Hernieude oproer in Hermanus

Hermanus verduur amper reeds die hele jaar oproer, byvoorbeeld dié gewelddadige betogings in Maart.

Die hoofpad deur Hermanus is weer oopgestel nadat gewelddadige betogings opnuut op dié Wes-Kaapse kusdorp opgevlam het.

Kenny Africa, provinsiale verkeershoof, het Vrydagoggend gesê: “Dinge was gisteraand weer ʼn bietjie deurmekaar op Hermanus, maar die R43 is vandag heropen.”

Die dorp se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het Donderdag om 21:05 op Facebook gesê die hoofweg sowel as Mbekiweg is gesluit nadat inwoners buitebande in die pad aan die brand gesteek het.

Protesoptrede vlam nog af en toe op nadat inwoners van die township Zwelihle in Julie vanjaar begin betoog het oor grond en behuising, maar dié keer is dit inwoners van Mount Pleasant wat ontevrede is.

Verkeersbeamptes het die verkeer gisteraand ná donker weg van die R43 en Mbekiweg in Mount Pleasant na ompaaie herlei nadat voorvalle aangemeld is waar voertuie met klippe bestook is.

“Inwoners van Mount Pleasant is ongelukkig omdat hulle nie in die onlangse raadsvergadering van 31 Oktober in die burgemeester se toespraak oor noodbehuising genoem is nie,” sê die Overstrand-munisipaliteit in ʼn verklaring.

Die munisipaliteit sê voorsiening is beslis gemaak vir geldvoorsiening om aan die woonbuurt se noodbehuisingsbehoeftes te voldoen, maar hulle is nie genoem nie omdat die raad op die finale aanbeveling van die wykskomitee gewag het.

Dié aanbeveling deur wyk 4 se komitee oor die terrein is Donderdag aan die burgemeester voorgelê. Die munisipaliteit onderneem in die verklaring om volgende week die terrein te begin voorberei.

“Die name van begunstigdes wat in ag kom vir noodbehuising, is reeds geïdentifiseer en [hulle] sal binnekort in kennis gestel word. Die mense wat aangrensend aan die R43-erwe uitgemerk het, is deur die administrasie en gemeenskapsleiers toegespreek en strukture sal verwyder word.”

Die munisipaliteit doen intussen ʼn beroep op die gemeenskap om kalm te bly.

Albei geslote paaie was douvoordag Vrydag weer oop terwyl wetstoepassers ʼn wakende oog gehou het. Die GPF het nietemin gevra bestuurders moet uiters versigtig in Mount Pleasant bestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Seevakansie ·

Beplan jou see vakansie maar op n ander dorp. Die spul wag tot net voor vakansietyd dan begin hulle weer met hulle streke soos verlede jaar. Spaar jouself baie geld en frustrasie… vra my.

Hermaansie ·

My ma het altyd gesê as jy niks goed het om te sê nie, bly eerder stil. Hier is weinig goeds om te sê, maar ons kan nogal doen met julle gebede en ondersteuning vandag. Dit sal vir ons meer werd wees as al wat ‘n keyboard warrior is se opinie. Groete vanuit mooie Hermanus

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.