Herrie oor vertroulike e-posse in Zuma-saak

Oudpres. Jacob Zuma (Februarie 2020) (Foto: Nokuthula Mbatha/African News Agency/ANA)

Die staat is steeds nie gereed om met die korrupsie-verhoor van Jacob Zuma voort te gaan nie en wil hê dat dit tot vroeg in 2021 uitgestel word. Dit blyk uit ʼn vertroulike e-pos wat die staat se hoofaanklaer, adv. Billy Downer (SC), na bewering verlede week aan regter‑president Achmat Jappie van die KwaZulu-Natalse-regbank gestuur het. Dit is dié e-pos wat nou veroorsaak dat Zuma se span die “meriete van die saak” teen Zuma bevraagteken.

Die staat wil glo die klagstaat wysig omdat KPMG oorspronklik van die beweerde betalings weggelaat het wat deur Schabir Shaik en sy Nkobi-groep aan Zuma gemaak is ten tye van die regering se wapentransaksie meer as tien jaar gelede.

Die aanklagte spruit uit die omstrede wapentransaksie wat in die laat 1990’s deur die Suid-Afrikaanse regering onderhandel is.

Zuma, wat in April 2018 van beweerde korrupsie aangekla is, wil hê dat die verhoor reeds later vanjaar aangehoor word.

Nathi Mncube, die woordvoerder van die kantoor van hoofregter, Mogoeng Mogoeng, het vroeër aan die media gesê regter Jappie het nie die brief van Downer gesien nie omdat die hof gesluit is om ontsmet te word.

Dit blyk egter dat Downer se e-pos aan Jappie in antwoord was op ʼn navraag van die regter‑president oor die verwagte duur van die hofverrigtinge teen Zuma. Downer het skynbaar nie Zuma se nuwe regspan in sy antwoord aan Jappie ingesluit nie.

Oudpres. Jacob Zuma was Vrydag glad nie op sy stukke toe sy saak tot Mei 2019 uitgestel is nie. Foto: ANA

Zuma se prokureur, Eric Mabuza, het van die briefwisseling te hore gekom en ʼn sterk bewoorde brief aan regter‑president Jappie en sy adjunk, regter Mjabuliseni Isaac Madondo, gestuur om beswaar te maak dat hy nie by die briefwisseling ingesluit is nie.

Mabuza sê hy is as gevolg van sy uitsluiting nie in die bevoorregte posisie om te weet wat die regverdiging vir of die presiese aard van die eensydige (ex parte‑) bespreking was nie en of Jappie se vrae aan Downer mondeling of skriftelik was nie.

“Dit is onvanpas omdat al die betrokke partye nie kennis gedra het van die kwessies en redes [wat bespreek is] nie.”

Hy sê voorts dit is duidelik dat regter Jappie selfs op die terrein van die moontlike veranderings aan die klagstaat beweeg het en dat sy kliënt (Zuma) ernstig bekommerd is dat daar gelyktydig ʼn tweede regsproses aan die gang is waarvan hy en sy regspan uitgesluit is.

Volgens Mabuza se brief was regter Madondo die enigste persoon wat toegewys was om met die vervolgingsgesag te kommunikeer en dat Jappie van dié reëling bewus was.

“Daar is ernstige kommer dat besprekings plaasvind wat ʼn daadwerklike invloed op die meriete van die saak het,” aldus Mabuza.

Hy verwys spesifiek na Jappie wat glo by Downer wou weet watter bewyse hy het dat meer betalings deur Shaik aan Zuma gemaak is en ook dat die indruk geskep word dat die staat druk op die regbank plaas om uitstel te kry wat hul saak sal pas.

“Zuma is gegrief dat die regter‑president kon dink dat dit van pas is om dit met die staat te bespreek sonder dat sy regspan teenwoordig is,” skryf Mabuza. “Die redes is voor die hand liggend en hou verband met billikheid, gelykheid en die uitskakeling van enige redelike persepsie of vrees dat daar vooroordeel mag wees.”

Oudpres. Jacob Zuma buite die hooggeregshof in Pietermaritzburg. (Foto: MotshwarI Mofokeng/ANA)

ʼn Senior landdros van Pretoria wat nie sy naam genoem wil hê nie, het aan Maroela Media gesê dit is deel van die pligte van die regter‑president en sy adjunk om hofrolle op te stel en dit is die gebruik om litigante te nader oor hoeveel getuies hulle gaan roep en hoeveel tyd hul getuienis in beslag gaan neem.

Hy sê Zuma se regspan probeer nou daaruit munt slaan en probeer ʼn persepsie skep dat agteraf ʼn gesprek gevoer word tussen die regter en die staatsaanklaer wat op die oog af nie die geval is nie. “Dié persepsie sou onteenseglik verhoed kon gewees het indien Downer wél Zuma se regspan by die korrespondensie betrek het.”

Willie Spies van die regsfirma Hurter Spies sê hy meen dis onbehoorlik as daar direkte oorlegpleging tussen die staat en ʼn regter is sonder om ten minste die ander party se regsverteenwoordiger in te sluit. Die enigste uitsondering kan wees as die prokureur nog nie op rekord geplaas is as die beskuldigde se regsverteenwoordiger nie.

Volgens Mabuza se brief het hy egter wel voorheen korrespondensie van adjunk-regter‑president Madondo in verband met die Zuma-saak ontvang, wat beteken dat die firma wel as Zuma se regsverteenwoordiger op rekord is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Boortor ·

En so sal hy NOOIT sy dag in die hof kry nie. Hy is n skelm vry man. Baie geluk zuma!

Francois ·

Ag asb hulle word ook nou deur Zuma betaal om dit uit te stel

marius ·

Nes die nikswerd kommissies . Alles deel van die gooi die doek oor die ogies speletjie .

JohanR ·

My gooiste! Elke keer wat ek die ou se vreet gesig sien, dan wil ek ietsie breek of stukkend slaan! Die selfde reasksie toe ek nog Robert Mugabe se bakkies moes sien voordat hy die emmer geskop het…..

Fedup ·

head scarf must be so proud. We will never see this one pay for his sins.

PieterP ·

Hy sal dood wees voordat hy skuldig bevind word en ere ville staatsbegrafnis kry

Leon ·

Die Zumas moet eers genoeg sigarette verkoop om vir sy hofsaak te betaal.

Genis ·

CR was sy deputy vir jare, wat verwag julle.. CR rapporteur tot dan aan sy ex vrou…

Sonneblomkind ·

ja nee hier word weer BRIBES gevat seker, hy sal nooit sy dag in die hof kry nie, ou nuus in Suid Afrika

Nico ·

Wie betaal vir al die hofsake, die belasting betaler, wie is die belasting betaler.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.