Herhaling van Beiroet-ontploffing dreig dalk by depot in SA

Beiroet se hawe ná ‘n reuse ontploffing vroeg in Augustus. (Foto: AP Photo/Hassan Ammar)

ʼn Katastrofe selfs groter as die ontploffing in Beiroet in Libanon dreig by ʼn ammunisiestoorplek in die Karoo indien die regering nie dringend ingryp nie.

Die weermag stoor al vir langer as 30 jaar miljoene verouderde patrone en oortollige ammunisie by 97 Ammunisiedepot buite De Aar in die Noord-Kaap. Dit is in omvang meer as tien keer die springstof wat verantwoordelik was vir die ontploffing vroeg in Augustus in Beiroet. Soveel as 180 mense is dood en 6 000 beseer in dié ontploffing.

Die ammunisie in De Aar sluit in swaar kaliber projektiele, lekkende vliegtuigbomme, onstabiele kanonrondes en onstabiele missiele. Die depot is die grootste van sy soort in die Suidelike Halfrond en beslaan ʼn area wat so groot soos 29 rugbyvelde is en deur ʼn spoornetwerk van 49 kilometer bedien word.

Kenners waarsku nou dat dié bergingsfasiliteit ʼn ongeluk is wat wag om te gebeur weens verouderde sekuriteitstelsels en ʼn gebrek aan opknapping by die depot.

Die hoogs gespesialiseerde sekuriteitstelsel wat dié wapens moet bewaar, is die afgelope vyf jaar gedeeltelik buite werking omdat die kontrak met die private maatskappy wat die stelsel ontwerp en bestuur het in 2015 ten einde geloop het.

Die treinspore by die ammunisiedepot op De Aar.

Maroela Media het uit verskeie betroubare bronne verneem die elektriese stroombaan van die heining en die slotmeganismes by van die hekke werk nie, wat beteken die gesofistikeerde biometriese veiligheidstelsel wat etlike miljoene rand gekos het, is in onbruik. Die landingstrook wat voorheen met veiligheidskameras toegerus en permanent bewaak was, word nou slegs bedags deur ʼn paar wagte opgepas.

Wat die situasie vererger is dat daar ook ʼn tekort aan tegniese personeel is om die ammunisie te monitor en volgens voorskrifte op te tree.

Rudolph de Beer, uitvoerende hoof van LS Turnkey in Port Elizabeth wat die sekuriteitstelstelsel in 1993 vir die weermag ontwerp, oor die jare opgegradeer en tot 2015 bestuur het, sê ʼn gebrek aan voertuie beteken personeel kan nie by die 175 magasyne uitkom om instandhouding te doen nie.

“Die bunkers moet onderhou word, maar daar is nie voertuie beskikbaar nie.  Personeel moet daar op en afgelaai word want jy kan byvoorbeeld nie binne rook of eet of ʼn selfoon gebruik nie. Dit sal gewis ʼn hewige ontploffing tot gevolg hê, maar niemand neem verantwoordelikheid nie,” sê hy.

Pieter Groenewald, die leier van die Vryheidsfront Plus en kenner van swaar ammunisie, meen die grootste gevaar is die onstabiliteit van die bomme waarvan die raklewe tussen tien en 20 jaar is en dus lankal verstryk het.

(Foto: Google Earth)

Groenewald het vir tien jaar by Naschem gewerk voordat hy ʼn politikus geword het. Naschem het in die tagtigerjare vir die leër, lugmag en vloot artillerie-ammunisie en bomme ontwerp en vervaardig.

“As die bomme oud is, gaan hulle almal afgaan, want bomme uit die sewentigs en tagtigs wat te lank staan vorm kristalle en selfs die statiese elektrisiteit wat deur ʼn mens se klere veroorsaak word kan ʼn ontpoffing tot gevolg hê,” sê hy. “Die goed is skrikwekkend sensitief en die risiko is geweldig groot as mense nie weet hoe om op te tree nie.”

