Herrie oor ‘een aand in Mandela se sel’

Nelson Mandela se sel. Foto: Flikr via Thomas Berg.

ʼn Herrie het op sosiale media losgebars toe CEO Sleepout ʼn advertensie geplaas het wat een aand in wyle oudpres. Nelson Mandela se sel op Robbeneiland, waarin hy die grootste gedeelte van sy 27 jaar agter tralies deurgebring het, opveil.

Die geleentheid sou op 18 Julie, die dag wat Mandela 100 jaar oud sou word, plaasvind. Die bod het op $250 000, oftewel sowat R3,4 miljoen, begin.

CEO Sleepout hou jaarliks ʼn geleentheid waartydens uitvoerende hoofde van maatskappye vir een nag op straat slaap om sodoende geld in te samel vir minderbevoorregtes.

Die beplanning was glo dat een persoon self in Mandela se sel sou slaap en sowat 60 ander op ander plekke op die eiland.

Liane McGowan, woordvoerder vir CEO Sleepout, het Maandag aan Maroela Media bevestig dat die geleentheid nou na later vanjaar geskuif is om saam met ʼn ander geleentheid in Suid-Afrika te val wat ook ter ere van Mandela sal wees. “Dit is geskuif aangesien ons teikenmark internasionaal is en die mense wat self deelneem gevra het dat dit geskuif word.”

Die advertensie. Foto: Twitter via @victordlamini.

Volgens McGowan sou alle fondse wat ingesamel word na die Prison-to-College Pipeline-organisasie gegaan het. Dit is ʼn organisasie wat volgens McGowan glo dat alle gevangenes dieselfde toegang tot tersiêre onderrig verdien.

“Ons hele idee was van die begin af om iets negatiefs in Suid-Afrika se geskiedenis te neem en dit in iets positiefs om te keer. Mandela het studeer terwyl hy in die tronk was en ons het dit as ʼn geleentheid gesien om ʼn blywende positiewe bydrae te maak. Ons hele oogmerk is om geld vir minderbevoorregtes in te samel,” het sy verduidelik.

McGowan het gesê woordvoerders, belanghebbendes, hoofde en ander relevante persone was almal op 10 Mei teenwoordig toe die geleentheid se mediabekendstelling plaasgevind het. “Ons weet nie presies waar hierdie herrie nou vandaan kom nie; dit het gister losgebars. Ons het reeds twee weke terug die advertensie afgehaal net om te verhoed dat mense aanhou bespreek, want ons het sowat ses weke gelede die besluit geneem dat die Robbeneiland-weergawe van die projek nie meer sou plaasvind nie.”

Sy het bygevoeg die besonderhede van later vanjaar se geleentheid is nog nie bevestig nie.

Morongoa Ramaboa, woordvoerder vir Robbeneiland, het egter Donderdag aan Maroela Media gesê die moontlikheid om Madiba se sel op te veil is nooit tydens hul onderhandelinge met CEO Sleepout bespreek nie.

“Hulle het ons vroeër vanjaar genader oor die moontlikheid om die CEO Sleepout by ons te hou en ons het dit verwelkom. Ons sou dit soos ʼn geleentheid hanteer. Mense sou kon oornag, maar uiteraard op ʼn spesifieke plek in ʼn beheerde omgewing. Ons is verantwoordelik vir alle mense hier.”

Foto: Facebook via
Robben Island Museum – An agency of the Department of Arts & Culture.

Ramaboa het gesê hulle veroordeel die opveil van Mandela se sel ten sterkste en is hartseer daaroor dat die oudpresident se nalatenskap so uitgebuit word. “Ons het deur openbare platforms van die veiling te hore gekom. Ons is ʼn wêrelderfenisgebied en sou so iets onder geen omstandighede toelaat nie.”

Volgens haar het die organiseerders van CEO Sleepout op 20 Junie vir hul ʼn e-pos gestuur en in kennis gestel dat die geleentheid nou uitgestel word tot November.

“Ons het ná ons te hore gekom het van die veiling na hulle uitgereik en is in kennis gestel dat hul menslikehulpronne-afdeling ʼn verklaring moet saamstel. Ons het tot nou toe nog niks van hulle gehoor nie.”

