Heropening van skole: ‘Bestaande regulasies geld’  

Foto ter illustrasie. (Argieffoto: ANA)

Alle regulasies wat verlede jaar vir skole gegeld het te midde van die Covid-19-pandemie sal weer geld wanneer leerders middel-Februarie na die skoolbanke terugkeer. Só sê die departement van basiese onderwys.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die Skole Ondersteuningsentrum (SOS), het aan Maroela Media gesê die SOS het verskeie navrae van skole ontvang oor watter regulasies sal geld wanneer leerders later vandeesmaand na die skoolbanke terugkeer.

Volgens Buys het die SOS en Solidariteit skrywes aan die departement van onderwys gerig om meer duidelikheid te bekom, maar dié versoek het tot op hede onbeantwoord gebly. Sy beaam egter dat indien daar nie voor 15 Februarie nuwe regulasies gepubliseer word nie, die vorige direktiewe sal geld.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement, het aan Maroela Media gesê sy departement sal volgende week regulasies met betrekking tot die heropening van skole te midde van die Covid-19-pandemie publiseer. “Geen nuwe regulasies word egter verwag nie. Dit is reeds met skole gekommunikeer en daar behoort dus geen onsekerheid by skole te wees oor watter regulasies in die nuwe akademiese jaar sal geld nie.”

Volgens bestaande regulasies moet elke leerder se temperatuur gemeet word sodra hy of sy by die skool aankom, almal moet maskers dra en sosiale afstande moet gehandhaaf word. Leerders en onderwysers moet ook deurentyd hul hande was en die klaskamers moet behoorlik skoongemaak word voordat leerders weer die skool betree.

• Melanie Buys is die hoof van ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS). (Foto: Verskaf.)

Die besluit lê in dié stadium steeds by skoolhoofde of alle leerders tussen gr. R en gr. 12 gelyktydig op 15 Februarie sal terugkeer ingevolge bepaalde protokolle en of leerders stelselmatig sal terugkeer.

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie vir Suid-Afrikaanse Skolebeheerliggame (Fedsas), meen skole behoort soveel moontlik leerders vir die nuwe skooljaar terug te verwelkom. “Indien ’n skool groot genoeg is om ’n sosiale afstand van een meter tussen alle leerders te handhaaf, kan hy beslis alle leerders gelyktydig terug verwelkom. Gaan kyk na jou rooster en beskikbare ruimtes en bring soveel moontlik leerders terug.”

Deacon sê skole moet kreatief omgaan met hoe leerders te midde van die pandemie geakkommodeer word en moet selfs skoolsale, gimnasiums of laboratoriums inspan indien moontlik.

“Skole moenie vaskyk teen die tradisionele klaskamer nie. Indien jy goeie ventilasie het en sosiale afstand kan handhaaf, kán jy skoolhou.”

Tydens ʼn peiling deur die SAOU en vier ander onderwysvakbonde het minder as die helfte van skoolhoofde egter aangedui dat hul skole gereed is om kontakonderrig te hervat.

Volgens Deacon behoort ouers en onderwysers nie te veel te bekommer oor gedeelde speelapparate vir jonger leerders nie, aangesien kinders nie dieselfde geraak word deur Covid-19 as volwassenes nie.

“Daardie apparate is deel van die opvoedkundige proses. ’n Kind dink hy of sy speel, maar is eintlik besig om in die proses te leer.”

Tog moet alle leerders daagliks deur ’n siftingstoets gaan en moet speelapparate ná elke dag deeglik skoongemaak word, sê Deacon.

Volgens Deacon kan persoonlike beskermingstoerusting soos plastiekskerms weer gebruik word vir die volgende skooljaar, maar dit sal wys wees om uitgeputte voorraad soos handreiniger weer aan te vul en voorsiening te maak vir ekstra gesigsmaskers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sarel ·

Wat vzn due Skole wat nog nie die nodige Bexkermingstoerusting ontvsng het nie

koos10 ·

Sarel daai geld is weg. R430 Mij in Gauteng alleen spandeer om skole te saniteer, en van dit nadat die skole vir 5 weke TOE was!!!!

Alet ·

Praat uit twee monde uit. Kinders kan speelapparate deel want hulle word nie geraak deur Covid soos volwassesnes nie. HOEKOM IS DIE SKOLE DAN GESLUIT???????

Oomniklaassevriend ·

‘n Baie goeie vraag. Dit is welbekend dat kinders die virus in ‘n aansienlik minder mate oordra as volwassees. Die risiko in ‘n skool behoort vir volwassenes veel laer te wees as in ‘n ander werksplek tussen volwassenes of in die gemeenskap. Dit word reeds in ander lande begryp en toegepas.

Baardman ·

Al pas skole net die helfte van die regulasies toe, is hulle beter af as by die huis. Kyk maar hoe lekker speel die kinders met mekaar, sonder enige beperkings. Enige iemand wat dit ontken of nog nie self gesien het nie, het oogklappe aan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.