Herlewing van Anneli-snitte ʼn ‘vreugde, voorreg’ vir dié ikoon

Anneli van Rooyen. (Foto: Facebook)

Min Suid-Afrikaners ken nie die eerste paar note van die geliefde Anneli van Rooyen-treffers “Neem my op vlerke” en “Ek lewe” nie.

ʼn Heel nuwe generasie leer ken nou weer dié Afrikaanse treffers sedert dit herverwerk is met ʼn voetstamp-ritme wat die snit 40 jaar nadat dit uitgereik is, weer boaan speel- en trefferslyste laat beland.

Anneli (63), wat deesdae ʼn salige dog lewenslustige bestaan op George in die Wes-Kaap voer, bieg in ʼn onderhoud met Maroela Media dat sy aanvanklik versigtig was om te “torring” aan ʼn liedjie wat vier dekades lank sy trefkrag en boodskap behou.

“Maar kyk, die manier hoe Nic Burger en sy span by Universal Musiek met die verwerking omgegaan het, gee vir die liedjies ekstra skop, en sê vir ʼn ou: Kom nou, ou matta, laat waai Meraai en vat hom Flaffie!” lag Anneli geesdriftig.

“Die oordeelkundige en entoesiastiese manier waarop die projek aangepak is, het vir my gesê hierdie ouens wil saam met die trefkrag van die liedjie werk en nie die resep deurmekaarklits nie. Dit was vir my ʼn groot vertroosting.”

Die omslag van Anneli se debuutalbum, “Ek wil jou ken”, waarin die liedjie, “Neem my op vlerke”, in 1984 verskyn het.

“Neem my op vlerke” het in 1984 in Anneli se debuutalbum, Ek wil jou ken, verskyn. “Ek lewe” is twee jaar later uitgereik.

“Die eindresultaat van die verwerkings het vir my gevoel dit het olie vir die liedjie se ratte gegee en of jy nou wil of nie, daar gaat jou voete aan die tik of sommer aan die dans, of jy nou heeltemal voel daarna of nie.

“Ek geniet dit om te voel hoe gee die liedjies my weer woema in my pap wiele. ‘Neem my op vlerke’ en ‘Ek lewe’ is my twee ‘handtekening-liedjies’, wat besondere trefkrag het vir my persoonlik én vir my aanhangers wat daarmee konnekteer.

“Wat ʼn absolute fees dat dié twee liedjies nou weer herleef,” sê Anneli, wat toegee dat sy verstom is oor luisteraars se reaksie op die liedjies.

“Neem my op vlerke” se herverwerking het vandeesweek weer die Maroela Media Afrikaanse Top-20 betree. Die sanger Eloff se “Vlerke”, wat ʼn gedeelte van “Neem my op vlerke” by sy treffersnit ingesluit het, kuier egter al weke lank heel boaan dié treffersparade.

“As ʼn mens dink dat ʼn liedjie nog soveel trefkrag het oor vier dekades heen, slaan dit jou eintlik stom. Dat daar nog soveel lewe in ʼn liedjie kan wees ná 40 jaar, en dat daar nog ʼn konneksie met mense kan wees, en nou weer met ʼn nuwe generasie, is verbysterend.”

“Ek lewe” het twee jaar na “Ek wil jou ken” verskyn.

Sy het ook die Puk-studente se video gesien waarin hulle op die maat van “Neem my op vlerke” dans.

“Ek kan met opregtheid sê dit is ʼn voorreg, en dit is mos waaroor alles gaan. Daar is ʼn waarde daaraan wat heeltemal bo-oor en verby my gaan. Dit is net ʼn gawe van Bo, en ek was geseën met daardie woorde van Bo af. Dit maak my diep dankbaar en laat my klein voel.

“Ek is propvol dankbaarheid, want dit is iets wat ek kon doen wat ʼn lewe het van sy eie en selfs al is my loopbaan en vermoë om aan te gaan met musiek skielik nek omgedraai, en is ek op die heup geslaan, maak dit nie saak nie, want die Here hou in stand waar ʼn mens nie kan nie. Dit het vir my diep waarde.”

