Herman Mashaba stig nuwe party

Herman Mashaba se nuwe party genaamd ActionSA. (Foto: ANA)

Die voormalige Johannesburgse burgemeester, Herman Mashaba, het Saterdag sy nuwe politieke party genaamd ActionSA van stapel gestuur.

Mashaba het vanoggend verskeie beloftes gedurende die bekendstelling van ActionSA gemaak. Dié party is volgens hom gegrond op die waardes van nierassigheid, ekonomiese welvaart, sosiale geregtigheid, oppergesag van die reg, verkiesingshervorming, gehalte-onderwys en etiese leierskap.

“Rassisme het geen plek in ActionSA en Suid-Afrika nie.”

Volgens Mashaba het alle Suid-Afrikaners gelyke regte hoewel rassisme landsburgers se gelykheid ondermyn en die land se vooruitgang stuit.

“Ons kan nie terugsit en toelaat dat ons mede-Suid-Afrikaners in informele nedersettings woon nie. Ons gaan ons stede van misdaad terugeis en geboue aan die privaat sektor bied om bekostigbare verblyf- en werkplekke vir ons mense, studente en kleinsakeondernemings tot stand te bring.”

Mashaba het verder gesê swart ekonomiese bemagtiging verryk slegs die rykes en hooggeplaastes wat politieke bande het. “Dit moet vervang word met ʼn reusebeleggingsprogram in onderwys en geleenthede in gebiede waar gemeenskappe onder die nalatenskap van ons onregverdige verlede ly.

“Ons sal ʼn opleidingsrevolusie in Suid-Afrika van stapel stuur met ʼn nuwe leerplan wat ʼn nasie van werkgewers, en nie net werknemers nie, voortbring. Ons gaan fokus op die belegging in sentrums vir vroeë kinderontwikkeling om sodoende elke kind in Suid-Afrika van jongs af voor te berei en toe te rus.”

Mashaba het verder belowe dat ActionSA die herlewing van die Suid-Afrikaanse ekonomie sal lei deur ʼn duidelike, beslissende en onwrikbare inwerkingstelling van gesonde beleidsrigtings.

“Ons sal die arbeidswette van ons land hervorm en die wurggreep van vakbonde op ons regering beëindig. Vakbonde is belangrike belanghebbendes, net soos enige ander insethouers, maar hulle het nie ʼn vetoreg op ons ekonomiese bestemming nie.

“Ons moet dit vir sakeondernemings makliker maak om meer landsburgers aan te stel, want ons kan nie ʼn minderheid van werkers in die toekoms ten koste van ʼn meerderheid van werkloses beskerm nie. Ons sal elke hindernis in die weg van klein ondernemings verwyder en hulle aktief ondersteun,” het Mashaba gesê.

Die voormalige burgemeester het verder gesê die Suid-Afrikaanse hofstelsel moet uitgebrei word sodat dit vinniger kan funksioneer. “ʼn Stelsel van verkose streekshoofde van die Nasionale Vervolgingsgesag moet ingestel word sodat ons, die mense van Suid-Afrika, hulle aanspreeklik kan hou vir vervolging.”

Volgens Mashaba benodig Suid-Afrika ook gespesialiseerde eenhede om prioriteitsmisdade aan te pak. Dit sluit in die herinstelling van die Skerpioene.

Hy het verder gesê ActionSA sal onwettige immigrasie in die land pak.

“Ons wil hê die mense van die wêreld moet na Suid-Afrika kom om te werk, vakansie te hou en te belê. Maar as mense Suid-Afrika binnekom, moet hulle aan twee baie redelike vereistes voldoen. Eerstens moet hulle ons land wettig binnekom en tweedens moet hulle ons wette nakom. Dit is nie onderhandelbaar nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Die Wolf ·

Of hulle daarby gaan hou is n ander vraag. Het niks kwytgeraak oor grondhervorming,plaasaanvalle,regstellende aksie ,doodstraf ens nie.

Vonkprop ·

Nee maar sterkte jong. Ek hoop dinge loop mooi vir jou en jou vyf lede. Dit is baie duidelik witmense maak nie deel van jou planne nie. Stuur groete vir Mmusi.

Frikkels ·

Ek dink tog hier kan iets beter as die anc aankom. Mashaba is al geruime tyd nie baie gewild onder die korruptes nie. Sy siening is volgens hulle, hopeloos verkeerd. As hy sy idees ten uitvoer kan bring en daarby hou, is dit miskien tyd om vir sy party te stem.

Eltan ·

Klink baie goed op papier…nes al die ander 500 duisend partye in SA se planne…..maar sodra die wurg grep van korrupsie vatplek kry bly niks staande nie….
Bla bla bla…eintlik maar niks meer as nÒg n party wat sy kloue in ons hardwerkende mense se belasting geld wil sink nie….

Persheks Adri ·

Daar praat hy klaar van sy mense. Ons lees tussen lyne ou. Mooi praatjies om te dink ons is dom…

Frederik C ·

Hy maak mooi geluide en ek sal hom ondersteun. Hy sal net in gedagte moet hou dat, as hy ‘n verkiesing wen, hy ‘n bankrot land erf. Sonder geld kan basies geen verkiesingsbelofte nagekom word nie en “our people” gaan aandring op wat ook al belowe is.

Marthinus W ·

As burgemeester het hy baie goeie werk gedoen. Hy het ingespring en hand bygesit, met pik en graaf. Meer as 100 geboue in die Johannesburgse middestad is gekaap (baie deur Nigeriers); hy het `n spesiale taakspan geskep om hierdie geboue te probeer terugwen.

Pieter9 ·

Sê die regte goed, een vraag; ek kan onthou dat hy ‘n amptenaar ontslaan het wat positief oor Israel gepraat het. ‘n Vyand van Israel kan nooit ‘n vriend word nie. Laat hy asb sy standpunt oor Israel duidelik stel voor ons hom ersntig kan opneem.

Eerlik ·

Ek het hom al ontmoet, net voor hy as burgemeester van JHB aangestel was, baie aangename individue met egte kwalifikasies, kennis, hoop en insig. Hy het baie dinge in JHB verander en baie ANC gemors uirsorteer. Ongelukkig het die EFF en ANC die lewe vir hom baie moeilik gemaak.

Amelia ·

Ek gaan weer stem…Hierdie keer vir hom.Dalk,net dalk doen hy beter as almal voor hom.Wie weet???

Simon ·

Hy soek n nie-rassige SA aan die een kant maar aan die anderkant praat hy weer van die regstelling van ongelykhede weens ‘n onreverdige verlede. Ook maar net nog ‘n JACK!

Jannie van Niekerk ·

Ek sal graag by Herman wil weet of die rassisme van sy beoogde party rassisme is soos die EFF en ANC dit sien, m.a.w. Swartes is NIE rassiste nie of gaan dit oor werklike rassisme soos deur die EFF, BLF en sekere ANC ondersteuenrs teenoor blankes beoefen word?

JohanR ·

Nog ‘n politikus met ‘n boodskap “stem vir my party en as ek wen sal julle almal soos konings vir die volgende 26 jaar lewe”. Ons het dit in 1994 ook gehoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.