Herrie oor beweerde krieket-politiekery; KSA gaan verkla word

Vernon Philander en van sy spanmaats Foto: ICC Cricket World Cup 2015

Vernon Philander en van sy spanmaats Foto: ICC Cricket World Cup 2015

Fikile Mbalula, minister van sport, verwerp bewerings dat hy ingemeng het in die samestelling van Suid-Afrika se span vir die halfeindstryd teen Nieu-Seeland in die krieket-wêreldbeker.

“Die samestelling van enige van ons nasionale spanne het niks te doen met die minister nie,” het Mbalula Maandag in ʼn verklaring gesê. “Die minister het boonop nie ruimte gehad om te bepaal wie moet gekies word en wie moet nie gekies word nie.”

Die Business Day Live het berig daar was politieke inmenging in die samestelling van die span. Luidens die berig het AB de Villiers selfs gedreig om nie in die wedstryd te speel nie nadat Vernon Philander, wat weens ʼn vroeëre besering nie op top-vorm was nie, in die span geplaas is ten koste van Kyle Abbot.

Haroon Lorgat, uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika, het intussen ook in ʼn verklaring ontken dat daar enige politieke inmenging was. “Ons het ʼn paneel wat die span saamstel,” het Lorgat in die verklaring gesê. “Die paneel sluit die afrigter en onafhanklike lede in, en die paneel het al die spanne by die wêreldbeker gekies net soos hulle voor die wêreldbeker gedoen het.”

Anton Alberts, woordvoerder van die VF Plus, het gesê die bewerings is skokkend en KSA sal hierop moet antwoord. “Dit is werklik betreurenswaardig dat ʼn skitterende speler soos Philander nou die middel geword het van ʼn onsmaaklikheid wat die oorsaak is van die ANC-regering se bedenklike beleid van kwotas in sport,” het hy gesê. “Hy is ʼn jong man, en so ʼn voorval kan ʼn groot invloed op sy toekoms as sportman hê. Maar dieselfde kan van Abbot gesê word. Dit raak al hoe moeiliker om in te sien hoe jong wit en bruin spelers hulself kan motiveer om na die boonste sport op die sportveld te mik indien die geleenthede al hoe minder raak.” Volgens hom dryf kwotas opkomende sportsterre uit die land en vernietig ander se drome en ideale. “Die VF Plus gaan internasionale sportorganisasies nader om die rassisme in Suid-Afrikaanse sport onder die deurskynende dekmantel van ‘kwotas of teikens’ uit te lig, en wil die lande en organisasies vra of hulle rassisme in sport enigsins goedkeur.”

Die burgerregte-organisasie AfriForum het intussen ook sy regspan versoek om ʼn amptelike klag teen KSA by die Internasionale Krieketraad (IKR) in te dien weens die rasvoorskrifte wat KSA gestel het. Volgens AfriForum het Lorgat, kort voor die aanvang van die wedstryd, opdrag gegee dat ʼn bykomende swart speler ten koste van ʼn wit speler ingesluit moet word.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, verbied die IKR se reëls uitdruklik enige vorm van rassediskriminasie en politieke inmenging in krieket. “KSA se bereidwilligheid om meriete-spankeuses op te offer ter wille van politieke gedienstigheid aan die ANC se rasse-ideologie, is nie net tot nadeel van plaaslike krieketspelers en -ondersteuners nie, maar het ook nou afbreuk gedoen aan die Wêreldbekertoernooi, wat veronderstel is om ʼn vertoonvenster van die wêreld se beste spelers te wees,” het hy gesê.

Kriel het daarop gewys dat die raskwotastelsel die Proteas van twee kante af benadeel het tydens die span se Wêreldbeker-halfeindstryd teen Nieu-Seeland se Swartpette. “Aan die een kant is die Proteas verhinder om hulle beste span te kies, terwyl hulle opponente, Nieu-Seeland, se wenlopies aangeteken is deur Grant Elliot, ʼn Suid-Afrikaner van geboorte wat die land verlaat het omdat die raskwotastelsel hom van geleenthede ontneem het.”

Benewens die klag teen KSA, is AfriForum se regspan ook reeds besig met omvattende voorbereidings om die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (SARU) en ander nasionale sportliggame te verkla. Volgens Kriel is die voorbereidings omvattend en tydrowend, omdat AfriForum nie slegs by internasionale sportfederasies klagtes wil indien nie, maar ook ander moontlikhede deeglik ondersoek, soos om ʼn saak by die Internasionale Hof vir Arbitrasie in Sport aanhangig te maak.

