Hernieude optrede versoek oor onwettige omgeboude taxi’s

Bantu Holomisa, leier van die UDM. (Foto: Karen Sandison/ANA)

Die leier van die United Democratic Movement, Bantu Holomisa, het ʼn ope brief aan president Cyril Ramaphosa geskryf oor die beweerde grootskaalse bedrogspul in die taxibedryf.

Hy sê dié bedryf word deur die private sektor uitgebuit, maar die departement van vervoer staan pa vir die finansiële verliese wat taxi-eienaars as gevolg daarvan ly.

Holomisa sê die lewensbestaan ​​van taxi-eienaars word daagliks vernietig deur onbeheerde roekelose uitleenpraktyke waaraan hulle onderwerp word. Die meeste van hierdie taxi-eienaars het nie die finansies en vaardighede om regshulp te kry nie. Boonop kontrakteer die banke doelbewus die beste prokureurs om hulle uit die howe te hou.

“Verder huiwer private geldskieters, soos die South African Taxi Financing (SATF), nie om voltydse senior advokate in diens te neem om hulle teen ongesofistikeerde taxi-eienaars en skuldberaders in die howe te verdedig nie,” lui die brief waarvan afskrifte ook aan die minister van vervoer, Fikile Mbalula, en die voorsitters van portefeuljekomitees in die parlement gestuur is.

In die brief verwys Holomisa na die finale verslag van ʼn “indringende en uitgebreide ondersoek” wat deur twee Openbare Beskermers, advokate Thuli Madonsela en haar opvolger, Busisiwe Mkhwebane, oor sewe jaar gedoen is.

Hulle het onder meer bevind dat miljoene passasiers sedert 2005 onwetend in minibustaxi’s vervoer is wat onwettig omgeboude Quantum-paneelwaens was. Baie passasiers is dood of het lewensveranderende beserings in ongelukke opgedoen omdat hierdie taxi’s nie aan die voorgeskrewe veiligheidspesifikasies voldoen het nie.

Die plakker in die agterste kajuit van die paneelwa maak dit duidelik dat dit nie vir passasiers bedoel is nie.

Die eienaars van die paneelwataxi’s was na bewering onbewus dat hulle sulke voertuie gekoop het, maar die vervaardiger, Toyota Suid-Afrika (TSAM), die banke en finansiële diensteverskaffers wat die finansiering van die voertuie gedoen het, het wel geweet dat onwettig omgeboude voertuie in die mark gestoot word, maar het vir ten minste vier jaar daaroor stil gebly.

Holomisa sê ten spyte van al die goeie werk wat deur die ondersoekbeamptes van die OB gedoen is, is onbeduidende en onoordeelkundige regstellende aksie deur adv. Mkhwebane voorgeskryf en in 2019 vir bespreking aan die Nasionale Vergadering gestuur.

Kommerwekkend is die feit dat die departement van vervoer reeds sedert Februarie 2018 die onwettig omgeboude Toyota Quantum-paneelwataxi’s op ʼn swartlys geplaas het, waarna die voertuie op die eNatis-stelsel gemerk is vir beslaglegging. Dit is egter gedoen sonder enige vorm van vergoeding vir die verlies aan inkomste aan die taxi-eienaars wat nié vir die situasie blameer kan word nie.

Hulle is onlangs ʼn skrale R124 000 aangebied, wat presies dieselfde bedrag is as wat die departement van vervoer aangebied het vir die ou sogenaamde skorokoros, oftewel Toyota HiAce-taxi’s wat weens hul ouderdom geskrap word.

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

“Waarom is hierdie geld deur die departement van vervoer betaal vir laat model Toyota Quantums terwyl dié voertuie inderdaad op ʼn bedrieglike wyse deur die private sektor verkoop is teen ʼn groot finansiële wins wat hulle nie toegekom het nie?” vra Holomisa aan die president. “En wanneer is dié uitbetaling deur die Nasionale Vergadering goedgekeur?”

Die vervangingswaarde van die Quantums is elk minstens R450 000 en dit sluit nie die verlies aan inkomste vir die taxi-eienaar in nie. “As ʼn taxi-eienaar die R124 000 wat van die departement ontvang is as ʼn deposito op ʼn nuwe Toyota Quantum gebruik, sal die totale terugbetaling oor 72 maande, insluitende versekering, meer as R1 miljoen wees,” aldus Holomisa.

Die meeste van hierdie taxi-eienaars kwalifiseer waarskynlik nou nie meer vir finansiering nie aangesien hulle hul roetes kwyt is óf as gevolg van swak skuld en kredietrekords.

TSAM het die departement van vervoer in 2009 oor die bedrog ingelig na hulle al in 2005 bewus geraak het dat die regulering ten opsigte van die betrokke Quantums misluk het. Die kwellende vrae is dus waarom TSAM en die banke wat die meeste baat gevind het, nie ook ʼn bydrae maak nie? En waarom die departement van vervoer enigsins ʼn behoefte gehad het om ʼn skulderkenning te maak en met belastinggeld daarvoor te betaal?

Holomisa verwys ook in die brief na spesifieke ongelukke waarin die onwettig omgeboude paneelwataxi’s betrokke was, onder andere na een waarin ses laerskoolleerders in 2007 in Port Elizabeth dood is. Hy sê baie van hierdie onwettige voertuie is nie teruggeroep of vervang nie en is steeds op die land se paaie.

“Iets tasbaars moet gedoen word om reg te laat geskied aan die slagoffers van die ongelukke waarin hierdie onwettige voertuie betrokke was en die niksvermoedende taxi-eienaars wie se lewens finansieel verwoes is,” sê Holomisa.

  • Maroela Media het verlede jaar berig dat daar meer as 1 300 onwettig omgeboude Toyota Quantum-paneelwaens as ambulanse diens doen.

Die Noord-Kaap-provinsie het toe pas aangekondig dat hulle 63 nuwe ambulanse aangekoop het. Die meeste was na bewering onwettig omgeboude paneelwaens. Een van die ambulanse het in Augustus verlede jaar buite Barkly-Wes gerol nadat die bestuurde  beheer oor die voertuig verloor het en ʼn 49-jarige paramediese beampte wat agter in die ambulans gesit het, is dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kokerboom ·

Al die partye betrokke is skuldig. Ons land is een groot bedrognes!!!

gatgogga ·

So, wat kan meneer Bee-bob-a-lula doen? Die taxis het mos nou vir hom gewys wie is baas.

Grassie ·

Wat Holomisa eintlik sê is dat die taxi- eienaars hul voertuie op skuld koop en nie hul paaiemente wil betaal nie. Nou is hy kwaad vir die banke en hul prokureurs wat stappe neem om hul geld te verhaal. My kop is te plat om die logika daarvan te begryp.

Tino ·

Haai siestog, hulle het nie geweet nie maar hulle het wel vir die ombouing betaal…

Speel dom en staan bakhand

Jaco ·

wat maak jy as jy werkloos is, desperaat om aan die gang te bly en versoeke om hulp en aansoeke om werk lei tot NIKS? Dis nie net wit mense wat so sukkel nie. Baie swart mense sukkel ook. Ongelukkig is daar te min werk vir almal wie se ras wel “reg” is vir daardie werk.
desperate times call for desperate measures

Pampoen ·

Hulle beroep hulle nou op die staatsmasjienerie, maar hulle betaal nie belasting nie. Lekker plek die.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.