Hy sê daar is selfs Diazepam, ʼn kalmeermedikasie, in van dié middels gevind. Die middel kan verskillende vorme van kannabinoïed bevat en deur enigiemand vervaardig word wat weet hoe om dit te maak.

“Die groot gevaar is dat enige hoeveelheid van die dwelm met die plantproduk gemeng kan word aangesien daar geen beheer daaroor is nie en dit nie wettig gekontroleer word nie. Enige bestanddeel kan hierby gemeng word en daar kan selfs meer as een dwelmmiddel in die produk wees. Die besluit oor wat by die middel gevoeg word, hang af van die uitwerking wat die vervaardiger hoop om te bereik,” sê hy.

“Herbal Blend” word tans in ongemerkte swart pakkies verkoop met selfs die geur van die inhoud wat op die pakkie aangedui word. Foto: Verskaf

Hy beklemtoon dat sintetiese dagga beslis onwettig is en dat die verkoop, verspreiding en gebruik daarvan ongetwyfeld onwettig is. “Die uitwerking van sintetiese kannabinoïed op die liggaam sluit in paranoia, psigotiese reaksies, hallusinasies, verwardheid, braking, hartkloppings, gewelddadige gedrag en selfmoordneigings,” sê Bolhuis.

Volgens Bolhuis is dit noodsaaklik dat die publiek bewus is van die ware feite rakende Herbal Blend en moet mense hulle van oningeligte stellings en menings op sosiale media weerhou. “Onwaar inligting veroorsaak net verwarring wat onnodig is en nie die kwessie baat nie.”

Bolhuis voeg by hoewel nog geen sterftes in die afgelope paar weke in Suid-Afrika aangemeld is wat met die gebruik van sintetiese dagga verband hou nie, is daar wel al vantevore sterftes in Japan, Nieu-Seeland en ander lande aangemeld. “Hierdie dwelm is gevaarlik en hoogs verslawend.”

In een van die video’s wat sedert verlede week op sosiale media versprei is, kan twee jong mans gesien word wat rondval nadat hulle Herbal Blend gerook het. Een van die mans, Gregg Kühn (22), spring vervaard op die bed rond en val telkemale agteroor, terwyl sy vriend op die vloer lê, onbeheers ruk en onherkenbare brabbeltaal praat. Albei mans begin later braak, ʼn simptoom wat by verskeie gebruikers van Herbal Blend gesien word.

Maroela Media was die eerste om met Kühn oor dié skokvoorval te praat wat gesê het hy wil met sy storie ander waarsku teen die gevare van Herbal Blend. Kühn en sy pa het aanvanklik op voorwaarde van anonimiteit met Maroela Media gesels, maar sedertdien toestemming gegee dat hul identiteit bekendgemaak mag word.

Kühn het aan Maroela Media gesê hy het al verskeie kere voorheen Herbal Blend gerook, maar nog nooit dié reaksie daarop getoon nie. Volgens Kühn is die middel altyd verkoop in gekleurde pakkies met die naam en die geur van die inhoud, soos “Crazy Coconut” of “Fun Bubblegum”, op die pakkies aangebring. Die verpakking van die middel wat Kühn en sy vriend verlede Sondag gerook het, is egter heeltemal swart met net ʼn plakker op wat die geur aandui. Nêrens op die pakkie word aangedui waar die middel vervaardig is, wie die vervaardiger is of wat die bestanddele van die inhoud is nie.

Gregg Kühn het vir Maroela Media van sy nagmerrie-ervaring met ‘Herbal Blend’ vertel. Foto: Maroela Media

Kühn sê die middel is maklik bekombaar en kan by talle drankwinkels, tabakwinkels en spazawinkels gekoop word. Die pryse van die pakkies wissel tussen R45 en R150.

Nadat minstens 14 mense, onder wie selfs tieners van 14 jaar oud, mediese behandeling moes ontvang nadat hulle Herbal Blend gerook het, het die polisie gespring om dié middel in hul forensiese laboratorium te laat ontleed en dit intussen van die rakke te verwyder.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die uitslae van die laboratoriumtoetse is nog nie beskikbaar nie. Die polisie sal die uitslae bekendmaak sodra dit ontvang word.

Vir die volledige verslag wat deur Bolhuis se Specialised Security Services vrygestel is, besoek gerus hul Facebook-blad hier.

Skakel Woensdagaand om 20:00 in op GROOTfm 90.5 tydens GROOTtrauma waar Pieter Cloete met Mike Bolhuis sal gesels oor die middel en die volledige inligting wat sy ondersoek aan die lig gebring het. Luister op 90.5fm of op DSTV oudiokanaal 820.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Wonder ·

Iemand wat so handuitruk kan eenige iets gebruik.
Tegnilogie is so geworded dat dit jou geloof en jou verhouding met jou God tot die uiterste beproef.
Alleen kan ons nie daardeur kom nie.

christa ·

ek kan nie glo, met die lewe wat so duur is, dat daar nog hoegenaamd mense is wat rook nie, wat nog te se hulle geld op sulke gemors uitgee. Het ouers te veel geld om so te mors op sakgeld vir kinders. Laat kinders werk vir hulle sakgeld sodat hulle kan leer waar geld vandaan kom. My kinders sou nie geweet het waar is hulle agterstewe as hulle sulke dinge doen nie.