Kriel het ʼn beroep op lede van die publiek gedoen om hulle naam te voeg by die klagtes wat AfriForum internasionaal gaan indien deur hulle naam na 45343 te SMS (R1/SMS).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

chris ·

Ek se weer laat hulle die kwotastelsel volledig toepas en klaarkry dan weet almal .Nou lieg en bedrieg hulle so ver hulle gaan.A.B Kan ook maar uitkom met die waarheid indien die gerugte waar is,is ons geregtig om te weet.
Vir Vernon is dit ook jammer want soos die berig se word hy nou gesien as ‘n kwota speler wat uiters onregverdig is.

Krieket was vir die meeste van sy bestaan in die ou RSA verteenwoordig deur Engelse .Die Afrikaners het eers later bygekom en was net ‘n aanwins,aangesien hulle deur geen kwota’s bevoordeel was nie al het hulle die meerderheid blankes ,by verre verteenwoordig.Hulle het gewerk om daar te kom.Volgens die ANC se formule moes hulle al vanaf die bestaan tenminste 60% van die span uitgemaak het.Hoe belaglik!
Dit is regtig ‘n probleem as ‘n mens so minderwaardig voel of wat se ek alles Fikile.Jou minderwaardigheid gaan net vererger soos die uitslae swakker word,daars nie pille nie!

rienie ·

Mooi ANC, baie mooi en so sien alles in SA maar hul agterstewe, mense word ingedruk, wat nie eens werd is om daar te wees nie, ander word gebruik om net ‘n punt te bewys, wat vir arme spelers ook nie gunstig is nie. Snaaks hoekom hoor ons nooit karring aan sokker nie. .En kyk hoe mooi is die kwota stelsel daar toegepas, is dit dalk hoekom ons verloor het. Agri Forum ons is so dankbaar vir jul steun

rienie ·

Mooi ANC, baie mooi en so sien alles in SA maar hul agterstewe, mense word ingedruk, wat nie eens werd is om daar te wees nie, ander word gebruik om net ‘n punt te bewys, wat die spelers ook nie gunstig is nie. Snaaks hoekom hoor ons nooit karring aan sokker nie. .En kyk hoe mooi is die kwota stelsel daar toegepas, is dit dalk hoekom ons verloor het. Agri Forum ons is so dankbaar vir jul steun

Liz ·

Pure nonsens, die rasse ding. Enige persoon wat verdien om daar te wees, moet in die span ingesluit word, ongeag kleur of ras.As jy goed is, moet jy gekies word en basta met die kwota stelsel

david ras ·

Tydens dieapartheidsjare het ons op baie plekke kennisgewings gesien wat gelui het–“gereserveer vir blankes”. Dit was wit apartheid. Nou vereis Lorgat en kie dat daar TEN MINSTE 6 spelers van kleur in ‘n span moet wees. Dus 6 plekke is GERESERVEER vir spelers van kleur. Klink vir my na SWART apartheid
Hoelank nog voordat Wit spelers die kwota spelers gaan wees ?

Peet Schabort ·

Lorgat, Lorgat, ek sien ‘n Slaggat, daar doer daar voor in die krieketpad . . .

vernon cogill ·

op die einde van die dag is die proteas soos bafana bafana,”ons is daar en beweeg nie verder nie

Piet ·

Indien die berigte waar is en die IKR se reëls is dat daar geen politieke inmenging mag wees nie, waarom is daar dan toegegee aan die “opdrag” van Laroon Lorgat om ‘n ekstra swart speler in te sluit ? Die inmenging gaan net oor spansport soos krieket en rugby en kan nie toegepas word op individuele sporte soos swem, tennis, golf ens. nie. Waarom kan die spansportfederasies nie aan die minster sê nie : “Ja, ons sal aan jou opdragte voldoen indien dit ook vir alle spansporte gelyk toegepas word, o.a. vir voetbal. Laat hulle swart krieketspanne stig en die
Protea’s sal met dankbaarheid die beste spelers gaan gebruik uit daardie spanne. Ons soek die beste spelers in die land wat ons kan kry, ongeag kleur of ras.

Leon ·

Miskien nou die tyd om dmv weg bly aksies ons stem die te maak
Sodra die kaartjie verkope drasties deal, sal die Rugby,Krieket en ander sport unies minder inskiklik wees en en hul “man staan” in hierdie verband.

Rupert Ashford ·

Ek stem saam dit is ‘n reuse gemors wat lankal oopgevlek moes word. En mens het mos Fikile se breedsprakerige dreigemente oor “nasionale kleure onttrek etc.” wat hy gemaak het teenoor die krieket en rugby. Moet egter nie op prinse vertrou nie. Die IKR? Wat deur Indie “beheer” word? Onthou Indie is groot maatjies van die ANC… Maar ons kan maar net probeer ne?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.