Herrie oor FNB se Twitter-“grappie”

Die Twitter-boodskap wat die herrie begin het.

Die Twitter-boodskap wat die herrie begin het.

Eerste Nasionale Bank (FNB) se Twitter-persoonlikheid, @RbJacobs, het mense landswyd ontstoke nadat hy Dinsdagoggend op Twitter gesê het Steve van dié bank se advertensies is in Afghanistan, besig om ‘n bom onder ‘n gestremde se rolstoel te plant.

Die verbruiker Stu (@gormleystuart) wou by FNB weet waarheen Steve verdwyn het, aangesien die bank se radioadvertensies nie dieselfde is sonder hom nie.

RbJacobs (FNB Guy) het kort daarna van sy amptelike Twitter-rekening geantwoord: “He’s somewhere in Afghanistan, putting a bomb under a wheelchair and telling the cripple to run for it!” [Hy is êrens in Afghanistan, besig om ʼn bom onder ʼn rolstoel te plant en die gestremde te waarsku dat hy moet hardloop.]

Talle volgelinge het hul misnoeë oor dié onsensitiewe boodskap uitgespreek. Die boodskap is kort daarna van Twitter verwyder en RbJacobs het om verskoning gevra. “Aanvaar asseblief my verskoning,” het hy gesê. “My antwoord vanoggend was geensins bedoel om enigiemand te na te kom of gestremdes te verkleineer nie.”

Suzanne Myburgh, FNB se woordvoerder, het daarna in ʼn verklaring gesê die bank is teleurgesteld in dié uitlating en vra onvoorwaardelik om verskoning. “Ons vind die opmerking onsmaaklik en teenstrydig met die bank se korporatiewe waardes. Die Twitter-boodskap is dadelik verwyder. Die voorval word ondersoek en die nodige tugstappe sal geneem word,” het Myburgh gesê.

Jacques Celliers, FNB se uitvoerende hoof, het ook vir die “blaps” om verskoning gevra, en gesê kenners gee onmiddellik aandag aan die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sumo ·

Inderdaad is dit onsmaaklik en onsensitief !

Die advertensie is in elkgeval uiters irriterend ook.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.