‘Here, help ons’, bid vrou tydens aanval

Basie en Marleen Niemandt.

“Ek het net gesê, ‘Here, help ons’. Ek het nie besef ʼn mens het soveel krag in jou nie.”

Só vertel Marleen Niemandt (60), ʼn onderwyseres van Brits, nadat sy en haar man, Basie (65), die afgelope naweek by hul huis net buite dié dorp in Noordwes aangeval is.

Die egpaar bedryf ook ʼn funksievenue op die perseel.

Marleen sê Basie is omstreeks 19:00 Saterdag na buite om ʼn hek te gaan sluit toe ʼn jong man, gewapen met ʼn mes, hom oorrompel het. Sy sê die man het Basie aan die arm beetgekry, maar hy het oënskynlik besef as hy in die huis ingedwing word, is Marleen óók in die moeilikheid. Hy het na sy vrou geroep om haar teen die aanvaller te probeer waarsku en sy het besef sy moet iets doen om haar man te help.

Marleen sê die aanvaller het in Afrikaans met haar gepraat en gedreig om haar dood te steek.

Hy en Basie was in ʼn stryd om lewe en dood gewikkel en Marleen sê sy het enigiets waarop sy haar hande kon lê, gebruik om die aanvaller van haar man weg te kry.

“Ek het eers ʼn besem op hom stukkend geslaan en toe ʼn tuinstoel gegryp, enigiets wat ek in die hande kon kry. Ek het geveg vir my man en die liewe Here het vir my krag gegee,” het Marleen Maandag gesê.

“Hy het aangehou om my man te steek. Hy het net nie opgehou nie – so ek het óók nie opgehou nie. Ná ʼn helse stryd het ek my man in die huis gekry en nog steeds het die aanvaller probeer steek.”

Marleen sê binne-in die huis kon sy die paniekknoppie druk en die alarm wat begin loei het, het eindelik die man in sy spore gestuit.

Basie is etlike kere gesteek en is ernstig beseer. Marleen moes na die motorhuis, ʼn hele ent van die huis, die donker nag in om die motor te gaan haal om met haar man na ʼn hospitaal te jaag. Basie het kort-kort sy bewussyn verloor en Marleen sê sy het deurlopend by hom gepleit om by haar te bly.

“Dan word hy flou, dan pluk ek hom weer op en sê vir hom hy kan my nie los nie.”

Basie word steeds in die hoësorgeenheid van die Mediclinic Brits behandel nadat hy Sondag ʼn groot operasie ondergaan het. Hy gaan na verwagting nog ʼn geruime tyd in die hospitaal behandel word.

Marleen woon intussen by familie in die omgewing, maar sê sy gaan weer terug huis toe.

“ʼn Mens moenie toelaat dat iemand jou droom steel nie.”

Volgens Marleen is dit ʼn raaisel hoe die aanvaller op die erf gekom het. Daar is ʼn palissadeheining, strale (beams) en ʼn elektriese heining – en daar was nog glad nie vantevore enige ander misdaadvoorvalle by hulle nie. Dit wil ook voorkom of nóg aanvallers net buite die perseel geskuil het.

Lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder in Noordwes, het gesê ʼn saak van ernstige aanranding word ondersoek. Volgens haar het die aanvaller niks geëis nie en dit blyk ook nie dat enigiets gesteel is nie. Die verdagte is steeds soek.

Marleen was Maandag weer op haar pos by die laerskool op Mooinooi waar sy skoolhou. Haar kop moet besig bly, sê sy.

Hulle het sedertdien ook geweldig baie ondersteuning ontvang.

“Ons het ʼn ongelooflike familie, gemeenskap en vriendekring. Ek kan nie vir almal genoeg dankie sê nie. Ons kry ongekende ondersteuning.

“Dank die Here,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Persheks Adri ·

Sinneloos al hierdie aanvalle teen ons! Hoekom net ernstige aanranding nie poging tot moord nie SAPS? Hy het immers ‘n mes gebruik om die oom te steek?

Rose ·

Dit is poging tot moord, as sy nie so hewig terugbaklei het nie, was haar man en selfs sy dood.

Androclus ·

Ernstige aanranding nee liewer poging tot moord dit klink seker beter.

Sandra ·

Saps maak sulke aanvalle teen oor ons nasie af as niks. Geen person nog in hegtenis geneem nie, want dis n prioriteit nie.
Ons Vader Se krag het deur haar gevloei. Dankie Vader Dat u hulle lewens gespaar het.

johanf ·

Mooi tannie, wys hulle, hoop die oom herstel gou, was die vir haar, en die medici, was hy dood…. Hy is dan steeds in ń hoësorgeenheid,…
Met alle respek Lt.kol. Amanda Funani, ek dink die is niks minder as Poging tot Moord nie….

Annelize ·

‘n Saak van ernstige aanranding word ondersoek, se jy Amanda Funani? Wat van poging tot moord? want dit is wat die swerkater se eintlike doel was. om te moor. Hy was beslis nie daar vir “koek en tee” nie.

Marius ·

Dit maak my baie bang as SAPS nie hulle eie wette ken nie . Ernstige aanranding – regtig . Poging tot moord eerder ja . Baie sterkte aan die oom en tannie . Baie bly die tannie het n paar houe ingekry .

Sylvia ·

Dit wys net waartoe vrouens in staat is, hoop haar man word vinnig gesond. Vrees doen baie goed en al wat sy wou doen is om haar man te help, daarom het sy eers later die paniekknoppie gedruk, Ek wonder of ‘n plan van aksie dalk ook kan help met diesulke aanvalle.

Anel ·

Nog nooit van ernstige aanranding gehoor nie. Net aanranding met die doel om ernstig te beseer en poging tot moord. Hierdie is poging tot moord. Sy as offisier ken nie haar wet nie. Sy is nie die naam offisier werd nie. Mev. jy is ‘n vrou duisend. Baie sterkte vir julle.

Derek ·

Toe die boosheid my gif ingegee het in Rustenburg het my geloof my genees sonder enige medikasie. Met ons aanval in Oos Londen het ek krag ontvang om die mes uit my liggaam te trek en dit af te neem. Die woord leer ons: julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom! Ons moet terug beweeg na die Waarheid, die Woord van God, ons krag is in Hom, onsself is niks! Weg van godsdiens!

Gerhard ·

Ai my tannie. Haal my hoed vir jou af met jou dapperheid. Ek wens dit het julle nooit oorgekom nie.

Lynette ·

WAAR’S JOU VUURWAPEN?? Dan het hy gekry wat hom TOEKOM en was daar een moordenaar minder.

Mrs H ·

Ernstige aanranding? Hahaha As die vrou nie daar was om haar man te help nie, was hy dood. En hulle ondersoek aanranding?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.