Heropening van skole: Minister gee dán finale datums

Angie Motshekga. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Die minister van basiese onderwys sal die media na verwagting Donderdag weer toespreek oor die voorbereidings wat getref is vir die heropening van skole. Die minister sal dan meer besonderhede bekendmaak rakende die finale datums en ander besonderhede omtrent die stelselmatige heropening van skole. Dit volgens ʼn verklaring wat dié departement Maandagmiddag uitgestuur het.

Luidens die verklaring het minister Angie Motshekga Maandag begin met ʼn reeks samesprekings met rolspelers in die sektor oor skole se gereedheid om te heropen te midde van die Covid-19 pandemie. Skole is al sedert middel-Maart vir kontakonderrig gesluit.

Die departement sê die minister het Maandag met die raad van onderwysministers vergader, waarna met leiers van onderskeie onderwysvakbonde beraadslaag is. Laastens is ʼn vergadering belê met verteenwoordigers van skolebeheerliggame en skoolhoofde. “Dié vergaderings is gehou ter voorbereiding van die minister se terugkeer na die nasionale Covid-19-bevelsraad Dinsdag. Die kabinet sal ook weer Woensdag sit om ʼn herstelplan vir die onderwyssektor te bespreek,” lui die verklaring.

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Motshekga het aanvanklik gesê lede van skole se bestuur moet vandag, 11 Mei, by skole aanmeld om skole te begin voorberei op die terugkeer van personeel op 18 Mei en gr. 7- en gr. 12-leerders op 1 Junie. Die Limpopo-departement van onderwys het egter Sondag aan skole opgdrag gegee dat bestuurslede nié Maandag moet aanmeld vir diens nie. “Die massiewe aanvraag vir persoonlike beskermingstoerusting (PPE) deur talle ondernemings landwyd het ʼn vertraging veroorsaak in die verskaffing van materiaal aan skole, kantore en ander onderrigfasiliteite,” het Tidimalo Chuene, woordvoerder van die provinsiale departement, in ʼn verklaring gesê. “Skoolgereedheidsmateriaal wat bestel is sluit ontsmettingsmiddels, maskers, skoonmaakmiddels en infrarooi termometers in. Aflewering sal na verwagting binne die volgende paar dae geskied.”

Hierteenoor het die Gautengse departement van onderwys skoolhoofde en adjunkhoofde opdrag gegee om Woensdag reeds beskikbaar te wees sodat beskermende toerusting aan skole verskaf kan word. Skole in dié provinsie sal na verwagting van 18 Mei ontsmet word.

Motshekga het weer Maandag haar versekering gegee dat onderwysers en leerders se veiligheid en gesondheid die departement se eerste prioriteit is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Fedup ·

Do you really understand how a calendar work? Must be a challenge.

Pampoenboer ·

My kinders sal by die huis bly solank lockdown in werking is

marius ·

Die limpoppie provinsie gaan oor haar kop en sy seg niks ?

Erik ·

Deesdae as ek die nuus lees hoor ek Appel se liedjie, Tameletjie, in my gedagtes. Hierdie is hoërgraad, bietjie moeiliker as linte knip wanneer nuwe skole oopmaak.

Jaco ·

meeste skole word tydens inperking op groot skaal beroof, so selfs al kry elke skool nou tienduisend maskers en 1 miljoen liter handreiniger, gaan daar andersins niks anders in die skole wees nie. skip 2020. doen alles oor in 2021 OF sit almal net automaties deur. Dis tog maar wat in elk geval meestal gebeur, ook in die jare voor inperking.
Gaan kyk net na die matriekhersieningsprogramme op DSTV: dis skokkend hoe maklik alles nou is.

Natascha ·

Nou moet liewe Angie asb vir my verduidelik hoe die duiwel my kinders mag terug gaan skool toe voordat ek mag terug gaan werk toe? Hoe moet ek skoolfonds betaal as ek nie n salaris verdien nie? Nee wat hierdie een is net so dom astrant soos Dr Zol

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.