Herbesin oor taalbeleid, vra SA Akademie vir Kovsies

universiteit van die vrystaat kovsies

Universiteit van die Vrystaat. Foto: UV, Facebook

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) se besluit om sy onderrig- en voertaal van 2017 af te verengels, is onbesonne en onverantwoordelik, meen die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.

“Dit dien nie die nasionale belang van die land nie en neem allermins die demografiese statistiek rondom die plek van Afrikaans in ag,” het dr. Dionē Prinsloo, uitvoerende hoof, gesê. “Die SA Akademie steun AfriForum se hofaksie om die UV se besluit tot verengelsing van die instelling te stuit.”

Prinsloo het bygevoeg die SA Akademie het met teleurstelling en kommer kennis geneem dat Engels die onderrig- en administratiewe taal by die UV vanaf die aanvang van die akademiese jaar in 2017 sal wees. “Die Akademie is oortuig dat hierdie verreikende besluit nóg in belang van die universiteit nóg in belang van die voorsiening van skaars vaardighede vir die land as geheel sal wees.”

Volgens haar is daar oorweldigende bewyse dat studente die beste in hulle moedertaal presteer. “Die UV het ‘n trotse verlede en het nasionaal en internasionaal aansien verwerf met Afrikaans as onderrigtaal. ‘n Universiteit word deur ‘n bepaalde gemeenskap tot stand gebring en onderhou. So het die UV oor dekades ‘n trots by personeel, oudstudente, donateurs en die breë publiek verwerf.”

Prinsloo het gesê daar is wêreldwyd bewyse dat wanneer ‘n universiteit van die ondersteuningsbasis vervreem word, daar ‘n verlies van uitnemende personeel en studente plaasvind wat daartoe lei dat standaarde onvermydelik daal. “Die UV werf Afrikaanstalige studente wat uitstekend presteer en hulle studies in die minimumtydperke voltooi. Baie studeer nagraads. ‘n Universiteit kan nie bekostig om hierdie kategorie studente te verloor nie.”

Sy het verduidelik vanweë die sentrale plekligging van die UV gaan Afrikaanstalige studente logieserwyse na die UV. “Benewens Afrikaanstalige studente uit die provinsie self, dien daarop gelet te word dat 53% van die Noord-Kaap se totale bevolking Afrikaanssprekend is. Gauteng het 1,6 miljoen Afrikaanstalige mense en word ‘n natuurlike voedingsgebied vir die UV, veral nadat die UJ verengels het.

“Met die besluit tot verengelsing ondermyn die UV sy eie akademiese statuur ten dienste van politieke gewin en gee hiermee toe aan die wense van groepe vir wie Engels dikwels ‘n tweede of selfs ‘n derde taal is. Die SA Akademie erken die belang van Engels as akademiese taal, as landstaal en as omgangstaal. Die taaldemografiese werklikheid van die plek van Afrikaans moet egter ook in ag geneem word. Die Akademie is oortuig dat lesings in Afrikaans en Engels as onderrigtale op voorgraadse vlak aangebied kan word; en ondersteun die ontwikkeling van Sotho heelhartig en sal aktief bydraes maak ter uitbouing van dié taal.”

Die SA Akademie versoek die bestuur van die UV om sy besluit te hersien en te sorg dat die UV steeds ook ‘n nismark bied vir studente wat in Afrikaans wil studeer en grade in Afrikaans wil verwerf. “Die UV is dit verskuldig aan die Afrikaanssprekers in sy voedingsgebied en as nasionale instelling aan almal in Suid-Afrika wat in Afrikaans wil studeer. ‘n Vriendelike dog dringende beroep word derhalwe op die universiteitsraad gedoen om te verseker dat Afrikaans sy regmatige plek op ‘n hoofkampus waar die onmiddellike ondersteuningsgemeenskap oorwegend Afrikaanstalig is sal behou,” het Prinsloo bygevoeg.

“Dit is byna seker – deur Afrikaans uit te rangeer – dat die UV baie van sy oudstudente en sekere donateurs se lojaliteit en steun sal ontbeer. Die UV in ‘n ‘Engelse gedaante’ sal die gevolge hiervan moet dra en waarskynlik ‘n nuwe steunbasis moet werf. Die rektor van UV, prof. Jonathan Jansen, het verskeie kere die versekering gegee dat Afrikaans ‘n vaste plek by die UV het en Afrikaans se status veilig is binne die UV. Die SA Akademie doen ‘n beroep op hom om in sy hoedanigheid as rektor en as lid van die SA Akademie sy woord gestand te doen en ‘n vaste plek vir Afrikaans binne die UV te handhaaf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Grap ·

Hoekom tyd mors help solidariteit om Akademia uit te brei na die grootste universiteit in Suid-Afrika en laat blade en Jansen hulle besig hou met hulle taal verkragting.

Therese van Schalkwyk ·

Haai, dr. Prinsloo, het julle in hierdie uiters laat stadium uiteindelik wakker geskrik? Die uitdrukking, “liewer laat as nooit”, is seker nou hier van toepassing?

Ek hou die gebeure op die Kovsie-kampus nou geruime tyd dop en is sprakeloos oor die tragedie wat besig is om hom af te speel. Daar is ook ‘n uitdrukking, “te min, te laat”.

Nugter alleen weet wat presies die Afrikaanse Taalraad, die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns ens. ens. ens. die afgelope meer as 20 jaar mee besig was!

John ·

Dis nie net taal wat ter sprake is nie. Die kultuur van die Afrikaanssprekende mense word ook so geminag. Die Afrikaners en die Kleurlinge, elk met hul eie unieke kulturele erfgoed, word deur die summiere verengelsing, in die gesig gevat. Die rektor van UV beloof een ding, maar doen ‘n ander ding. Wat noem ‘n mens so ‘n persoon in goeie Afrikaans? Nie ‘n draadsitter nie, nee.

hans ·

Ondersteun ten volle die behoud van Afrikaans by UV. Moet daar nie ook n veldtog teen die Voorsitter van UV se Raad begin word nie. Prof Jansen behoort te weet dat Engels baie beslis nie die enigste sogenaamde ‘wereldtaal’ is nie.

JC ·

Moenie kommer nie, Solidariteit gaan die saak wen. Wat die UV raad doen is ongrondwetlik EN HULLE WEET DIT! Al moet die UV nou ook gedwing word om Afrikaanses se grondwetlike regte te respekteer, in Afrikaans sal daar geleer word! Akademia is baie besonders, maar universiteite (kampusse) soos Tuks, Pukke, Maties en Bloemfontein MOET steeds ‘n plek bied vir Afrikaans! Baie mense gaan ook AKADEMIA toe gaan in elk geval, maar wat van die Bloemfonteiners wat nie klasse by AKADEMIA kan bywoon nie indien daar byvoorbeeld nie ‘n AKADEMIA kampus in Bloem is nie? Nee, AFRIKAANS MOET BLY!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.