“De Aar is ʼn tydbom,” sê nog ʼn wapen- en ammunisiekenner wat verkies om anoniem te bly. Hy voorsien dat ʼn ontploffing in een van die magasyne die aarde so sal skud dat dit die ander onstabiele bomme ook sal laat ontplof.

Die weermag beweer die ammunisie word volgens internasionale goedgekeurde kategorieë en metodes geberg om die veiligste en mees stabiele bergings-toestande te verseker.  “Inspeksies word jaarliks uitgevoer om onveilige ammunisie te prioritiseer vir onmiddellike vernietiging,” het Siphiwe Dlamini, die weermag se mediawoordvoerder, aan Maroela Media gesê.

(Argieffoto: pixabay)

“Benewens hierdie inspeksies word funksionele toetse ook op die ammunisie uitgevoer en as deel daarvan word dit visueel en fisiek nagegaan en deur ammunisie-spesialiste getoets om te verseker dat dit steeds veilig geberg, vervoer en hanteer kan word.”

Dlamini sê sedert 2009 is van sowat ʼn duisend ton gestoorde ammunisie per jaar ontslae geraak deur middel van konvensionele verbrandings- en ontploffingsmetodes of deur dit te verkoop.

Volgens dokumente in Maroela Media se besit het ʼn parlementêre komitee in 2003 beraam dat dit 34 jaar sal neem om van al die ammunisie ontslae te raak as dié metodes gebruik word en die plan was toe om ʼn ammunisie-opruimingsaanleg te bou wat die proses aansienlik sou versnel het. Dieselfde voorstel is weer in 2004 en 2005 deur die komitee bespreek, maar dit het nooit gerealiseer nie.

Die dokument verwys na 141 000 ton ammunisie met ʼn gemiddelde ouderdom van 17 jaar wat by militêre basisse in die land gestoor is en vernietig moes word. Daarvan was 23 000 ton op dié tydstip in De Aar se magasyne gestoor, maar ʼn groot hoeveelheid ammunisie wat by Jan Kempdorp gestoor is, is later ook gedeeltelik na De Aar oorgeplaas.

Die weermag sê hy is tans verantwoordelik vir die instandhouding van die hoë sekuriteit-omheining by die De Aar-depot en dat dit ook tans opgegradeer word. “Wanneer die opgradering voltooi is, sal met die proses begin word om ʼn nuwe kontrakteur aan te stel,” het Dlamini gesê.

Brig.genl. Xolani Mabanga het in 2016 ʼn soortgelyke antwoord aan die media gegee oor die gebrek aan sekuriteit by die De Aar-depot. “Die weermag is besig om oor ʼn nuwe beveiligingskontrak te onderhandel,” was vier jaar gelede sy antwoord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
pieterweskaap

Dis onder normale ANC-bestuur soos ESKOM, SAL, DENEL…….ens., ens!

Vrijburger

Wat van ‘n ANC jeug en kader werkverskaffings projek by die basis?

Anel

Hiekom moet privaat sekuriteit betaal word? Hoekom kan die weermag hulle nie self oppas nie? Vroeër jare het die weermag en polisie self hulle wagdienste gedoen. Blougatte of as straf het jy hekwag gestaan. Maar nou ja, die lot wil nie werk nie. Dis mos makliker om iemand te betaal.
En hoe dom kan mens wees om hierdie rugbaar te maak! Nou weet al wat ‘n krimineel is dat daar onbewaakte ammunisie iewers is. En ek glo nie daar is iemand wat gekwalifiseer is wat weet wat met die springstof of ammunisie aangaan in op daardie basis nie.

Johannes

Tyd vir die ANC om daar te gaan betoog

Jaco

In Libanon is NIE regstellende aksie nie so meriete tel daar om werk te kry. Tóg het die ramp hulle getref. So ek wonder maar net, WAT gaan in De Aar gebeur? Dieselfde met Koeberg kernkragstasie in Kaapstad. Ek sidder om te dink watse aaklige gevolge wag wanneer ‘n regstellende aksie kader eendag die verkeerde knoppie by Koeberg druk…..