Herdenkingstaptog ná rowers pa doodskiet

Gary Mackay. Foto: Facebook.

Gary Mackay. Foto: Facebook.

ʼn Staptog ter gedagtenis van Gary Mackay (36), die man wat Saterdag in sy huis in Westville in Durban deur gewapende rowers doodgeskiet is, sal Woensdag in dié stad gehou word.

MacKay is in die vroeë oggendure doodgeskiet nadat hy glo geluide in die huis gehoor het en na die onderste verdieping gegaan het om ondersoek in te stel. Hy het hom in drie gewapende rowers vasgeloop en is in die maag geskiet. Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het vroeër aan Maroela Media gesê die voorval het by ʼn huis in Duncanrylaan gebeur.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911 wat na die toneel ontbied is, het gesê MacKay het nog gelewe toe paramedici by die huis opgedaag het. “Paramedici het nagenoeg ʼn halfuur gepoog om die man te stabiliseer, maar dit was tevergeefs. Hy is op die toneel dood verklaar,” het Botha gesê.

MacKay se vrou, Symone, en hul twee dogtertjies, onderskeidelik 19 maande en vier jaar oud, was op die boonste verdieping van die huis toe MacKay geskiet is. Die verdagtes het glo daarna met verskeie waardevolle items op die vlug geslaan.

Zwane het Dinsdag gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort.

Symone het Dinsdag op haar Facebook-blad besonderhede omtrent die herdenkingstaptog gedeel. Sy het mense gevra om wit hemde en denimbroeke te dra en ʼn kers saam te bring. Sy het die plasing afgesluit met “together we can be strong”.

MacKay se skoonpa, Orlando Pereira, het aan IOL gesê sy skoonseun was ʼn aktiewe, sosiale mens wat altyd die behoeftes van sy gesin eerste geplaas het. “Dit is baie moeilik vir ons om te glo dat hy weg is,” het Pereira gesê. ‘n Woordvoerder by Pereira se besigheid het gesê hy is nie tans vir kommentaar beskikbaar nie en Maroela Media wag op terugvoer.

ʼn Vriend van MacKay het intussen ʼn aanlyn-geldinsamelingsprojek op die been gebring om geld vir Symone en die familie in te samel. Teen Dinsdagmiddag was daar reeds sowat R117 000 ingesamel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jean ·

In watter ander land word onskuldige mense so afgemaai in hulle huise terwyl die regering en die polisie nie ‘n woord se nie? Maar as een polisieman doodgeskiet word, trek ministers en almal saam na die begrafnis en probeer om die gesin te help wat agterbly. Waar is die ministers wat so graag besoek gaan afle aan die slagoffers se familie? Hoekom is ons regering so STIL oor misdaad, of gaan hulle net iets se as daar met hulle familie iets gebeur?

Andries ·

My innige simpatie met die familie en hulle verlies. Meer as 18000 moorde in een jaar in Suid-Afrika. Dit is oorlog?

treurgrond ·

Treurgrond – die regte woord want dit is wat Suid Afrika geword het ‘n Treurgrond. Andries jy is helemal helemal reg dink ek . Dit is oorlog? My innige innige simpatie aan Symone ek sou graag net jou hande wou vashou en vir jou se Together we can be strong soos jy se Symone. Sjoe dit is net hartseer hartseer hartseer vir Symone en haar twee doggertjies wat net vir hulle pappa gaan soek baie hartseer. My gebede is saam met julle.

Petro ·

Dis beslis nie net wittes wat vermoor word nie.. wat in die townships aangaan is ook oorlog…en net so hartseer
Ons moet alle moorde veroordeel…

Denise ·

Dit is hartseer en dit raak net erger en dit is soos Jean se die polisie braak gal maar elke dag word onskuldige mense vermoor nerens is jy meer veilig nie nie eens in jou privaat woning nie !!!! Sterkte aan die moeder en kinders !!!

Isabel ·

Innige meegevoel. 20 Julie het ek ook geluide gehoor. Op gestaan om te kyk. Toe ek by my deur uitkom, staan meneer n meter van my af en skiet op my. Mis. Toe skiet ons. Hul wapens het so op n streep gele soos hul gehardloop het ek hul bloed ook.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.