Heroldsbaai-tragedie: Pa maak hart oop

Ettienne Scheepers ontken dat die gesin enige buitengewone probleme gehad het.

Ettienne Scheepers, die man wie se vrou, Heidi (35), en kinders, Cozette (6) en Hugo (2), dood is nadat hul voertuig in die see by Voëlklip naby Heroldsbaai beland het, het in ʼn onderhoud verskeie bewerings en gerugte wat veral op sosiale media gemaak of versprei is, probeer besweer.

In ʼn onderhoud met George Herald ontken Scheepers gerugte oor versekeringsbedrog, geldelike probleme, mishandeling en buite-egtelike verhoudings.

ʼn Uitgebreide soektog is Woensdag van stapel gestuur nadat Heidi, Cozette en Hugo Dinsdag omstreeks 18:00 die laaste keer lewend in Heroldsbaai gesien is. Hulle het verby die gesin se winkel, die Heroldsbaai Kafee, gery.

Die gesin se grys Volkswagen Caravelle is die volgende dag langs die rotse by Voëlklip gekry.

Klein Hugo se liggaam is Donderdagmiddag in die see gevind. Heidi se liggaam is Saterdag deur ʼn lid van die publiek opgemerk, wat die Nasionale Seereddingsinstituut ontbied het. Die polisie het haar liggaam eindelik uit die water gebring.

Cozette word steeds vermis.

“Ons persoonlike finansies is gesond en ons sakeondernemings vaar goed. Ons is nie in enige finansiële moeilikheid nie. Ek het ook nie enige vorm van bedrog gepleeg, affairs gehad of my vrou en kinders geslaan nie,” het Scheepers vandeesweek oor die voorval gesê.

Cozette was ʼn leerling by Up with Downs, ʼn skool vir kinders met spesiale behoeftes. ʼn Skaars breinafwyking is tydens geboorte by haar geïdentifiseer.

“Ja, Cozette is ʼn kind met spesiale behoeftes, maar ons het dit hanteer en het wonderlike steun van versorgers, familielede en die skool gehad.

“Hugo was ʼn doodgewone, gesonde tweejarige wat die huishouding regeer het,” het Scheepers aan die koerant gesê.

Hy het in die onderhoud gesê Heidi het verlede jaar wél deur ʼn moeilike tydperk gegaan. “Sy het medikasie en behandeling daarvoor ontvang en vroeër vanjaar het die dokters gesê sy het nie meer enige behandeling of medikasie nodig nie. Dit was onder beheer en sy was reg.”

Volgens hom is die gesin Dinsdagmiddag na die strand by Heroldsbaai. Weens gure weer het hulle in die bussie bly sit. Hier het hulle gesels oor ʼn beplande vakansie na Mosambiek, toe Heidi gesê het sy gaan nie saam nie. “Ons het ʼn groot besending voorraad by die winkel verwag en een van ons werkers het skielik bedank. Ek het vir haar gesê ons kan tuis verder daaroor praat. Ons het nie ʼn argument van enige aard gehad nie.”

(Foto: SA Polisie)

Heidi en die kinders het huis toe vertrek, terwyl Ettienne kort daarna in sy eie motor gevolg het. By sy tuiskoms by die gesin se huis in Oubaai was daar egter geen teken van die drie nie. Hy het verskeie vriende en familielede gebel om te hoor of Heidi moontlik daar is en selfs na ʼn familielid se huis gery om na hulle te soek – sonder sukses – voordat hy hulle dieselfde aand as vermis by die polisie aangemeld het.

“Die rede hoekom ek nie die toneel besoek het nie, is omdat toe ek gevra het of ek kon, ʼn senior polisielid Woensdag aan my gesê het dat niemand op die toneel by Voëlklip toegelaat word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
A

Baie sterkte. Dit moet verskriklik wees om deur so iets te werk.

Me

Voel jammer vir hierdie man Hy het baie seer Hoe gaan hy ooit weer gesond word

Marianne

Ai dit moet hartverskeurend wees om jou hele gesin op een slag te verloor…mag Vader Ettiene hierdeur dra soos net Hy alleen kan….en ons bid ook vir Heidi en die hele gesin se familie, vriende en geliefdes vir vertroosting en vrede….mag hulle berusting vind…..

Linda

Ek dra al die naasbestaandes op in gebed. Baie sterkte!

CG

Etienne, Baie sterkte! Mag God jou dra deur hierdie vreeslike tyd. Baie mense bid vir jou.