Herrie oor Harties se seekoei

Harpo (Foto: Verskaf)

Gerugte doen die ronde dat ʼn permit goedgekeur is wat glo toestemming gee dat Harpo, Hartbeespoortdam se bekende seekoei, geskiet kan word.

Harpo het in Mei verlede jaar sy verskyning in die Hartbeespoortdam gemaak en het sedertdien al diep in talle van die inwoners se harte gekruip.

Volgens Gullaume Clouston, ʼn inwoner van Hartbeespoortdam, bly die seekoei al sedert verlede jaar in ʼn moeras in die Meerhof-gebied. Deur die dag vertoef hy daar in die water. Hy sê daar kom ook nie baie bote in daardie spesifieke deel van die dam nie.

Clouston sê Harpo se teenwoordigheid het nog nie ʼn bedreiging vir enigiemand in die afgelope amper twee jaar ingehou nie.

“Ek besef hy kan gevaarlik wees, maar tot nou toe het hy nog niemand gepla nie. Hy hou sy afstand en hardloop nie sommer na iemand wat op die oewer van die dam staan nie. Ek glo as hy aggressief was, sou hy al lankal iemand aangeval het,” het Clouston aan Maroela Media vertel.

Volgens hierdie besorgde inwoner was hulle verlede jaar presies hierdie tyd in dieselfde bootjie.

Harpo die seekoei (Foto: Verskaf)

“Verlede jaar Desember is ’n permit uitgereik sodat Harpo geskiet kon word. Inwoners het weerstand daarteen gebied en talle petisies is opgestel om te verhoed dat dit gebeur.”

Gerugte word nou versprei dat daar weer ’n permit uitgereik is. ’n Hele paar petisies is ook reeds na aanleiding van hierdie gerugte van stapel gestuur.

“Ons weet nie hoe, volgens watter kriteria of aan wie die permit uitgereik is nie.”

Clouston en sy vrou het private ondersoeker Mike Bolhuis genader om na die belange van die bekende seekoei om te sien. Bolhuis en sy span het ingestem om die seekoei gratis te beskerm.

“Ons kan bevestig dat Harpo nie geskiet sal word sonder ’n in-diepte validering van die redes waarom hierdie besluit geneem is nie. Harpo sal beskerm word totdat al die antwoorde gekry is en ’n kalm en redelike besluit geneem kan word.”

Bolhuis sê hy en sy span neem hierdie taak ernstig op en versoek enigiemand wat ’n probleem met Harpo het, om nie oorhaastig op te tree nie.

Volgens die gerugte het die departement glo aangevoer dat seekoeie uiters territoriale en gevaarlike diere is en ’n bedreiging vir die veiligheid van inwoners en toeriste kan inhou.

Maroela Media het probeer om die provinsiale departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme in die hande te kry vir kommentaar, maar kon ondanks verskeie pogings nie enige woordvoerders vir kommentaar bereik nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.