Heroldsbaai: Liggaam geëien; soektog gaan voort

Heidi Scheepers (35).

Die liggaam van ʼn vrou wat Saterdagmiddag in die see by Heroldsbaai gevind is, is positief geïdentifiseer as dié van die vermiste Heidi Scheepers.

Die soektog na die sesjarige Cozette sal vanoggend voortgaan indien die weer dit toelaat, het kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, gesê.

“Ons het egter reeds mense op uitkykpunte geplaas en patrollies vind plaas in die omgewing van Voëlklip en Heroldsbaai in ʼn poging om die vermiste sesjarige te vind.”

Heidi Scheepers (35) se liggaam is Saterdag omstreeks 13:45 deur ʼn lid van die publiek in die water opgemerk, waarna die plaaslike Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in kennis gestel is. Dié het op sy beurt die polisie in kennis gestel wat die liggaam uit die water gebring het.

Ettienne Scheepers, sy vrou, Heidi, en hul kinders.

ʼn Uitgebreide soektog is Woensdag van stapel gestuur nadat Scheepers en haar kinders, Cozette en die tweejarige Hugo, Dinsdag omstreeks 18:00 die laaste keer lewend in Heroldsbaai gesien is. Hulle het verby die gesin se winkel, die Heroldsbaai Kafee, gery. Haar man, Ettienne, het sy gesin kort daarna as vermis aangemeld.

ʼn Grys Volkswagen Caravelle, soortgelyk aan die een waarmee Scheepers en haar twee kinders Dinsdag verdwyn het, is Donderdag langs die rotse by Voëlklip gekry. Die wrak is intussen ook reeds uit die see verwyder.

Hugo se liggaam is Donderdagmiddag laat in die see gevind.

Die ondersoek na die presiese omstandighede rondom die voorval word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

Dit is hartverskeurend om jou hele gesin te verloor op eenslag.
Hoe kan Ettienne dit hanteer??
Mag God hom die vertroosting en genade skenk om
staande te kan bly.
Sit sy naam op julle gebeds lyste en bid vir hom..

wielie

Baie baie sterkte …

Landie

So jammer aan die familie met die groot verlies. Rus in Vrede. Mag die Here julle vertroos in die moeilike tyd.

Gesiggie

My innige meegevoel vir die Pa en Man wat sy vrou en twee kinders verloor het, dit is baie hartseer, mag die Here jul dra deur die tyd van seer en rou en mag Cozette gevind word sodat die familie finaal kan afskeid neem ..so hartseer”’my hart gaan uit na jul.

Johanna

Dit is so hartseer. Ruk aan my hart. My innige meegevoel aan almal na aan die 3 oorledenes. Die pappa, oupas, oumas, familie vriende en die 2 kinders se maatjies. Almal word geraak.