
‘n Bussie se wrak is onder die water digby die rotse by Voëlklip gevind. (Foto: SA Polisie)
ʼn Grys Volkswagen Caravelle, soortgelyk aan die een waarin die vermiste Heidi Scheepers en haar twee kinders Dinsdag verdwyn het, is langs die rotse by Voëlklip by Heroldsbaai gekry.
Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, het gesê hoogwater maak dit in dié stadium egter onmoontlik vir duikers en reddingswerkers om die voertuigwrak te bereik.
Daar kon dus nog nie met sekerheid vasgestel word, deur byvoorbeeld identifikasie van die nommerplaat of enjinnommer, dat dit wél die Scheeperse se voertuig is nie.
Teen laatmiddag was daar nog geen amptelike bevestiging dat enige liggame gevind is nie.
Maroela Media het vroeër berig Scheepers (35), haar dogtertjie (6) en seuntjie (2) is Dinsdag omstreeks 18:00 die laaste keer lewend in Heroldsbaai gesien waar hulle verby die gesin se winkel, die Heroldsbaai Kafee, gery het.
Haar man, Ettienne, het hulle enkele ure later, nadat hulle nie huis toe gekom het nie, as vermis by die polisie aangemeld.
Tientalle mense is sedertdien by die soektog na die drie betrokke. ʼn Reddingshelikopter het die omgewing onder meer uit die lug gefynkam.
Pojie het gesê sodra die gety dit toelaat, gaan reddingswerkers die wrak probeer bereik.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
13 Kommentare
Nee asb nie!!! Ek hoop dis heeltemal ‘n ander voertuig!
Ag nee. Dis te erg!!!!
Maar volgens die nuus is nog geen persoon gevind nie?
As hulle 2 minute van die huis af weg was….. Wat het hulle naby Voëlklip gemaak??
Ai dis so ongelooflik tragies en hartseer.