Herrie oor SA-jagter se ‘seekoei-uitdunning’ in Zambië

Theo De Marillac by ʼn seekoei wat langs die Luangwarivier in Zambië geskiet is. Foto: Kamisa Malipita

Theo De Marillac by ʼn seekoei wat langs die Luangwarivier in Zambië geskiet is. Foto: Kamisa Malipita

ʼn Zambiese diereregte-aktivis het gewaarsku tot 2 000 seekoeie langs die Luangwarivier in Zambië kan oor die volgende vyf jaar deur ʼn Suid-Afrikaanse professionele jagter doodgemaak word.

ʼn Foto van die jagter, Theo De Marillac van De Marillac Safaris, wat langs die karkas van ʼn seekoei staan, het opslae gemaak nadat dit deur ʼn fluitjieblaser wat homself “Friend of Wildlife” noem, uitgelek is.

Die foto vorm deel van ʼn paar foto’s wat afgelaai is van die Facebook-blad van Kamisa Malipita, ʼn werknemer van die Zambiese departement van nasionale parke en wild (DNPW). Ander foto’s wys hoe ʼn seekoei geskiet word toe hy in die rivier klim, plaaslike inwoners wat die dooie seekoeie slag en twee afgesnyde seekoeikoppe.

Die Zambiese owerhede het glo ʼn kontrak van vyf jaar aan De Marillac toegestaan om seekoeie langs die rivier vir uitdunning en trofeejag te skiet. Volgens die DNPW se webtuiste is die kontrak toegestaan as deel van ʼn uitdunningsprogram om die seekoeibevolking langs die Luangwarivier in die suide te beheer.

Diereaktiviste staan egter die program teen en beweer dit is slegs ʼn trofeejag-program wat as ʼn bevolkingsbeheerplan voorgehou word. ʼn Anonieme fluitjieblaser in Lusaka het aan African News Agency gesê die seekoeijaglisensie maak voorsiening vir tot 2 000 seekoeie om oor die volgende vyf jaar geskiet te word as deel van “getalle-beheer”.

“Op die oomblik verkoop die [Suid-Afrikaanse] professionele jagter die seekoeitrofeejagtogte aan buitelanders. Ten minste ses seekoeie is al doodgemaak sedert die program op 22 Mei 2016 begin het. Daar is dringende vrae oor die wettigheid van die uitreiking van die lisensies,” het die informant gesê.

Volgens die bron het die DNPW sedert Mei met ses gemeenskapshulpbronrade vergaderings gehou, waar hulle ingelig is dat troppe seekoeie, insluitend dragtige koeie en koeie wat nog kalfies het wat aan hulle drink, sal saam met hul kalfies doodgemaak word. Hy het gesê die onoordeelkundige jag kan seekoeie by die rivier uitroei en is ʼn oortreding van die Zambiese wet op natuurlewe, omdat buitelandse jagters betrokke is.

“Sover my kennis strek is daar geen omgewingsimpakstudies gedoen of ingedien nie. Plaaslike professionele safari-jagondernemers is woedend. Hierdie buitelandse jagter kan 400 seekoeie per jaar doodmaak. Die jagseisoen is vier maande lank. In hierdie tyd sal ʼn beduidende gedeelte van die seekoeibevolking in die Luangwa-vallei uitgeroei word.”

Paul Zyambo, die direkteur van DNPW, het bevestig ʼn seekoei-uitdunningsprogram is in suidelike Luangwa van stapel gestuur, maar wou nie kommentaar lewer oor die wettigheid van die program nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Justa ·

So gaan die uitroei van wild lewe ongestoord voort en dan wil jagters die leuen verkoop dat dit bewaring deur volhoubare bestuur is. is. Wat n klug spul.

Takkie Takuuza ·

Moet nou nie jou onkunde so ten toon stel nie. As jy nie kennis het oor ‘n onderwerp nie, dan luister jy maar net. Ek kan vir jou ‘n hele lang relaas skryf oor hoekom die jag-bedryf bewaring bevorder, maar ek twyfel of dit jou sal help.

Cherokee ·

So, jy dink dieregetalle moet beheer word maar nie diè van mense nie.

Christo Visagie ·

Mense oortree in die diere domain,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,wat verwag mense. Gooi die jagter vir die seekoeie, probleem opgelos,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,

Charlise Theron ·

Seekoeie moet net ophou om soveel mense te eet! Nou vra jy dat hulle die jagter moet eet?

Helder Denker ·

Charlise, ek is seker jy is nie ”DIE” Charlise nie, daarvoor is jy bloot TE blond. Mag daardie jagter gestuit word, want duidelik stel hy slegs in die Amerikaanse dollar belang en glad nie in bewaring nie. Die Zambiese regering moet voor ‘n internasionale hof gedaag word vir roekelose uitreik van permitte-daar moet eerlikwaar ‘n beter toekoms beding kan word vir die seekoeibevolking!

FRANCOIS ·

Charlise, waar val jy uit ? Mense betree die habitat van die diere, en die seekoeie is herbivore en eet nie die mense nie.

Cherokee ·

Dit mag wel so wees soos jy sê Francois, maar dit klink asof jy nie weet dat seekoeie die diere is wat die meeste mense uitdun.

Dries ·

Kan die aktiviste asb dieselfde bohaai opskop oor die moorde hier in SA ? Daar word meer mense vermoor hier as die paar seekoeie waarvan daar gepraat word.

Jan ·

Hierdie syfers maak nie sin nie. As die kwota 400 seekoeie per jaar is, en die jag seisoen is 4 maande – omtrent 120 dae – moet daar 3.33 seekoeie per dag geskiet word om die kwota te vul. Tog in die laaste 2 weke is daar net 6 geskiet vs die 46 wat gemiddeld geskiet sal moet word om by 400 p.a. uit te kom. Is die lawaai nie dalk ‘n bietjie oordrewe nie?

Nico K ·

Ek weet die mense voel nou jammer vir die seekoeie. en die berig sê nie of dit in die wildtuin is of daar buite. Maar gaan een van julle toelaat dat daar wilde seekoeie hier in Pretoria of Johannesburg tussen julle huise bly waar julle kinders elke dag tussen hulle moet skooltoe stap. Dit gebeur in talle plattelndse gebiede selfs in SA. Die dae van wild buite wildtuine is verby. En in wildtuine moet diere in elkgeval uitgedun word anders gaan hulle later die hele natuur verwoes en dan van honger doodgaan. En moet tog nie so tekere gaan oor die diere wat doodgekiet word terwyl daar ‘n stuk vleis in jou bord lê nie.

M'Lady ·

Die probleem is daar is te veel mense op hierdie planeet. As die seekoeie uitgeroei is wat is volgende? Leeus, olifante , luiperds, renosters en voor ons ons oe uitvee is daar niks oor nie. Die onbeheersde bevolkingsaanwas veral in Afrika moet aangespreek word. Onthou net die mens oortree die gebied van die diere. Iemand maak nou weer n moewiese klomp geld hieruit en ek weet wie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.