‘Here help my’ pleit weduwee tydens ontvoeringsdrama

Brenda en haar seun Werner. Foto: Verskaf

Brenda en haar seun Werner. Foto: Verskaf

Brenda Claassen (61) het net heeltyd by die Here gepleit dat hulle haar nie sal verkrag nie terwyl haar ontvoerders vir ure lank met haar rondgery het.

Claassen het Sondagaand net na 18:00 buite haar plaashuis in Kirkwood met haar twee bulterriërs gespeel voordat sy die huis in is om kos te maak en voor die televisie te ontspan. “Ek het van die kombuis af deur die eetkamer geloop, toe ek deur twee mans oorval is.”

Die mans het Claassen met ʼn voorwerp deur die gesig geslaan voordat hulle haar op die grond vasgedruk het. “Een van hulle het bo-op my gesit en my mond vasgehou. Ek het gemompel dat ek nie sal skree nie.” Die aanvallers het op vuurwapens aangedring.

Claassen se man is vier maande gelede dood en sy vuurwapen was nog in die huis. “Ek het by die Here gepleit dat hulle my asseblief net nie moet verkrag nie.” Een van die verdagtes het intussen die vuurwapen opgespoor. Die mans het Claassen laat opstaan en haar arms agter haar rug vasgehou. Hulle het saam met haar in die sitkamer gesit totdat dit donker geword het.

Die mans het ʼn sak vol huishoudelike items ingepak. Een van die verdagtes het vir die agterdeur se sleutel gevra en dis toe dat Claassen hoor daar is ʼn derde verdagte. Sy vermoed die verdagtes het haar honde met iets ingespuit en dat hulle daarom nie die verdagtes aangeval het nie. Die verdagtes het intussen ook die geld wat in haar beursie en in die huis was, bymekaargemaak.

“Hulle net nog geld gesoek. Hulle het gesê ek werk al so lank op die plaas, ek moet baie geld hê. Hulle het op my selfoon gesien dat ek R10 000 in my bankrekening het. Ek het my bankkaart en pinkode vir hulle gegee en gedink dis nou verby.”

Die verdagtes het Claassen egter na buite gevat en in haar wit VW Golf op die agterste sitplek ingedwing. ʼn Gewapende verdagte het agter by haar gesit en die ander twee voor. ʼn Entjie van die huis af het hulle agtergekom die sak met huishoudelike goedere is nog by die huis. Hulle het omgedraai en eers die sak gaan haal voordat hulle na Addo gery en daar by ʼn kitsbank stilgehou het.

“My daaglikse onttrekkingslimiet is R3 000. Hulle was kwaad omdat hulle net dit kon trek. Hulle het toe met my rondgery, aangesien hulle tot middernag wou wag om weer geld te trek.”

Claassen het deurentyd gebid. “Here ek kan nie so lank saam hulle in die kar wees nie. Die preek Sondag in die kerk was oor mense wat buite-aardse wesens is en dat ons net tydelik op aarde is en die krag van gebed. Hierdie drie mense was nie Christene nie, anders sou hulle dit nie aan my gedoen het nie. Ek het gebid Here ek is in jou hande. Jy is die enigste een wat hulle kan beheer. Gee asseblief vir hulle kalmte dat hulle niks aan my sal doen nie. Gee ook vir my kalmte. Ek het geweet ʼn wonderwerk gaan gebeur.”

Die verdagtes het hierna in die rigting van Port Elizabeth gery en kort-kort stilgehou. “Hulle was op soek na ʼn sjebeen maar alles was gesluit. Dit was die Here se genade. Hulle het in Xhosa gepraat en ek het gehoor hulle wil KFC toe gaan. Ons het hierna deur Despatch na Uitenhage gery.”

Die verdagtes het by ʼn KFC in Kwadwesi stilgehou. “Hulle het vir my ook KFC aangebied, maar ek het gesê ek is nie honger nie. My reënjas was in die motor en hulle het my gedwing om dit aan te trek en die kappie oor my kop te sit. As iemand naby ons verbygeloop het, het hulle my platgedruk.”

