Herdenkingsdiens by Marikana gehou

Wonderkop naby Marikana op 16 Augustus 2014 Foto: @ewnupdates, Twitter

Wonderkop naby Marikana op 16 Augustus 2014 Foto: @ewnupdates, Twitter

‘n Herdenkingsdiens word Saterdag by die Wonderkop naby Marikana gehou vir die 44 mense wat in Augustus 2012 tydens stakingsverwante geweld gesterf het.

Die ANC het Saterdag gesê die herdenking van die skietery by Marikana moet gebruik word om diegene wat gesterf het, te onthou. “Ons dink aan die 44 mense wat in die voorafgaande 10 dae en op 16 Augustus 2012 by Marikana gesterf het,” het Zizi Kodwa, woordvoerder van die party, in ‘n verklaring gesê.

Altesaam 44 mense is dood tydens stakingsverwante geweld by Lonmin se platinummyn naby Rustenburg in Noordwes. Altesaam 34 stakende mynwerkers is dood toe die polisie op hulle losgebrand het. Meer as 70 mense is beseer en meer as 250 is op 16 Augustus 2012 in hegtenis geneem. Tien ander mense, insluitend twee polisiebeamptes en twee sekuriteitswagte het in die voorafgaande week gesterf.

Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) en Mmusi Maimane, parlementêre leier van die DA, sal na verwagting toesprake lewer tydens die byeenkoms.

Kodwa het gesê die Farlam-kommissie van Ondersoek wat deur pres. Jacob Zuma saamgestel is, moet binnekort sy ondersoek oor die skietery afhandel. “Ons hoop dat die kommissie binnekort die nodige antwoorde aan die land sal kan gee,” het hy gesê.

Intussen het Sam Mokaila, woordvoerder vir Noordwes-premier Supra Mahumapelo, gesê die provinsiale regering het nie ‘n uitnodiging ontvang om die byeenkoms by te woon nie. “As ons ‘n uitnodiging ontvang het, sou ons die geleentheid bygewoon het,” het Mokaila gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.