ʼn Storm het op sosiale media losgebars oor plakkate wat ontwerp is om soos historiese Nazi-propogandaplakkate te lyk, wat op die kampus van die Universiteit Stellenbosch (US) opgeplak is.
Op die plakkaat kondig ʼn groep wat hulself The New Right en The Anglo-Afrikaner Student noem aan dat daar op 11 Mei om 17:00 ʼn byeenkoms in die JS Gericke-biblioteek gehou sal word. Die tema van die geleentheid is “Veg vir Stellenbosch”. Die plakkaat gee nie meer inligting oor die doel of die agenda van die vergadering nie.
Foto’s van die plakkate is wyd op sosiale media gedeel en talle mense het dit veroordeel. Sommige mense meen die plakkate is met opset op die kampus geplaas om rassespanning onder studente aan te hits.
Die US het intussen in ʼn verklaring gesê die universiteit veroordeel rassisme, rasse-meerderwaardigheid en enige pogings om die kampusgemeenskap te verdeel. “Geen geleentheid wat rasse-meerderwaardigheid bevorder, sal toegelaat word om op die kampus gehou te word nie,” het Martin Viljoen, woordvoerder van die universiteit, in die verklaring gesê.
Volgens Viljoen is die plakkate op die kampus aangebring sonder enige voorafkennis of toestemming van die universiteit. “ʼn Ondersoek is tans aan die gang en die plakkate is ook by die universiteit se eenheid vir gelykwaardigheid aangemeld,” het hy gesê.
Viljoen het gesê daar is navraag gedoen oor die beskikbaarheid van die lokaal waar die vergadering blykbaar gehou sal word, maar daar is geen amptelike bespreking gemaak of meer inligting oor die geleentheid gegee nie. “Die oorsprong van die plakkate is nog nie bekend nie, maar die universiteit volg tans die inligting wat vanaf die organiseerders ontvang is op.”
Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van US, het gesê die boodskap op die plakkate is totaal onaanvaarbaar en in direkte teenstelling met die US se waardes. “Dit lyk asof daar met opset hier kwaad gestook word en indien dit die geval is, sal dissiplinêre stappe gedoen word.”
Die US het enigiemand met meer inligting oor die saak versoek om dit by die kliëntedienssentrum by 021 808 9111 of [email protected] aan te meld.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
51 Kommentare
Ag rerig. Nou gaan alles seker weer aan die brand gesteek word.
En die US se ondersteuning dan van die (baie erger) veldtog van die ‘Open Stellenbosch’ groepering laasjaar? Waar is die ewewig / objektiwiteit mbt US se optrede?
Hmm, interessante dinamika – kom ons kyk of hulle die kind wat hulle self gebaar het kan grootmaak ;)
Nogal verblydend want dit kom voor of daar ook mense is wat nou begin dink. Ek bedoel daar is seker niks verkeerd om vir jou taal, kultuur,godsdiens en jou volkswese in te staan nie, maar die werkswyse en metodes moet net in orde wees.
Studente van vandag mag ook niks meer pret of streke he nie, dan is dit sommer in die koerante!
Dit is net weer ‘n persepsie dat dit rasisme is en nou gaan die media weer voluit met die sensasie soekery….media is oorsaak van baie probleme in Suid-Afrika.