Hernieude herrie tussen Eskom, Nersa dreig

Eskom se hoofkantoor. (Foto: Google Maps)

Eskom sê die nasionale energiereguleerder (Nersa) se besluit om ʼn tussentydse prysvasstelling vir die 2023-boekjaar te gebruik – ingevolge metodologie wat nog nie eens bepaal is nie – skep onsekerheid en risiko’s.

Nersa het Donderdag die kragvoorsiener se vyfde veeljarige prysvasstelling (MYPD5) vir die boekjare 2022-’23, 2023-’24 en 2024-’25 verwerp. Dit is onduidelik watter prysverhogings Eskom gevra het.

Nersa sê hy het met ʼn konsultasieproses begin om insette van belanghebbendes te kry om ʼn nuwe metodologie te ontwikkel wat volhoubare kragpryse moet help verseker. Nersa sê hy het ʼn dokument oor die beginsels wat gebruik moet word wanneer kragpryse vir die komende tydperk bepaal word, bekend gestel. Die nuwe benadering tot prysvasstelling sal onder meer die vinnige transformasie van die land se kragsektor, stygende kragpryse en die toename in private opwekking in ag neem.

Nersa sê hy het Eskom se MYPD5-aansoek in Junie ontvang. Dit was gegrond op die MYPD4-metodologie, waarvan die beheertydperk op 31 Maart aanstaande jaar verstryk. Hy sê na deeglike oorweging oor of dié metodologie weer gebruik kan word, het hy Eskom se aansoek verwerp.

Hy het Eskom nou gevra om ʼn een jaar lange tussentydse aansoek vir die 2022-’23-boekjaar in te dien, verkieslik gegrond op die beginsels van die nuwe benadering wat oorweeg word.

Eskom het intussen uitgevaar en sê die nuwe prysbepaling is nog nie eens bekend nie.

“Nersa se verwerping van die MYPD5-aansoek het ʼn regulatoriese vakuum vir die kragverskaffingsbedryf in Suid-Afrika geskep. Eskom oorweeg hoe hy kan voortgaan en kry advies oor sy posisie na aanleiding van Nersa se besluit.”

Die kragvoorsiener sê selfs al word die nuwe metodologie betyds ontwikkel, gaan Eskom nie ʼn nuwe prysaansoek vir inwerkingstelling op 1 April kan doen tot daar nie aan alle bepalings daarvoor voldoen is nie.

Eskom sê die tydperk waarbinne hy ʼn nuwe aansoek ingevolge die nuwe metodologie moet indien is uiters kort en “skep die werklike gevaar dat ʼn nuwe tarief nie teen 1 April 2022 gereed gaan wees nie”.

Eskom sê hy kan boonop nie ʼn aansoek – soos Nersa voorstel – indien op grond van metodologie wat nie eens bekend gemaak is nie.

ʼn Aansoek wat nie aan die vereistes voldoen nie en ʼn gevolglike prysvasstelling gaan die besluit oor kragpryse blootstel om uitgedaag te word.

“Dit skep ʼn beduidende risiko nie net vir Eskom nie, maar ook vir munisipaliteite en ander aankopers van krag.”

Eskom hou vol tot en met ʼn nuwe metodologie ontwikkel en goedgekeur is, bly die bestaande een geldig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

casper ·

Heheheee– Koop kougom en pofkoring — die movie begin nou nou !!!

Fanie ·

Verwag beurtkrag voor die jaar uit is agv. dit. Elke keer as Eskom nie sy sin kry nie – beurtkrag

SlinkseKoljander ·

Viva ANC, beurtkrag stop altyd voor n verkiesing en dann maand later begin dit weer.
Hoe anders moet ons mense geld maak?

Winnie ·

Darem snaaks dat Eskom meer geld vra terwyl Soweto se skuld afgeskryf word en onwettige koppelings nie afgehaal word nie. Ons is mos die sagte maklike teikens

Yvonne ·

In my eenvoudige denkwyse……as Eskom die miljarde wat die ANC beheerde munisipaliteite hom skuld in …hoekom dan die res van die land druk om meer te betaal….dit is ver bo my begrip

Casper ·

As munisipaliteite nou nie wanbetalers kan vasvat nie en die geld oorbetaal aan escom nie hoe gaan hulle dit doen as elektrisiteitspryse verhoog.Escom moet optreë teen wanbetalende munisipaliteite en munisipaliteite teen wanbetalers.

Casper ·

Onwettige kragverbindings is ‘n euwels en mense moet strafregtelik vervolg word.As dit oorkom word is daar baie elektrisiteit in die sisteem en verhogings sal nie nodig wees nie en ook nie beurtkrag nie want nou word betalende inwoners ook gepenaliseer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.