Hermanus: Betogers val polisieman glo met byl aan

Betogings in Hermanus in die Wes-Kaap (12 Julie 2018). Foto: Twitter via @REDANTS_CT

ʼn Polisiebeampte is in ʼn ernstige toestand in die hospitaal nadat hy Donderdagaand deur betogers in Zwelihle in Hermanus in die Wes-Kaap aangerand is.

Volgens mediaberigte is die polisiebeampte met ʼn byl aangeval. Lt.kol. André Traut, woordvoerder van die polisie, wou nie die aard van die polisiebeampte se beserings aan Maroela Media bekendmaak nie, maar het wel bevestig die beampte is “erg deur betogers aangerand”.

Volgens Traut het die betogers die polisieman daarna van sy 9 mm-vuurwapen en haelgeweer beroof. “Hy is in die hospitaal opgeneem waar hy tans behandel word.”

Traut het gesê ʼn 32-jarige verdagte is in hegtenis geneem nadat hy met ʼn SAPD-haelgeweer en ammunisie in sy besit betrap is. Nog vier verdagtes is in hegtenis geneem op aanklag van openbare geweld. “Die verdagtes sal in die hof verskyn sodra hulle aangekla is. Ons ontplooiings in die gebied bly steeds slaggereed om wet en geregtigheid te handhaaf.”

Intussen het die Overstrand-munisipaliteit bekendgemaak dat die skade wat tydens die betogings in die kusdorpie aangerig is tot dusver ongeveer R40 miljoen beloop. Coenie Groenewald, munisipale bestuurder van Hermanus, het gesê die skade sluit in ʼn vervoerband en baler by die herwinningsaanleg wat aan die brand gesteek is en aansienlike skade wat aan die afvaloordrag- en herwinningsaanlegte aangerig is.

“Geen herwinning kan dus in Hermanus of Kleinmond plaasvind nie en daarom sal daar vir eers nie deursigtige herwinningsakke aan inwoners verskaf word nie. Ons sal inwoners in kennis stel sodra ʼn korttermyn-oplossing gevind is,” het Groenewald gesê.

Betogings in Hermanus in die Wes-Kaap (12 Julie 2018). Foto: Twitter via @REDANTS_CT

Ander skade wat aan munisipale infrastruktuur aangerig is, sluit in geboue by openbare swembaddens en die Hermanus-rioolwerkaanleg, ander geboue en paaie.

Volgens Groenewald kon die openbare toilette in die informele nedersettings weens die betogings al langer as ʼn week nie skoongemaak word nie. Geen vullis kon ook uit hierdie gebiede verwyder word nie. “Baie uitdagings staar ons in die gesig, want diep slote is gegrawe om toegang tot Zwelihle te verhoed.”

Munisipale dienste in Zwelihle sal eers hervat word wanneer die SAPD die gebied as veilig verklaar het. “Indien nodig, sal die munisipaliteit se rampbestuurspan ʼn ‘veiligheidsaal’ vir inwoners oopstel,” het hy bygevoeg.

Groenewald het gesê genl. Bheki Cele, minister van polisie, sal vandag die gebied besoek. Hy sal vergesel word deur genl. Lennit Max, sy spesiale raadgewer, Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, en Dan Plato, die Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid. “Ons hoop regtig dat hierdie besoek vrugte sal afwerp,” het hy gesê.

Vrydagoggend was die gebied stil en was daar nog geen teken van betogings wat weer opvlam nie. Die R43 is weer oopgestel, maar alle paaie na Zwelihle bly steeds gesluit. Die plaaslike biblioteek en verkeersdepartement sal nie Saterdag oop wees soos gewoonlik nie en die Hermanus-gemeenskapsdagsentrum is ook steeds gesluit.

Betogings in Mei 2018 in Hermanus. Foto: Marthunis J Barnard (MyWhaleCoast)

“Pasiënte word versoek om hul chroniese medikasie by die Hermanus-hospitaal af te haal en ook die hospitaal te besoek vir enige noodgevalle,” het Groenewald gesê.

Die jongste inligting sal gereeld deur die munisipaliteit se amptelike kommunikasiekanale deurgegee word.

Maroela Media het vroeër berig Hermanus het al talle gewelddadige betogings vanjaar beleef met die jongste betogings wat verlede week weer opgevlam het. Dié betogings spruit uit gemeenskapslede se ontevredenheid dat Gcobani Ndzongana, ʼn 35-jarige gemeenskapsaktivis, wat ook die leier van die sogenaamde Zwelihle Renewal-groep is, in hegtenis geneem is.

