Hernieude vrae oor reusekontrak vir Mkhize-vertrouelinge

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. (Argieffoto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die plundery van die staatskas onder die dekmantel van die Covid-19-bekamping duur oënskynlik ongebreideld voort – en die naam van die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, word weereens by bewerings van onbehoorlike gedrag genoem.

Scorpio, die ondersoekende eenheid van Daily Maverick, berig vertrouelinge van Mkhize, asook ander partye, het glo sowat R90 miljoen in betalings ontvang van ʼn R150 miljoen-kontrak vir kommunikasie wat met Covid-19 en die nasionale gesondheidsversekering verband hou.

Die kontrakteur, Digital Vibes, is volgens Scorpio na bewering selfs betaal om Mkhize se mediakonferensies te skeduleer.

Digital Vibes word bestuur deur Tahera Mather, ʼn vriend van en voormalige woordvoerder vir Mkhize, asook Naadhira Mitha, Mkhize se voormalige persoonlike assistent.

Scorpio berig die twee het die departement van gesondheid glo miljoene rande gevra om Mkhize se mediakonferensies, onderhoude en openbare vergaderings oor die Covid-19-pandemie te reël. Luidens die ondersoek is Digital Vibes glo selfs betaal om Mkhize se aankondiging oor Suid-Afrika se tweede virusvlaag te doen, ʼn taak wat die departement se eie amptenare gewoonlik sou verrig.

Geld is glo onder meer bestee aan die aankoop van luukse klerehandelsmerke, spabehandelings, huisopknappings en ander persoonlike uitgawes.

Siviwe Gwarube, die DA se woordvoerder oor gesondheid, vra nou opnuut dat die spesiale ondersoekeenheid (SOE) sy ondersoek uitbrei om die bewerings, naamlik dat ʼn uitgebreide netwerk van familielede en vriende van Mkhize by die kontrak gebaat het, te ondersoek.

Digital Vibes se kontrak en die maatskappy se bande met Mkhize het reeds in Februarie aan die lig gekom. Die DA het toe al gesê hy gaan aan pres. Cyril Ramaphosa skryf en vra dat die SOE ook dié bewerings ondersoek.

Gwarube sê Ramaphosa se stilte oor die kwessie is dawerend.

“Hoe kan die mens wat vertrou word om die reaksie op die pandemie te lei betrek word by die plundery van miljoene rande wat vir Suid-Afrikaners bestem was, en die president bly stil?

“Tensy die president dadelik ingrypende stappe doen om Mkhize te ondersoek, gaan die boodskap aan Suid-Afrikaners hard en duidelik wees: Die polities magtiges gaan toegelaat word om soveel dade van korrupsie te pleeg solank hulle wil, omdat die ANC-regering nie omgee vir aanspreeklikheid wanneer dit handel oor die diefstal van openbare geld nie,” sê Gwarube.

Scorpio het voorts berig selfs al was Mkhize heeltemal onbewus van sy kamerade se optrede, het die beweerde plundery nietemin reg onder sy neus plaasgevind.

“Min. Mkhize kan nie aanhou om hom te isoleer teen hierdie massiewe korrupsieskandaal wat hom en diegene naaste aan hom betrek nie, veral nie wanneer Digital Vibes werk gedoen het wat veronderstel is om deur die departement gedoen te word nie,” sê Gwarube.

Sy sê indien Mkhize of sy vriende onbehoorlik by die kontrak gebaat het, moet hy in die pad gesteek word.

“Suid-Afrika is vasgevang in ʼn wêreldwye pandemie met net ʼn klein gedeelte van die bevolking wat reeds entstof ontvang het. Ons kan nie vir wolf skaapwagter van die staatskas maak terwyl hierdie situasie voortduur nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Strandloper ·

Krap biekie dieper….sy fingers ruik na asbes ook…

JohanR ·

The stealing continium and continium and continium….. Deny, deny deny, delay, delay dalay,

Misky ·

Wanneer gaan die kraantjie opdroog? Ons belasting geld kan net so ver strek en hierdie skip sink net al vinniger en vinniger

Dries ·

Daar is nie n enkele lid in die ANC wat nie korrup is nie. Daarom sal hulle in beheer bly

Charles ·

En dan wil die sienende blinde minister almal onderwerp aan hul beoogde NHI nagmerrie. Sterkte vir almal.

Johanncb ·

Skors hom, sonder voordele, todat ‘n behoorlike ondersoek teen hom voltooi is! Ons kan nie toelaat dat bedrog gepleeg word onder die vaandel van Covid nie! Hierdie is mense op wie ons ons vertroue plaas! Suid-Afrika is moeg van hierdie tipe optrede!!!

twaalfboor ·

Noudat hy ondersoek word, moet hy seker dieselfde paadjie as “Eish” loop.

Andries ·

Fire hom soos hul met Ace gedoen het. Of gaan dubbel standaarde weer van toepassing wees.

Louise ·

Ag en hy gaan weg kom hiermee soos die res…
Want as hulle hom wil aanspreek met klomp ander ook aangespreek word. Dis hoekom alles toegesmeer word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.