‘Jy gee dit Boontoe’

Anneli van Rooyen en Lydia Winchester. (Foto: Facebook)

In 2007 het ʼn dagprosedure aan Anneli se kakebeen “katastrofaal” skeefgeloop en só het haar musiekloopbaan summier geëindig. Die afgelope twee dekades moes Anneli vrede maak met die feit dat sy nooit weer haar passie vir sang sou kon uitleef nie.

Anneli verduidelik sy kon voor die prosedure nog sing en optree, al het sy baie pyn gehad. Sy het ʼn prosedure ondergaan wat dié pyn sou verlig, min wetend dit sou inteendeel die einde van haar loopbaan as een van Suid-Afrika se mees geliefde sangers beteken.

“Ek het nog ʼn lewe gehad tot op 23 Oktober 2007. ʼn Paar uur ná die prosedure was alles wat ek geken en verwag het, iets van die verlede. Ek is reddeloos seergemaak en dit was ʼn massiewe terugslag, maar ek het gelukkig geval tot in die reddende Hand van God.”

Sy sê haar ondersteuningsnetwerk, wat uit haar ouers, regterhand Elouna Ollewagen en jare lange bestuurder en vriendin Lydia Winchester bestaan, het haar deur die jare staande gehou.

Hoewel sy lank na antwoorde bly soek het, en selfs regspanne aangestel het om geregtigheid te vind, moes sy uiteindelik vrede maak met haar lot en nie toelaat dat haar verliese haar definieer nie, sê Anneli.

Anneli van Rooyen. (Foto: Facebook)

“Jy gee dit weg. Jy gee dit Boontoe. Jy begin piepklein met dankbaarheid oor alles wat oorgebly het, al is dit hoe eenvoudig. Op die ou end het soveel liefde oorgebly en het ʼn sentrale groep mense pas gehou met my, en nie weggestap toe ek stadiger begin stap het nie.”

Daarom is die herlewing van haar musiek nou in 2024 veral vir haar ʼn groot voorreg en vreugde. Dit help ook dat sy ʼn blymoedige geaardheid het, sê Anneli.

“Natuurlik voel ek soms die gemis van nuwe musiek in my lewe, en ek wens ek kon weer sing en op die verhoog wees. Daarom het ek ʼn ontsaglike diep waardering en agting vir die luisteraars wat al dekades lank as’t ware saam met my en my musiek ʼn pad stap.

“En daarom ook die absolute vreugde van die musiek wat nou weer uitgereik is. Dit is iets wat van uiters groot betekenis is vir my.”

Oor ontworteling, hervestiging

Anneli van Rooyen. (Foto met vergunning van Lig-tydskrif)

Anneli het sowat twee jaar gelede, ná dekades in Pretoria, uiteindelik na George verhuis. Sy vertel dit was altyd haar ouers se droom om George huis te noem.

Anneli se ma, Matilda (Tillie) van Rooyen, is in Januarie 2021 in die ouderdom van 87 weens Covid-19-verwante komplikasies oorlede. Anneli se pa is in 2017 oorlede ná ʼn stryd met pankreaskanker.

“George is my hartswêreld van baie kleins af, en om ʼn mens te kan verwonder oor die natuur so naby en rondom jou, is heel anders as in die stad waar ʼn mens ʼn groter bewussyn het oor gevare en stresvlakke. Hier op George voel die ellende darem so ʼn bietjie op ʼn afstand,” skerts Anneli.

“Dit was ʼn aanhef om my uit Pretoria te ontwortel, maar die omgewing is baie gewild vir diegene wat wil semigreer en baie mense trek nou tentpenne op in die noorde om nuwe asem by die see te skep.”

Daar is soveel uitdagings wat jong mense deesdae in die gesig staar en daarom wil Anneli hê die jonger gehoor moet die “skouers los skud en asemhaal”.

“Geniet die tye wat vir jou beskore is, want ons weet nie wat môre en oormôre gaan gebeur nie. Kom ons geniet dit – moenie té stout wees, hoor – maar geniet dit!” sluit Anneli laggend af.

“Neem my op vlerke” en “Ek lewe” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Goeie besluit om na die Suid-Kaap te verhuis.

Oljetter ·

Sterkte Anneli, jy het ons toé bekoor en begeester, mag dit weer gebeur met die nuwe verwerkings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.