Herrie oor ‘gewapende roof’ by Spur

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Nabootsing van ʼn gewapende roof by die San Diego Spur in die Mountain Mill-winkelsentrum in Worcester in die Wes-Kaap het Dinsdag talle inkopiegangers getraumatiseerd gelaat.

Die voorval het omstreeks 09:45 plaasgevind. “Ek het oorkant die Spur by die Mugg & Bean-restaurant gesit toe ek skielik mense uit die Spur sien hardloop het,” het Ina Genade Dinsdag aan Maroela Media gesê. “Daar was absolute chaos. Mense in die Food Court het ook begin hardoop en daar was selfs iemand wat by die Mugg & Bean gegil het.”

Genade het gesê sy het daarna ʼn man sien uithardloop met ʼn sweetpakbaadjie en sy kappie oor sy kop getrek. “Hy het ʼn sak by hom gehad. ʼn Tweede persoon het ook met ʼn sak uitgehardloop gekom, ook met sy kappie oor sy kop getrek en toe ʼn derde man uithardloop, het ek die pistool in sy hand gesien.”

Volgens haar het dit aanvanklik gelyk of die man nog eers na die Mugg & Bean wou hardloop, maar hy het toe agter sy twee makkers aan uit die sentrum gehardloop.

Volgens Genade het een van die kelnerinne in die restaurant aan hulle bevestig dit is slegs ʼn nabootsing, om te toets hoe paraat Spur-personeel sou wees indien ʼn gewapende roof regtig sou plaasvind.

“Daar was ʼn hele aantal pensioenarisse en hulle was baie geskok,” het sy bygevoeg. “Een tannie was te oud, sy kon nie platval toe die man hulle aangesê het om plat te val nie. Sy was baie bang dat hulle haar gaan skiet. ʼn Vrou met haar twee maande oue babaseuntjie het pas ingestap toe die mans geskree het almal moet platval. Sy het met haar seuntjie agter ʼn muur weggekruip en gevrees dat hulle haar kind sou doodskiet.” Een persoon het glo ook ineengestort van angs.

Kapt. Frederick van Wyk, woordvoerder van die polisie in die Wes-Kaap, het aan Maroela Media gesê geen saak van gewapende roof is by die polisie aangemeld nie. “Indien dit werklik ʼn gewapende roof was, sou iemand dit al aangemeld het,” het hy gesê.

Die persoon wat Dinsdagaand by die betrokke Spur die telefoon geantwoord het, het slegs gesê sy was nie ten tyde van die voorval in die restaurant nie en kan dus nie kommentaar lewer nie. Sy kon nie die eienaar se telefoonnommer aan Maroela Media verskaf nie en het slegs aangedui die persoon sal Woensdag beskikbaar wees.

Ene Clinton by Spur se hoofkantoor het gesê hulle is bewus van die voorval en dit word ondersoek. Hy het gesê meer inligting sal later beskikbaar gemaak word. Lees die opvolgberig hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
Maggie

Genade dis stupid om so iets aan te vang. Ek loop gewapen rond juis vir so gebeurlikheid! En as ek nou so “gewapende rower” doodskiet? Waarsku asb mense om nooit weer so iets te doen nie!!!

Marietjie Knoetze

Ek stem saam dat so ‘n oefening gevarlik kan raak. Ek was onder die indruk dat ‘n mens ten minste aan ‘n paar sleutelpersone kennis moet gee van jou voorneme om so ‘n oefening uit te voer, en dan ook nooddienste, soos paramedici, byderhand moet he vir geval van angsaanvalle, hartaanvalle, beroertes of beserings wat mag voorkom. Behalwe vir gewapende klante kan daar nogal ernstige beserings plaasvind as mense paniekerig raak en probeer wegkom.
Dis goed om paraat te wees, maar reel maar die oefeninge met omsigtigheid. Sela

Boesman

Absoluut belaglik.

grotman

Jip Jip… Welkom in die nuwe RSA. Verstand is skaars…

Marlene Marais

Ek het n familie lid wat teenwoordig was tydens die episode en glo my ek dink dit was n uiters onbedagsame manier om iemand deur sulke trauma te plaas. Almal kan nou se net wat hulle wil, maar wat as iemand regtig beseer is, wie dra dan die gevolge. Om nie eers te praat van die sielkundige implikasies wat mens opdoen in sulke situasies. Om eerlik te wees ek dink n verskoning is nie goed genoeg nie, dit sal verder geneem moet word en Spur hoofkantoor moet n boete kry vir n duidelike ondeurdagte besluit. N mens sal nooit ooit… Lees meer »