Ndzongana het vanoggend in die hof verskyn waar die saak teen hom tot 27 Julie uitgestel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Noelene ·

Dalk moet die VN gevra word om veiligheidsmagte in te stuur, want duidelik is die regering nie van plan om die weermag te ontplooi om orde te herstel nie.

Hanna Hoekom ·

Die VN is mos nou juis in die Noordwes provinsie… Stuur hulle asb Hermanus toe!

Anna marie ·

Die opruiende share maak net hul eie mense se lewens moeilike. Snaaks dat hulle dit rerig nie besef nie.

Skokkend ·

Maar die polisie mag nie op betogers skiet of hulle self teen betogers verdedig nie . VERSTAAN die regering en CELE nie dat terwyl die protesgangers GEEN ontsag of vrees vir die polisie het nie die aanvalle net gaan toeneem? Almal gaan tekere oor Marikana .. hoekom is die protesters geskiet? Hulle het die sekuriteitswagte en polisie aangeval en self van hulle doodgemaak!! Moet die polisie maar net toekyk toe hulle almal met byle doodgekap word??

Anoniem ·

Miskien was hy een van die duisende polisie lede wat nie n wapen het omdat hy nie bevoeg is nie. BC dink mos as jy n blou uniform dra dan skrik die skelms en dit is genoeg.

Waarom ·

Dis so ironies dat hierdie mense teen swak dienslewering betoog, maar gaan nou geen dienslewering kry nie, terwyl die gebied te gevaarlik is. Dan gaan dit wat hulle verniel het, ook eers herstel moet word voordat na hul behoeftes gekyk word. Hierdie mense dink nie wat hulle doen nie. Kortsigtig!

Diefie ·

Daar gaan nog meer aan as net swak diens. Deel hou die polisie besig, en die ander deel slip weg met perlemoen en dwelms. Net dalk wou die polisieman nie saam met hulle werk nie en dit is waarom hy aangeval is.

pieter ·

DU PLOOY WOU HOM EN SY WERKERS BESKERM TEEN GEWELD WORD GEARESTEER ISHHHH

Andre C ·

Die opskrif van die berig”betogers val polisieman glo met n byl aan is nie waar nie”
Hy is aangeval.

Leeu ·

Al hierdie geweld… Is daar ‘n einde? Wanneer is genoeg GENOEG!

Wonder-maar-net ·

Nee die polisie mag kamstig nie, maar hulle mag ‘n 80 jarige boer doodskiet omdat hy een skoot na hulle geskiet het…

Snowball ·

JANEE! Een 80 jarige, en hulle vrees hom so hy kry ‘n doodskoot. Hordes aggressiewe wetteloses val polisieman aan en …..NIKS!

ES ·

Ek stem saam met die betogings vir beter dienslewering, maar sodra jy begin om gewelddadig te word en ander se goed begin beskadig wat niks te doen het met dienslewering nie is jy net ‘n misdadiger.

Wonder ·

Jy kan jou ontevredenheid op meer beskaafde maniere uitspreek. Ongelukkig lyk dit of hierdie mense net van een manier gehoor het, en hopelik kry hulle nie hulle sin nie.

Anoniem ·

Ek stem nie saam met betogings vir beter dienslewering of enige iets anders nie want in Suid-Afrika kan dit eenvoudig nie op ‘n ordelike manier gedoen word nie. Aan die anderkant wil mense oor dienslewering betoog waarvoor hulle nie wil betaal nie, dis my en jou voorreg om ten duurste vir ons dienste te betaal terwyl ons die res “sponsor”. Nee, betogings is ‘n skans vir absolute wanorde en daar is veel meer agter die storie as net dienslewering. Daar vang hulle ‘n ANC lid wat by CIT heists betrokke was, boonop word hy met CR verbind en mense dink nogsteeds dis toevallig. Dit is nie. Ek sê dit al lankal en sê dit weer, dit befonds die betogings!

Vreemde mense ·

Dis nie meer die kaap vir my nie. Dis Goeie Hoop wat nie deel is van SA nie!!!

Mark ·

As jy wil weet waarheen wats oppad en wat gaan aan, bestudeer “enige” land wat deur komunisme is. Jy sal baie…..baie sleg slaap na so studie.

anti betoger ·

hoe verkeerd dit ookal mag wees, GOED SO. WELL DONE BETOGERS. DOE ZO VOORT! wie was nou onbevoeg? die persoon mer die vervalde stukke plastiek of n sapd lid watnie sy wapens kon verdedig nie. dalk sal ou “diep in die hoed” nou onder sy hoed uitklim en ver genoeg dink om die verdomde betogers vas te vat. alle sterkte mnr saps lid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.