Herrie dreig oor Tshwane salarisse wil weerhou

Die Tshwane-metroraad se kantoor in die Pretoriase middestad. (Foto: Christel Cornelissen)

Die vakbond Imatu dreig die Tshwane-metroraad met regstappe oor sy besluit om werkers wie se besonderhede hy nie kon nagaan nie, se salarisse te weerhou.

Naastenby 7 000 werkers word glo geraak. Die metroraad het die proses van stapel gestuur om werkers wat betaal word, maar nie bestaan nie, op te spoor.

Imatu sê weens die tydsbeperking was dit onmoontlik vir al sy lede om teen die voorgeskrewe sperdatum van Woensdag [vandag] hul besonderhede te laat verifieer. Boonop verskyn talle Imatu-lede wat reeds die proses ondergaan het, se name steeds op die lys van werkers wat nie vandeesmaand betaal gaan word nie.

Imatu se regspan sê die Tshwane-metroraad se optrede is onregmatig en sonder regverdiging.

“So ʼn besluit en optrede gaan ongetwyfeld ernstige en onherroeplike skade vir die betrokke werkers veroorsaak,” lui die brief van Imatu se regspan aan die stad.

“Dit gaan nie net beteken dat werkers nie hul skuld, soos huis- en voertuiglenings asook versekering en dies meer kan betaal nie, dit gaan dit ook onmoontlik maak vir die betrokke werkers om na hul eie en hul afhanklikes se basiese behoeftes om te sien.

“Sou enige van ons kliënt se lede skade ly, waaronder gevolglike skade, weens [die metroraad se] onregmatige optrede, gaan die Tshwane-metroraad en sy bestuur – wat die onregmatige besluit geneem en in werking gestel het – aanspreeklik gehou word.”

Imatu sê hy sal hom tot die hof wend as die proses nie gestaak word nie.

Die vakbond Samwu is ook woedend oor die proses en sê die stad het aanvanklik ingestem om alle werkers op 26 Augustus te betaal en die proses teen September af te handel.

Samwu sê die stad het werkers egter Vrydag ingelig dat hulle nie hul Augustus-salarisse gaan ontvang as hul besonderhede nog nie nagegaan is nie.

Die vakbond sê dit was prakties onmoontlik om 25 000 werkers se besonderhede binne vyf dae na te gaan, veral gegewe die Covid-19-maatreëls wat steeds geld. Diegene sonder e-pos-adresse het nie die boodskap betyds ontvang nie, terwyl ander wat van die huis af werk ook nie behoorlik ingelig is nie.

Samwu sê die metroraad het ook nie die moontlikheid dat sommige werkers in hierdie stadium in isolasie of kwarantyn is, in ag geneem nie.

“Dit is duidelik dat die administrateurs nou moeg en uit voeling met die werklikheid is en gekies het om werkers se vyand te wees.

“As vakbond is ons gekant teen enige vorm van bedrog of korrupsie en ons wil ook toesien dat spookwerkers opgespoor word. Ons stem egter glad nie saam met die beperkte tyd wat werkers gegun is om hul status te laat nagaan nie.”

Samwu sê regmatige werkers se salarisse kan nie weerhou word weens die metroraad se versuim om maatreëls in te stel om te verhoed dat onregmatige betalings gedoen word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stofdonkie

Hou die salarisse terug dan sal jy sien hoe vining die werkers hulle besonderhede gaan bevestig. Het self al die problem gehad waar werknemers nie hulle volledige inligting verskaf het nie, hou net so bietjie terug op betaling en hulle is sommer dadelik reg met al die dokumentasie wat benodig word.

Eltan

Hoekom word hulle in die eerste plek betaal as hulle geen diens in elkgeval lewer aan die publiek nie…hulle is eerder n las vir ons as belastingbetalers….

Luna

Dit is baie maklik vir julle om te sê hou terug die salarisse, daar is mense wat al jare vir die Stadsraad werk en wat betroubaar is, dit is mense met lewens, wat kinders het en wat prioriteite moet nakom. Sit maar lekker met ‘n vol magie en oordeel so, terwyl daar mense is wat nie weet of hulle hul kinders sal kan voer die maand nie. Oor die 9000 van hulle wat nie hul huis en kar paaiemente sal kan betaal nie. En meer as die helfte van daardie mense het hul besonderhede al bevestig. As jy nie weet… Lees meer »