Brenda by haar oorlede man Harry. Foto: Verskaf

Brenda by haar oorlede man Harry. Foto: Verskaf

Polisiebeamptes van die Kwadwesi-polisie het Claassen egter in die motor opgemerk en onraad vermoed. Die beamptes het gaan ondersoek instel, waarna die verdagtes weggejaag het. Die polisie het die verdagtes agternagesit en ʼn hoëspoedjaagtog in die rigting van Uitenhage het gevolg.

“Ek het agtergekom ons begin vinniger ry. Die polisie het in ʼn stadium verby ons gery. O, Jesus asseblief sien my raak, het ek gebid. Ons het hierna verskriklik begin jaag en ek het gedink iets is verkeerd. Ons het langs die pad stilgehou en al drie het uit die motor gespring en die bosse in gehardloop.”

ʼn Skietery het tussen die polisie en verdagtes ontstaan. Twee van die verdagtes is deur beamptes van die Uitenhage- en Port Elizabeth-polisie se honde-eenheid aangekeer en in hegtenis geneem. Die derde verdagte kon daarin slaag om te ontsnap. Niemand is in die skietery beseer nie. Claassen is onmiddellik na ʼn hospitaal in Uitenhage geneem. Dit was net na 23:00.

Kapt. Gerda Swart, woordvoerder van die polisie, het intussen bevestig die derde verdagte is Woensdagoggend in Moses Mabida in Kirkwood in hegtenis geneem. “Die polisie het ook beslag gelê op die vuurwapen wat glo in die uitvoering van die misdaad gebruik is. Die 28-jarige verdagte sal Vrydag in die Kirkwood-landdroshof verskyn op aanklagte van huisroof, ontvoering en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen.”

Die ander twee verdagtes, Thembela Bele (32) en Chumani Buqani (24), het Woensdag in die Kirkwood-landdroshof verskyn. Die saak is tot 2 November uitgestel.

“Ek begin nou eers agterkom hoe goed die Here vir my was.” Claassen het gesê sy is baie dankbaar dat die aanvallers in hegtenis geneem is. “Ek bid net dat hulle die swaarste straf sal kry, sodat hulle dit nie weer aan iemand anders kan doen nie.”

Claassen gaan tans by familie tuis.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Verwonderd ·

Ons hart haan uit na jou vir die trauma waardeur jy is, maar slle eer aan ons getroue God en Hemelse Vader! Soos Hy jou tydens die gebeure bygestaan het, so sal Hy ook doen in hierdie hersteltyd. So word jou storie ook ‘n lewende getuienis van die krag van gebed veral waar ons tog so dikwels magteloos voel. Hy is en bly en sal getrou wees tot in alle ewigheid! Hou aan bid!

C ·

Ai Brenda. Dit is so hartseer om hierdie berig te lees. Ek is baie bly en genadiglik dankbaar teenoor die Here dat Hy jou deur hierdie hele storie so mooi opgepas het en veilig terug gebring het. Sterkte, dit moet erg dramaties gewees het.

Piet Pompies ·

Baie jammer oor die gebeurtenis, uitstekende werk deur die lede van die SAP

sharon ·

so innig dankbaar sy is ongedeerd … dit moes emosionele hel vir haar gewees het.

Elizabeth ·

HY is getrou. ALles wat jy in Sy naam vra SAL hy vir jou doen. Dit is een van Sy beloftes. Bly jy is veilig.

sus ·

Uitstekende werk SAP! Dit maak my woedend dat die studente betogers die polisie so kan aanval maar as hulle reageer word ondersoeke gelas. Dis regtig siek. Tweedens, raak ontslae van daai wapens in die kluis. Derdens, jaart honde wat nie: in die huis ook bly nie gaan jou nie beskerm nie want die huis is nie deel van hulle territory nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.