Sosialemediagebruikers het uitgevaar teen dié idee dat iemand ʼn nag in Mandela se sel deurbring en meen dat dit in swak smaak en ʼn uitbuiting van die struggle-ikoon se swaarkry op die eiland is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

christa ·

niemand buit Mandella uit nie. Eerstens was hy nie ‘n godjie nie. Die mense doen dit vir ‘n goeie doel, en dink Mandella sou dit goed gekeur het. Moet mense altyd alles uit verband ruk.

Theresa ·

Ag pleeeeeaaazzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzze! Die sel is nie afgebrand of verniel nie.

honourable member ·

Ag hoe eenvoudig. Gaan kyk maar wie deesdae altyd die gelde ontvang so waaroor moan die mense. Dis hulle eie mense wat geld kry.

Wollie ·

Ek weer gehoor die eiland is besig om agteruit te gaan, so hoekom hulle juis dit daar wil hou weet niemand nie

Eish ·

Hehehe jy moet MY R450 miljoen betaal om daar te gaan slaap. Nie andersom nie. Net soveel as wat ek Mandela se versoeningshouding waardeer waarmee hy uit die tronk gekom het, kan ek ongelukkig nie NET aan hom dink as iemand wat nie ook betrokke was by die gewelddadigheid van die sogenaamde ‘struggle’ nie

Nettie ·

Ag, ASSEBLIEF TOG!!!!!!!!!!!!!!!

Mense vereer Mandela asof hy ‘n god is. Orals hoor en sien jy nou “Madiba 100 years”. Genade, is daar dan mense wat vergeet het dat hý die stigter van die ANC se uiters gewelddadige mKhonto-we-Sizwe was? Dat hý instruksie gegee het vir heelwat aanvalle op onskuldige burgerlikes, alles ter wille van “The Struggle”? Dat hy laat bomme plant het wat onskuldige burgerlikes se lewens gekos het en talle vermink gelaat het?

Nee man, die man was geensins ‘n engeltjie nie. Ek erken dat hy ‘n deurslaggewende rol gespeel het in Kodesa en dat hy – seker maar – ‘n goeie staatspresident was, maar om hom blindelings só te vereer, selfs ná sy dood? Aggenee wat!

hendrik ·

Nettie, se asb wat hy vir ons by Kodesa beteken het. Roelf Meyer en Ramaphosa het ons belieg en n rat voor die oe gedraai en hulle lag lekker in die mou daaroor. Meyer het daarna by die ANC aangesluit en ramaphosa se paddakook het ons nie n guns bewys nie.

Piet ·

Hy word wel aanbid. Dis algemeen bekend dat voorvader geeste aanbid word. As jy die taal kan praat sal jy dit self hoor.

Jaap ·

Grap van die jaar.
Wie in die wereld wil daar slaap?
Om publisiteit vir sy maatskappy te kry.
Hy was verseker nie n god nie.
Wat het hy nou eintlik gedoen?
Wat,waar en hoe?

Tannie Hettie ·

Gee die geld vir honger mense of opvoeding vir kinders nie vir krimenele nie

Mrs H ·

Dis so goed soos om vir my te vra om te betaal om in Bin Ladin se grot te gaan slaap… Ook n terroris wat bomme en onskuldigge mense op geblaas het… En die reenboog nasie was toe nie n sukses nie! Enigste verskil: Bin Ladin moes vereer word as president, maar word toe vermoor, want dit was nie Afrika nie.

Geronimo ·

Ek dink dit is ‘n goeie plan, op voorwaarde dat ek al die sleutels kry.

magtig ·

Dit is nie minderbevoorregtes nie dit is mense wat moord en roof gepleeg het hulle is daar vir ‘n rede. Jy het nie ‘n graad nodig om reg en verkeerd te bepaal nie. Hoekom hulle help? vat die geld en gee dit vir ware eerlike minderbevoorregtes wat teminste tussen reg en verkeerd kan bepaal.

Zumie ·

Ons het nou die prys vir ‘n dag – wat van ‘n 27 jaar “spesiale aanbod”??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.