Hernude oproep vir inligting ná moord op paartjie

Rosalie Bloch en Aubrey Jackson. (Foto: Facebook)

Die polisie het ʼn hernude beroep op mense gedoen om met inligting vorendag te kom ná die moorde op Aubrey Jackson (94) en Rosalie Bloch (84).

Geen deurbraak is nog gemaak sedert die bejaarde paartjie op 8 Mei 2018 in hul huis in Rosebank, Kaapstad, vermoor is nie.  Hul seun is die onderwysbeleidskenner Graeme Bloch wat getroud is met struggle veteraan Cheryl Carolus.

ʼn Familielid het omstreeks 09:00 op die paartjie, wat 30 jaar lank lewensmaats was, se liggame afgekom.  Hulle was albei vasgebind.  ʼn Saak van moord en huisroof is destyds aanhangig gemaak.  Enkele huishoudelike items is tydens die voorval gebuit.

ʼn Beloning van R60 000 is in Maart verlede jaar uitgeloof aan enigiemand met inligting wat tot die inhegtenisneming van verdagtes in die moord op die twee kan lei.

Kol. André Traut het Vrydag gesê dié bedrag is nou tot R100 000 verhoog.

Die polisie doen ʼn beroep op die gemeenskap om enige inligting rakende die moorde by die ondersoekbeampte, speursers. Kevin Kok, by 064 352 5493 aan te meld, of by die polisie se Stop Misdaad-nommer by 08600 10111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae