Herrie oor hare in Clicks-advertensie

(Foto: clicksgroup.co.za)

Die Clicks-groep het Vrydag om verskoning gevra ná ʼn herrie op sosialemediaplatforms losgebars het oor ʼn advertensie waarin oënskynlik neerhalend na swart mense se natuurlike hare verwys is.

In die advertensie word die byskrifte “frizzy & dull” en “dry & damaged” gebruik by die foto’s van swart vroue se natuurlike hare, terwyl die byskrifte “fine & flat” en “normal” by foto’s van wit vroue se hare gebruik word.

Talle Twitter-gebruikers het dit as minagtend teenoor swart mense bestempel. Sommige gebruikers het gevra dat die groep geboikot word, terwyl een gebruiker daarop aangedring het dat Clicks skadevergoeding betaal.

Ook Mej. Heelal, Zozibini Tunzi, het die advertensie veroordeel.

Clicks het in ʼn Twitter-boodskap om verskoning vir die advertensie gevra.

“Ons wil onvoorwaardelik om verskoning vra. Ons het die foto’s verwyder wat indruis teen alles waarin ons glo. Ons keur nie rassisme goed nie en is groot voorstanders van natuurlike hare. Ons weet ons moet beter vaar en onderneem om te verseker dat ons inhoud dié waarde beter weerspieël,” lui die inskrywing.

Clicks sê voorts hy erken hy het ʼn fout gemaak en vra om verskoning dat hy mense in die steek gelaat het.

Die advertensie is intussen van Clicks se webwerf verwyder.

“Ons besef dat ons ʼn rol speel in die skep van ʼn meer uiteenlopende en inklusiewe Suid-Afrika, beginnende met die inhoud op ons webwerf. Ons besef ons moet beter vaar en is groot voorstanders van natuurlike hare.

“Ons is werklik jammer en gaan strenger maatreëls op ons webwerf in werking stel.”

Die EFF het die advertensie intussen as “rassisties” bestempel en onder meer geëis dat die direkteure en werkers wat betrokke was by die advertensie se name bekend gemaak word. Die party het ook geëis dat diegene wat betrokke was by die advertensie, hetsy werkers of kontrakteurs, dadelik afgedank word.

Die EFF het gedreig om “alle Clicks-winkels in Suid-Afrika te sluit” as dit nie gedoen word nie.

Die advertensie is reeds onttrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.