‘Hersien aandklokreël,’ vra Kaapstad

Restaurante in Kaapstad het op 22 Julie 2020 deelgeneem aan ‘n betoging teen die voortgesette alkoholverbod (Foto: A Gorman Photography/Facebook)

Die Stad Kaapstad het die nasionale regering versoek om die vervroegde aandklokreël te hersien ten einde ʼn ekonomiese ramp in dié provinsie te voorkom.

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagaand aangekondig dat die landwye aandklokreël ten tyde van vlak 2 van inperking van 23:00 tot 04:00 sal geld. Alle nie-noodsaaklike instellings, waaronder restaurante, kroeë en gimnasiums, moet teen 22:00 sluit om te verseker dat personeel en klante voor die aandklokreël in werking tree tuis is.

James Vos, burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese geleenthede en batebestuur in Kaapstad, sê hoewel strenger maatreëls nodig is om die derde vlaag van Covid-19-inefksies te bekamp, sal die gasvryheid- en toerismebedryf verder kwyn weens die vervroegde aandklokreël. Hy sê die provinsie se ekonomie kan dit ook nie bekostig nie omdat is afhanklik van dié bedrywighede is.

“Ons het gesien hoe vorige aandklokreëlbeperkings tot ʼn verlies van handelsure gelei het. Dit het baie kleinsakeondernemings tot op die randjie van bankrotskap gedryf. Baie ondernemings kon nie hul nie klante behou, rekeninge betaal of personeel in diens hou nie,” sê Vos.

Volgens Vos het die stad verlede jaar vroeg in die Covid-19-pandemie ʼn tienpunt-strategie in werking gestel om Kaapstad se toerismebedryf weer op die been te bring en kleinsakeondernemings te red. “Ondernemings se winste en bedrywighede het sedert Februarie vanjaar weer goed op dreef gekom. Binnelandse vlugte na Kaapstad Internasionale Lughawe het in die eerste helfte van Mei met 66% toegeneem, die sterkste herstel sedert die hervatting van plaaslike vlugte in Junie 2020.”

Vos sê die hersiene maatreëls sal die stad se poging om die gasvryheid- en toerismebedryf te red van voor af kniehalter.

Vos beaam ook Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, se beroep dat die entstowwe vinniger beskikbaar gemaak moet word. Hy sê die regering moet ook oorweeg om werknemers in die openbare sektor, soos kleinhandel en gasvryheid, vir die entstof te prioritiseer.

“Die entstof is die kragtigste wapen in ons stryd teen Covid-19 en die doeltreffendste manier om die ekonomie te laat herleef en te bou.”

Vos sê die stad sal intussen voortgaan om nou saam met die betrokkenes in die toerismebedryf te werk om strategieë te implementeer wat die ekonomie aan die gang sal hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Wilhelm ·

Dit lyk asof die DA glo dat as hulle net mooi vra dan sal die ANC toestem.

Fritz ·

Hopelik niemand nie. Belaglike wette en regulasies verdien om geïgnoreer te word.

Annamarie ·

Snaaks dat koper kabels juis na 12 snags geknip word, in my dorp.

VaalDonkie ·

Kyk, ek stem saam en alles, maar hoekom loop suip mense nie net vroeer nie?

jzjz05 ·

As iemand my kan oortuig met feite dat carona gekeer sal kan word met n aandklokreel ek saam sal stem.in die nag is daar baie minder mense op straat wat kan aansteek die paar in n restaurant is n druppel teen die in die dag..

Janneman ·

Die restaurante is nie die probleem nie. Die kuier plekke is. Na paar sopies kan mens nie meer oordeelkundig dink nie en dis wanneer daar nuwe infeksies kan plaas vind.

Barend ·

Die Kaap se restaurant besigheidsure is ander as die res van die land ondat die Son later daar onder gaan. Ek kan sien dat hulle daar later wil oopbly.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.