D V ·

‘n Goeie loesing op tyd is goed maar in die geval het dit alreeds te ver gegaan.

Niel van Zyl ·

Gaan klop aan by die owerehede/organisasies wat dwelms ontleed in Engeland. Hulle is julle klaarbleiklik ‘n jaar of twee voor met die ontledings. Wat ek al gesien het hier in Engeland rondom “Spice” is nie mooi nie. Bly weg! En vir ons owerhede, dit moet gestop word voor die veldbrand versprei, want dan het julle moeilikheid op julle hand. Gaan kyk mr na die material beskikbaar rondom dié dwelm.

Bekommerd ·

Ek verstaan Rustenburg is vrot van die sogenaamde herbal blend. Geen wonder die hole word afgebrand nie…. En die Spaza winkeltjies is vollop.

Annelize ·

Ek sal glad nie verbaas wees nie. Rustenburg is een septiese hool, vanaf die sogenaamde rykmans buurte in die koppe, tot binne in die plakkerskampe rondom Rustenburg. Ryk en arm is deel van die probleem.

Dienkie ·

Bekommerd, die Polisie / Metropolisie moet AL die spaza winkels in Pretoria Wes sluit. Daar is vir my net te veel van hierdie winkels wat soos paddastoele verskyn. Hoe kan die Metroraad hierdie winkels op residensiele eiendomme toelaat?

Wonder ·

Waar is die mense wat die dagga goedkeering so geprys het, gesê het hoe wonderlik dit is… Dis wat julle voor ja sê jong mense wat se lewens vernietig word. Dan wil ons wonder waar is ons God, ons wil steen op die hand van Amerika, hoekom word ons nie weer heilig en vertrou op God nie

linda limbo ·

beste wonder…….
lees weer dit is nie DAGGA nie, dit is sintetiese middel wat niks met dagga te doen het
dit word in ‘n lab of kombuis gemaak, niks in die middel is plantaardig

Sarel ·

Hoe het hierdie middel wettiglik op die mark verskyn en hoekom was die ondersoek nie deur die Gautengse Gedondheidsdept. of Polisie gedoen nie. Politisie? Staatsamptenaar wst met geld in sy sak rondloop?

Justice ·

Sarel ek het presies aan dieselfde gedink – uitstekende inisiatief en vinnige aksie van Mike Bolhuis om feitlike inligting te bekom.

Tina ·

Drugdealers, sintetiese medisyne, crystal meth, rook en karre maak kinders dood – nie plante nie. Gewone dagga moet so vrylik beskikbaar word, sodat drugdealers nie meer ‘n bestaan daarvan kan maak nie.

Verban rook in publieke plekke en sluit drugdealers toe. Moenie plante verban nie. God het plante gegee vir genesing.

Die boere moet dagga plant vir goedkoop en skoon brandstof en goedkoop papier . Dit sal ons bome spaar en ons lug skoon hou. Dit gebruik geen gifstowwe wat in riviere sal beland nie.

linda limbo ·

Danie Tina!
kom ek en jy word boere daar in Zim en dan voer ons u it na SA?

Steven ·

Aan Wonder: is jy blind of kan jy net nie lees nie, ou maat? gewone dagga het NIKS met die te doen nie, wel al die ander middels wat saam in die pakkies was.

ctd ·

Is dit nie beter om glad nie te rook nie . Jy is gesonder en het meer geld in jou sak.

Frances ·

Rook is nie n groter gesondheids risiko as mense wat hulle tot vetsug eet nie en ek hoor niemand daaroor te kere gaan nie! want netnou maak jy dalk iemand se gevoelens seer!

Elsa ·

Ek sê weereens dankie aan die persoon wat hierdie video op FB bekendgemaak het, want daardeur is baie mense se oë oopgemaak en het ons bewus geword van hierdie gevaarlike dwelm. Wat my net dronkslaan, is hoe kon hierdie Herbal Bland of Herbal Spice op tabak – en drankwinkels se rakke beland het en nogal ‘wettig” verkoop geword het?

Aan die mense wat so uit die hoogte uit neersien op dwelmgebruikers en sommer ook die ouers skuld gee, gaan op jul knieë en dank God dat hierdie hel jou gesin gespaar is. Gregg Kuhn, vir jou wil ek dankie sê dat jy nie skaam is om openlik te praat en mense bewus laat word het teen die gevare van hierdie middel nie. Mag jy die krag en genade van BO kry om teen dwelms te kan veg en mag jy vorentoe ten volle genees en die wilskrag ontvang om skoon te kan bly! Sterkte!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.